Maak asof jy verstaan wat jou kleinding sê en gesels land en sand terug en jy sal sien hoe hy of sy floreer
‘n Nuwe studie wat in die joernaal Infancy gepubliseer is, sê as jy na Baba se goegoe-gagga luister en in gesprekstrant teruggesels, kan dit sy of haar taalontwikkeling versnel.
Navorsers aan die Universiteite van Iowa en Indiana het ‘n groep ma’s en hul babas tydens ongestruktureerde speelsessies oor ‘n tydperk van ses maande dopgehou.
Die ma’s se reaksie op hul babas se gebabbel is in twee kategorieë verdeel: dié wat land en sand teruggepraat het en dié wat nie het nie.
Ná die opname moes die ma’s vraelyste oor hul kinders se spraakvordering voltooi het. Die babas met wie die ma’s gesels het, het merkbaar van die ander groep verskil.
Die babas het reeds geleer wat kommunikasie behels, sê die studieleier Julie Gros-Louis, ‘n sielkunde-professor aan die Universiteit van Iowa.
Dus, as jy maak asof jy verstaan wat jou baba sê en gevolglik reageer, help jy jou kind om die konsep van kommunikasie te snap en te leer dat stemme deel van sosiale interaksie vorm.
BRON: http://onlinelibrary.wiley.com/doi/10.1111/infa.12054/abstract