Jy moenie die heilsaamheid van eiers onderskat nie
Jy moenie die heilsaamheid van eiers onderskat nie
Eet jou eier per dag, maar sny die eintlike boosdoeners, nl versadigde en transvetsure uit, deur minder diep gebraaide kos, koekies, pasteie, fyngebak en vetterige vleis te eet. Eet liewer heelgraanprodukte, vrugte, groente, peulgroente, vis en laevetsuiwelprodukte en jou kop is deur, sê Madeleine de Villiers, geregistreerde dieetkundige van die Suid- Afrikaanse Eierbedryf.
EET EIERS VIR ’N SLIM BABA Cholien is ’n voedingstof wat breinontwikkeling in die fetus en pasgeborene bevorder en die geheuefunksie tot in die ryper jare ondersteun. Eiers is ’n uitstekende voedselbron van cholien en een eier per dag voorsien 28% van ’n swanger vrou se behoefte aan cholien. Cholien is uiters belangrik tydens swan g er skap en borsvoeding wan neer die reserwes uitgeput kan raak. Dit is ter selfdertyd die deurslaggewende tydperk vir fetale breinontwikkeling en lewenslange geheuebevordering. Ma’s, die boodskap is duidelik: maak ’n lewenslange belegging en eet jou eiers!
EIERS EN JOU OË ’n Gesonde inname van eiers, spinasie en broccoli hou verband met ’n opmerklike afname in katarakte (tot 20% minder) en ouderdomverwante lens- en retinale degenerasie, die vernaamste oorsaak van blindheid by bejaardes (tot 40% minder). Eiers is ’n goeie bron van die antioksidante luteïen en seaxantien, wat ’n belangrike rol speel om die oë gesond te hou. Dit akkumuleer in die oog waar hierdie voedingstowwe beskerming bied teen party soorte skadelike hoë-energie-golflengtes van lig. Dit is dus belangrik om regdeur die lewensiklus genoeg luteïen en seaxantien in te kry.
PROTEÏENKRAG MET EIERS Proteïen is een van die be langrikste elemente van ons dieet. Ons liggaam gebruik proteïen om nuwe weefsel te bou en ou weefsel te herstel. Eiers is bobaas wanneer dit by die voorsiening van proteïen van hoë gehalte kom. Aminosure is die boublokke van proteïen. Nege van hierdie aminosure kan nie deur die liggaam vervaardig word nie en moet deur die dieet verskaf word. ’n Volledige proteïenvoedsel bevat genoeg van hierdie nege noodsaaklike aminosure om groei te bevorder en liggaamsweefsel in stand te hou. Eier-, melk- en vleis(ook pluimvee en vis)- proteïen is almal volledige proteïene, maar eierproteïen is van die hoogste gehalte, met ’n telling van 100. In vergelyking met eiers, is die telling vir melk 93 en vis en beesvleis s’n 75. Een eier het ongeveer dieselfde proteïeninhoud as 30 g gekookte vleis, vis of pluimvee. En benewens die feit dat eiers die veelsydigste en beste proteïenbron in ons dieet is, is dit ook die goedkoopste.
EIERS EN CHOLESTEROL Eiers het meer as 25 jaar lank baie slegte publisiteit gekry. Daar is gesê eiers dra tot hartsiektes by en wanneer dieetaanbevelings gedoen is, is daar algemeen aanvaar “dieetcholesterol is gelyk aan bloedcholesterol”. Danksy volgehoue navorsing is aangetoon die matige inname van voedsel met ’n hoë cholesterolinhoud, soos eiers, het geen noemenswaardige uitwerking op die risiko vir hartsiekte nie. Die Amerikaanse Hartvereniging het hul voedselriglyne hersien en laat ’n eier per dag in die dieet toe mits die res van die daaglikse cholesterolinname beperk is. Die Australiese en Nieu-Seelandse voedselriglyne stem met hierdie aanbeveling ooreen.