Dr. Eileen Africa, ‘n Stellenbosse kinderkinetikus, is wat mens sekerlik ‘n koel ma kan noem. Hoe dan nou anders as daar ‘n trampolien in haar sitkamer is en haar kinders toegelaat word om die huis met hul fietsies te ry?
Sy het ‘n klompie vrae beantwoord.
Hoeveel tyd moet mens ná werk saam met ‘n kind deurbring?
Enige tyd wat jy met jou kind deurbring, is genoeg. Stel jou alarm vir 30 minute as dit al is wat jy het. Maar gee dan ál jou aandag sonder ‘n rekenaar, selfoon of televisie. Speeltyd is daar om verhoudings te versterk.
Is jy gekant teen tegnologie vir kinders?
Kinders hou van videospeletjie’s, ‘n tablet en televisie. Maar hulle hou ook van modderpoele en wawiele. Die menslike liggaam is gemaak om te beweeg. Ek sê nie tegnologie moet weggevat word nie; dit gaan oor balans. En uiteindelik oor daardie wonderlike kinderjare-herinneringe wat hulle moet koester.
Wat is jou raad aan pa’s as dit by die ontwikkeling van kinders kom?
Wees net beskikbaar. Pappas vind dit soveel makliker as mammas om met die kinders te speel. Hulle neem risiko’s met aktiwiteite wat mammas gewoonlik laat vrees dat die kind gaan val. Maar eintlik gee dit aan hulle ‘n sin van onafhanklikheid en prestasie. Pappas gebruik ook soms ingewikkelde terme, wat jou kinders se woordeskat onmiddellik verbreed.”
Wie is jou grootste rolmodel(le)?
My ouers, Kenny (die Wes-Kaapse verkeershoof) en Trudy (‘n afgetrede onderwyseres). Hulle is sulke onselfsugtige mense en my grootste steunpilare en ondersteuners. In hul oë kom hul kinders eerste.
My pa het verskriklik arm grootgeword en die leer van sukses stadig maar seker geklim omdat hy so ‘n harde werker is. Ek is gelukkig om in my generasie ‘n pa-figuur te hê wat liefde en vertroue uitstraal. Hy het altyd gesê sommige dinge is buite jou beheer, maar jy moet nooit moed verloor nie en struikelblokke takel. Dis jou houding wat jou sukses gaan bepaal en die vuur gaan laat brand vir nuwe hoop.
Waar het jy grootgeword?
Op Worcester as een van drie kinders. My ouer broer, Henry, is op 23-jarige ouderdom in ‘n motorongeluk oorlede. My jonger broer, Kenny jr, is ‘n polisiebeampte op die Kaapstadse Internasionale Lughawe.
Ons jongste dogter, Heike, is op my oorlede broer se verjaardag gebore. Dis baie spesiaal. Haar naam is ‘n Duitse afleiding van sy naam.