Riette Rust se Ek! Ek! Ek! Herken en hanteer narsiste is nou op die rak. In dié boek kyk sy na als oor narsiste: van werkgewers wat narsiste is tot bekende narsiste.
Hier is ‘n uittreksel van ‘n hoofstuk oor narsistiese mans.
Dít kan jy van jul verhouding verwag
‘n Narsis voel geweldig leeg en ‘n verhouding, oftewel iemand anders se liefde en bewondering, sal dié leegheid vul, dink hy. Maar dis nie al rede vir ‘n verbintenis nie: Só maak hy seker daar is altyd iemand om mee seks te hê, sy ego te streel en om enige ander behoefte wat hy het, te vervul.
Maar, nes met ‘n dwelm, is die fix tydelik. ‘n Selferkende narsis beskryf die hunkering só: “Dis asof my brein heeltyd na iets soek. Dis soos om voortdurend ‘n wortel wat aan die punt van ‘n stok hang, te jaag. Niks wat ek doen, vervul my behoeftes nie.”
Hy sien sy plek in die wêreld só: “Dit voel asof ek dinge doen net omdat ek veronderstel is om dit te doen, omdat die samelewing dit doen. Ek voel of ek nêrens hoort nie, ook by niemand nie.”
3 lesers kan die Riette se boek wen. Klik hier om in te skryf
As jy ‘n verhouding met ‘n narsis het, kan dit só lyk:
- Jy sal nooit die eerste plek inneem nie, alles sal altyd oor hom gaan.
- Vergeet van intimiteit, nabyheid of warmte.
- Jy sal nie empatie kry nie; hy kan homself nooit in jou posisie indink nie.
- Hy kan eenvoudig nie gevoelens peil nie, daarom sal jul verbintenis nooit diep kan wees of jy ware liefde kan ervaar nie.
- Jy is sy trofee. Hy sal jou aanmoedig of liewer subtiel dwing om mooi aan te trek, te oefen en gewig te verloor. Sy beeld is op die spel.
- Hy is jaloers en kompeterend, selfs met jou. Jy sal niks beter as hy mag doen, uitstyg tot ‘n hoër loopbaanposisie of meer as hy mag verdien nie.
- Hy sal elke argument wil wen. Wanneer hy in ‘n hoek gedryf voel, sal hy op die verdediging wees en woedend reageer.
- Hy sal jou vriende en familie sover moontlik van jou vervreem.
- Hy sal jou manipuleer, soms so subtiel dat jy dit nie eens agterkom nie. Die ongetroude Jan Volschenk*, ‘n selferkende narsis, sê: “Ek soek weerlose vroue uit en vervul hul behoefte aan deernis, ontferming en vertroue. Ek sê vir hulle presies wat hulle wil hoor. Ook dat hulle spesiaal is. Sodra hulle my vertrou, vertel hulle my van hul verlede. Hulle dink ek is die een of ander god. Hulle sal enigiets vir my doen, finansieel, seksueel, alles! Die beste hiervan is dat ek ‘n magtige, emosionele houvas op hulle het. As ek sou wou, kon ek met die kennis wat ek het hulle so depressief maak dat hulle selfdood sal oorweeg. My houvas op hulle is eufories.”
- Hy sal vir jou lieg en geen berou toon nadat hy jou ontstel of seergemaak het nie.
- Jy sal permanent voel of jy op eiers moet loop, want om elke hoek en draai skuil ‘n moontlike woede-uitbarsting.
- Jy sal altyd onseker voel oor sy toewyding. Hy is in beheer, hy het die mag. En dié gedagte is sy narsistiese voedingsbron. Hy speel die spel wat hy glo liefde is: Een oomblik is hy gek oor jou, net om jou die volgende week heeltemal te ignoreer. Ander vroue sal altyd ‘n rol speel, of hy nou met hulle flirteer, of ‘n emosionele of seksuele verhouding het.
- Dreig jy om hom te verlaat, draai hy die sjarmekrane oop en maak of hy werklik omgee. Die “vertoning” gee hy net omdat jy die verhouding wil beëindig en nie hy nie. En dit laat hom soos ‘n verloorder voel. As jy hom enigsins “moeilikheid gee”, sal hy maklik en gou na sy volgende slagoffer aanbeweeg. En jy sal alleen agterbly met die vraag: Het ek my verbeel dat hy aanvanklik so gaaf, sjarmant en goedgemanierd was of het hy inderdaad verander?
Die drie fases
‘n Verhouding met iemand wat ernstige narsistiese trekke of ‘n narsistiese persoonlikheidsversteuring het, bestaan gewoonlik uit dié drie fases:
1 Hy idealiseer jou
‘n Narsis kies jou, sy teiken, sorgvuldig uit. Oor jou status. Jy moet aantreklik, gewild of op die een of ander gebied talentvol wees. Hoe hoër jou status, hoe meer waarde het jou narsistiese voeding vir hom.
Tydens die idealiseringsfase is sy vals self in aksie. Hy is liefdevol, sjarmant en opwindend. Die nuwe man in jou lewe sit jou op ‘n troontjie, en hoe heerlik is dit nie! Jy voel begeerlik en sexy. Hy erken dan selfs dat hy permanent aan jou dink en oorval jou elke dag met oproepe, besoeke of blomme. Jy leef op ‘n ander planeet, soos iemand wat ‘n liefdesdwelm gesluk het.
Die idealiseringsfase – jy word verhef tot iemand wat nie bestaan nie – duur net totdat die narsis doodseker is van jou liefde en toewyding. Dit kan etlike weke of maande duur. Selfs langer, indien julle mekaar nie gereeld sien nie.
In die fase hierna val sy masker ongelukkig af.
2 Jou waarde verminder
Die verandering kom geleidelik of skielik, maar onaangekondig. Dis asof iemand die bril waardeur jou geliefde na jou kyk, summier afruk. Die aandag waarmee hy jou oorweldig het, word deur stilte of ongeërgdheid vervang. Dae of weke gaan verby waarin jy niks van hom hoor nie. Laat jy ‘n boodskap, bel hy nie terug nie. Hy kom ook nie beloftes na nie. Jy vermoed selfs daar is iemand anders.
Jy is heeltemal verward en wonder: Wat het ek gedoen om dié drastiese verandering te veroorsaak? Niks. ‘n Narsis raak net gou en maklik verveeld. Die leegheid in hom tree in hierdie fase sterk na vore. Die high wat die dwelm – jou narsistiese voeding – hom gegee het, begin uitwerk en hy wonder: Is sy regtig wat ek wil hê? Want as sy regtig so spesiaal was, sou ek nie só gevoel het nie.
Jou geliefde raak humeurig, alles irriteer hom. Die kleinste foutjie, of verbeelde foutjie, word jou voor die kop gegooi. Hy verdwyn meer dikwels, hy is grafstil; dis sy poging om afstand tussen julle te skep. En hoe meer hy wegtrek, hoe harder klou jy. Jy hunker na die aanvanklike “wittebroodfase”. Jy soek aandag. Jy probeer ten alle koste verstaan wat aan die gebeur is. Dit alles werk erg op die narsis se senuwees. Hy kritiseer en blameer jou gedurig vir alles. En jy word sy emosionele slaansak.
Uiteindelik is jy ‘n wrak, want hoe kan jy een oomblik op ‘n troon sit en nou is dit asof jy dood is?
In hierdie stadium span die narsis projeksie in. Hy projekteer die emosionele warboel binne homself op jou. Jou ellende voed hom – solank h’y dit veroorsaak het.
Dít is die narsis: ‘n wrede, onverskillige, ongevoelige sadis wat agter ‘n masker skuil. Hy speel met opset sulke mind games.
Wees gewaarsku: Hy sal jou aanhou krummeltjies aandag voer, net genoeg sodat jy steeds emosioneel in hom kan belê. En ook kan spring wanneer hy jou nodig het.
3 Jy word verwerp
Hy soek ‘n nuwe uitdaging, jy kan dalk niks meer vir sy loopbaan beteken nie of jy het hom gewys op ‘n swak plek in sy mondering. Omdat jy nie meer vir hom waarde het nie, stoot hy jou eenkant.
Dit kom soos ‘n harde, seer hou; onverwags en uit die bloute. Wat jou absoluut verbyster, is hoe maklik en sonder skroom hy tot dié stap oorgaan. Asof jy absoluut niks vir hom beteken het nie.
Dit maak nie saak hoeveel keer jy hom daaroor uitvra nie, hoeveel keer jy om verskoning vra (al is dit nie jou skuld nie) of hoeveel keer jy smeek om terug te kom nie, jy sal nie die verhouding red nie. Hy sal dit doodeenvoudig nie wil bespreek nie en vere voel vir jou intense pyn. Jy sal bly wonder: Wat op aarde het gebeur? Hoe kon iets wat so wonderlik was so verkeerd geloop het?
Jy sal maar die gebreekte stukke moet optel. Maar onthou: Niks hiervan is jou skuld nie. Die narsis herhaal hierdie patroon met elke teiken in sy visier.
Wees net op jou hoede, want hy dink hy het die reg om by tye sommer weer in jou lewe op te duik. Hy sal bly krap in jou seer. As
jy uiteindelik losbreek, maak die deur tot enige kontak toe. Indien nie, stuur jy op ‘n afgewaterde weergawe van fase een af – oor en oor. En weer.
Die boek is in toonaangewende boekwinkels en by lapa beskikbaar
3 lesers kan die Riette se boek wen. Klik hier om in te skryf
Riette Rust