“Waarheen het die tyd gegaan?” As jy jouself gereeld moet afvra hoe die ure van jou dag so ongesiens verbygeglip het, kan ‘n meer aandagtige lewensbeskouing jou dalk net help om nuwe waardering vir jou tyd te kry.
Mindfulness, oftewel aandagtigheid, is deur die wetenskaplike, skrywer en meditasie-afrigter dr John Kabat-Zinn in die hoofstroom van ons kultuur ingebring.
Charl Hattingh, ‘n kliniese sielkundige van Kaapstad, se kliniese werk is in aandagtigheid gesetel.
Hy verduidelik aandagtigheid is ‘n manier van lewe.
“Dit is ‘n ingesteldheid van werklik wakker wees en die wêreld sien soos dit is; met ‘n ingesteldheid van deernis vir jouself en andere, nie-beoordelend en goedhartig.”
Volgens Charl is dit ‘n wanpersepsie dat die doel van aandagtigheid is om jou ‘n gevoel van algehele vrede te gee. Dit ís wel dikwels ’n uitvloeisel, maar die doel is eintlik om dinge duideliker te sien vir wat dit is en nié vir wat jy wil hê dit moet wees nie.
So ’n lewensaanslag help jou om sinvol, eerder as bloot outomaties, op die lewe se uitdagings te reageer.
Een van dié uitdagings is die gevoel dat ons bloot nie genoeg tyd in die dag het om alles gedoen te kry nie en dat die lewe in ‘n oogwink verbyflits.
Charl het dié voorstelle vir ‘n meer aandagtige inslag:
- “Beoefen daagliks aandagtigheidspraktyke soos joga en meditasie. Dit kan moeilik wees om so ’n gewoonte op eie stoom aan die gang te kry, daarom is dit nuttig om die bal met ‘n beginnerskursus aan die rol te kry.”
- “Laai ’n app soos Headspace op jou foon af, wat jou leiding kan gee in kort meditasies wat jy sommer tussen jou werk kan inpas.”
- “Stel ’n kennisgewing op jou foon om ’n paar keer per dag vir drie minute op jou asemhaling te fokus. Maak jou oë toe en voel hoe die asem in en uit jou liggaam beweeg. Vestig al jou aandag hierop. As jou gedagtes na jou dagtaak of wat ook al begin dwaal, bring jou aandag eenvoudig sagkens terug na die gevoel in jou longe, keel of neus, sonder om jouself te oordeel dat jy afgedwaal het – dit is wat gedagtes doen, dit dwaal, en daar is niks daarmee verkeerd nie. Bring die aandag keer op keer terug.
“Feitlik al my pasiënte sê die eerste keer nadat hulle dit gedoen het hoeveel kalmer hulle voel.” - “Gaan doen ’n kom-tot-jou-sinne-uitstappie in ’n tuin. Kyk na die blomme asof jy dit die eerste keer sien, ervaar die reuke, en voel die gras onder jou voete. As jou gedagtes dwaal, bring jou aandag na jou sintuiglike ervaring terug.”
- “Eet ’n aandagtige ete. Nie terwyl jy gesels of TV kyk nie, maar met jou aandag op jou kos. Fokus op die geure, smake, teksture en selfs die klank van die kos soos jy dit kou. En doen dit stadig. Let op na die verskil in jou gemoedstoestand voor en ná hierdie oefeninge.”
Besoek www.charlhattingh.com