? Ma en onderwyseres deel hul ervaring van Aspergers met ons in die 30 September-uitgawe.
Luisa van der Linde vertel hier meer oor die sindroom
Mense met Aspergersindroom …
- toon belemmering ten opsigte van sosiale interaksie
- is onsensitief vir nie-verbale kommunikasie
- het ‘n allesoorheersende, nou belangstelling
- kan roetine en belangstelling afdwing
- het ‘n monotone wyse van praat met weinig beheer oor volume en intonasie
- is motories lomp
- het merkwaardige langtermyngeheue
- is verbaal sterk met ‘n uitgebreide woordeskat.
As mense die eerste keer van Aspergersindroom hoor, dink hulle dikwels aan die rolprent Rain Man van Dustin Hoffman, waar die karakter al die nommers in die telefoonboek kon memoriseer en ingewikkelde wiskunde vinnig in sy kop kon doen. Sommige mense op die outismespektrum het wel sodanige savantagtige vermoëns, maar nie almal nie.
Party mense met Aspergers se IK is van laag tot hooggemiddeld, ander is weer besonder intelligent. Baie mense met Aspergers het spesiale belangstellings, van gloeilampe, busse, geskiedenis, wiskunde, musiek tot voëls (dikwels dinge wat gekategoriseer kan word). Hierdie spesiale belangstelling neem dikwels hul lewe oor, maar hulle behoort nooit gestuit te word om dit na te volg nie.
Deesdae is daar ‘n groot debat oor sogenaamde “hoogs funksionerende outisme” en Aspergersindroom.
Baie sê daar is geen verskil tussen die twee nie, ander dink daar is wel. In die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM) IV was die outisties-verwante kategorie bekend as die sogenaamde “Pervasive Development Disorders” (“Pervasive” beteken “deurdringend”, wat daarop dui dat dit lewenslank is en nie gesond gemaak kan word nie) en dit het die diagnose van “klassieke” outisme, Aspergersindroom en “atipiese” outisme ingesluit. Die nuutse DSM-V verwys slegs na “Outisme Spektrum Versteuring”. Ook die Wêreld Gesondheidsorganisasie se “International Classification of Diseases (ICD)” verwys na Outisme Spektrum Toestande (ASC’s).
Outisme of “Autistic Spectrum Disorder” (ASD) is ‘n komplekse en veranderlike ontwikkelingsgebrek, wat voorkom as resultaat van wanordelike breinontwikkeling en funksie. Dit beïnvloed die ontwikkeling van kommunikasievaardighede, sosiale interaksie en verbeeldingsvaardighede”.
VOORDELE VAN ASPERGERSINDROOM
* Hierdie mense is supergefokus as hulle in iets belangstel.
* Hulle beskik gewoonlik oor ‘n merkwaardige geheue en onthou dinge wat die res van die gesin reeds lank vergeet het.
* Hulle is betroubaar en lojale vriende.
* Hulle is selde gewelddadig (net soms wanneer hulle erg getart en oorgestimuleer word) en oor die algemeen gemoedelik.
* Hulle is individue en swig nie voor groepsdruk nie. Hulle gebruik dus selde drank, rook nie en raak nie betrokke by die gewone dinge waaroor die meeste ouers van tieners hulle bekommer nie.
* Hulle het ‘n ysere determinasie. As hulle hul kop op iets gesit het, sal hul aanhou tot dit bereik is. Moet dus nooit iets belowe wat jy nie kan uitvoer nie.
* Hulle het geen pretensie nie en steur hulle hoegenaamd nie aan status nie.