Jou kind se hartjie is so groot soos ‘n tweesentstuk. Hoe dissiplineer jy die sensitiewe siel?
Sophia* het ‘n agtjarige dogter wat baie van haar sesjarige seunskind verskil. “My dogter is ongelooflik sensitief. ‘n Mens kyk haar net kwaai aan dan is sy erg ontsteld en ek weet ek het al groot foute met dissipline gemaak. Ek kan haar en haar boetie glad nie dieselfde dissiplineer nie, want waar hy min gepla is oor harde woorde, tref dit haar diep.”
Sophia is nie verkeerd nie. Elaine Aron skryf in haar boek The Highly Sensitive Child as jy jou sensitiewe kind ontoepaslik dissiplineer kan die kind dit as ‘n aantasting van haar menswees ervaar. “Sensitiewe kinders is baie krities op hulself en dus is ouerlike kritiek so erg vir hulle.”
Kinders het meer as net reëls en bevele nodig om as spontane wesens te kan floreer, skryf dr Irene Strydom in Spontaneous Healing of the Child Client: A SHIPIC® Perspective.
“Inteendeel, die toepassing van te veel reëls en die gebruik van onwelvoeglike, pynlike en taktlose verbale kommunikasie kan kinders net soveel skade berokken as blootstelling aan fisieke gevaar omdat kinders nie oor die nodige vindingrykheid beskik om nie negatiewe kommunikasie as die waarheid te aanvaar nie.
“Ouers is meestal onbewus van die effek van negatiewe kommunikasie daarom is dit belangrik dat ons die manier van hoe ons met kinders praat, moet ondersoek,” skryf Irene.
Rebecca Eanes is die stigter van die webwerf positive-parents.org en die skrywer van drie boeke. Sy skryf dat sensitiewe kinders hul gedrag en foute só ontleed dat hulle hulself inderwaarheid straf.
Rebecca gee dié wenke
1. Wees versigtig met woorde Dit mag oukei klink om vir jou kind te sê “Jou stout kind” of “Hoekom kan jy dit nie net reg doen nie?” maar vir ‘n sensitiewe kind, kan dit vernederend wees.
2. Pasop vir terg Sarkasme kan vir die soort kind baie erg wees.
3. Vermy fisieke dissipline
4. Moenie die kind isoleer of liefde van haar weerhou nie
5. Moet ook nie net toegee nie Liefdevolle dissipline sal jou kind wel help om sy of haar volle potensiaal te bereik.
6. Verander jou stemtoon
Vir sensitiewe kinders sal ‘n ernstige stemtoon genoeg kastyding wees aangesien hulle jou so graag wil behaag.
7. Moenie bedreigend wees nie
Jou kind (sensitief of nie) moet te alle tye van jou liefde verseker wees en moet weet dat jy hom of haar sal help om probleme op te los.
8. Tyd in in plaas van tyd uit
Dis nie ‘n goeie idee om sensitiewe kinders weg te stuur nie. So ‘n kind sal kalmeer as jy hom of haar net na ‘n kalmerende omgewing toe vat en steeds in die omtrek is.
9. Maak seker gevolge is toepaslik
As jou kind ‘n groot reël verbreek het, kan ‘n logiese matige gevolg genoeg straf wees. Maak egter seker dat niks vernederends is nie.
10. Dissiplineer positief
Positiewe bevestigings, aanmoedigende woorde en gefokusde aandag sal jou kind ná dissipline laat besef dat hy of sy steeds geliefd is.
BRONNE: http://www.creativechild.com/articles/view/disciplining-the-sensitive-child
Spontaneous Healing of the Child Client: A SHIPIC® Perspective