Wat is die geheim vir ‘n gesonde verhouding? Kommunikasie? Ons hoor dit so baie, maar is dit regtig só?
As ek en my man net met mekaar kon gesels, sal dinge beter gaan … Maar is dit werklik genoeg?
Wat is die geheim vir ‘n gesonde verhouding? Kommunikasie? Ons hoor dit so baie, maar is dit regtig só? Verhoudingsterapeute benadruk konstant die belangrikheid van kommunikasie in ‘n verhouding, maar jy kan jou blou praat, as iets nie werk nie, dan werk dit nie, sê Douglas LaBier, sielkundige en stigter van die sentrum vir progressiewe ontwikkeling in Amerika.
Paartjies soek dikwels raad oor hoe hulle hul kommunikasie kan verbeter in die hoop op ‘n beter verhouding. Daarom gaan hulle vir terapie, besoek werkswinkels en lees boeke oor kommunikasietegnieke, sê Douglas.
Hy sê as kommunikasie dan intiemer en liefdevoller verhoudings kan skep, hoekom vind so baie paartjies nie wat vir hulle werk nie?
“Goeie kommunikasie is eerder ‘n kenmerk van ‘n volhoubare verhouding en nie die bron daarvan nie.”
‘n Studie aan die Universiteit van Georgia het na die verband tussen kommunikasie en verhoudingsgeluk gekyk en bevind dat goeie kommunikasie nie alleen die vlak van bevrediging in ‘n verhouding beïnvloed nie.
Volgens die studie wat in die Journal of Marriage and Family gepubliseer is, gesels gelukkigste paartjies meer, maar dit is immers te verwagte. Hoe gelukkiger jy is, hoe beter sal jy tog kommunikeer, maar wat die navorsers wil duidelik maak, is dat die verhoudings nie gelukkig is as gevolg van kommunikasie nie.
Wat is dan nodig vir ‘n gelukkige verhouding?
‘n Studie wat in die Social Personality and Psychological Science gepubliseer is, noem dat paartjies gewaardeer wil word, hulle wil versorg en begryp word. As dit gebeur, is daar selfs fisieke voordele soos beter slaappatrone. Gelukkige paartjies ervaar selfs beter gesondheid. Douglas sê dis belangrik vir mense om openlik oor hul verwagtinge in ‘n verhouding te wees en werklik begrip vir mekaar te hê. Deel jy en jou maat dieselfde visie? Neem jy jou maat se gevoelens in ag?
Gee jou verhouding woema met dié 5 wenke
Die kliniese sielkundige dr Jacob van Zyl gee die volgende wenke in sy boek, Breek deur die grens:
- Moenie jou maat blameer vir dinge wat verkeerd loop nie, neem eienaarskap vir jou persoonlike probleme, aanvaar en hanteer dit.
- Maak tyd om regtig te hoor hoe dit met jou maat gaan. Gesels elke dag en behou kontak.
- Leer om in jou verhouding van “ons s’n” te praat. Werk as ‘n span saam na ‘n gesamentlike doelwit.
- Om te dink “dit is die enigste manier om dinge te doen” as dit by jou huwelik kom, kan jou duur te staan kom. Begin om by mekaar te leer en mekaar te verryk.
- Gesels oor seks en jul seksuele behoeftes.
Wat dink jy is belangrikste bestanddeel in ‘n verhouding?
Carien Grobler (36) van Krugersdorp: Humor
Petra Scholtz (67) van Randburg: Vertroue
Sandra Pienaar (23) van Johannesburg: Waardering
Christel Paulsen (61) van Westdene: Integriteit
Anlia van Zyl (35) van Randfontein: Daar is nie net een bestanddeel nie. Jy moet belangstel in mekaar se doen en late. Jy moet omgee vir jou maat en mekaar respekteer.
Natasha van Wyk (28) van Randburg: Empatie
BRON: Douglas LaBier, www.psychologytoday.com