Aarbeitoffiespringmielies
6 groot aarbeie, stingels verwyder
25 ml (5 t) water
30 ml (2 e) botter of margarien
250 ml (1 k) suiker
80 ml mieliepitte
Aarbeitoffiespringmielies
6 groot aarbeie, stingels verwyder
25 ml (5 t) water
30 ml (2 e) botter of margarien
250 ml (1 k) suiker
80 ml mieliepitte
1 Maak die aarbeie saam met die water in ‘n voedselverwerker fyn tot ‘n puree. Meet 100 ml daarvan af.
2 Meng die 100 ml-aarbeipuree, botter en suiker in ‘n klein kastrol. Roer oor lae hitte tot suiker gesmelt is. Bring tot kookpunt en kook vir 5 minute.
3 Maak intussen springmielies en gooi dit in ‘n groot bak uit. Gooi aarbeitoffie oor en meng dit deeglik tot al die springmielies bedek is.
4 Sprei springmielies op ‘n bakplaat wat met bak- of waspapier bedek is en skei springmielies van mekaar. Laat dit heeltemal afkoel.
5 Verhit oond tot 180 °C en bak springmielies vir 5 minute voordat jy begin smul.
WENK Maak nog springmielies en bedek dit met gesmelte donkersjokolade. Meng dan die twee soorte springmielies vir ‘n smaaksensasie!
Suikerspringmielies
Dié soort springmielies word in Amerika kettle corn genoem en dit het ‘n heerlike soet-sout-smaak. Die suiker, wat ‘n lagie om elke springmielie vorm, is absoluut verslawend.
60 ml (¼ k) sonneblomolie
125 ml (½ k) mieliepitte
60 ml (¼ k) suiker
1 knippie sout
1 Verhit olie saam met drie mieliepitte in ‘n groot kastrol met ‘n deksel. Wanneer die springmielies gespring het, kan jy die suiker, sout en res van die mieliepitte inroer en deksel opsit.
2 Verlaag hitte tot medium en hou die pot aan die skud dat die suiker nie brand nie. Verwyder kastrol van die hitte wanneer jy net elke 2-3 sekondes een hoor spring en skud dan die kastrol tot daar niks meer gebeur nie.
3 Gooi springmielies in ‘n groot bak uit en laat afkoel.
Springmielies met speserye
100 g mieliepitte
90 g botter of margarien
5 ml (1 t) kaneel
10 ml (2 t) komyn
10 ml (2 t) koljander
5 ml (1 t) paprika
5 ml (1 t) sout
25 ml (5 t) suiker
2,5 ml (½ t) wilde-uisaad, fyngemaak (opsioneel)
1 Maak die springmielies en gooi in ‘n groot mengbak.
2 Terwyl die botter in ‘n pan smelt, gooi al die ander bestanddele in ‘n bakkie. Gooi dit by die gesmelte botter en kook dit vir 30 sekondes voordat jy dit oor die springmielies gooi.
3 Meng dit met ‘n lepel totdat al die springmielies bedek is.