Hierdie soort skryfwerk, fiksie wat op feite berus, word soms New Journalism genome
Hierdie soort skryfwerk, fiksie wat op feite berus, word soms New Journalism genome
In die vorige twee aflewerings is beskryf hoedat romanskrywers dikwels van ander literêre tekste gebruik maak en ook die geskiedenis, nuusgebeure of ander inligting betrek. Maar wanneer feite op ’n sekere manier met fiksie vermeng raak, kan ’n mens later eintlik beswaarlik nog na so ’n teks as ’n “roman”, as ’n literêre werk, verwys.
In John Miles se roman Kroniek uit die doofpot maak die skrywer van dokumente soos hofstukke, mediese verslae, verklarings en dokumente oor interne polisieverhore gebruik om die lewensverhaal van ’n swart polisieman, TJ Moleko, te rekonstrueer. Hy voer ook onderhoude met mense wat vir Moleko geken het, met familielede, vriende en kollegas, en besoek die plekke waar hy gewoon en gewerk het. Uiteindelik word hierdie inligting egter as ’n roman aangebied, nie as ’n biografie nie. Dit is fiksie (met talle metafore en tipiese verteltegnieke van die romankuns) wat op feitelike gegewens, op navorsing berus.
Die skrywer besef dat hy, ten spyte van sy deeglike navorsing, nie oor al die inligting beskik nie en daarom sê hy ook (die skrywer is self ’n karakter in die roman): “Die besonderhede wat ek nie kan uitvind nie, sal ek uitdink; ander se menings sal ek met my eie aanvul en my onkunde moet ek agter die seepgladheid van ’n storie verberg.”
Hy vertel uiteindelik die storie van ’n sersant in die Suid-Afrikaanse polisie wat, saam met sy vrou, op die aand van 30 November 1987 deur lede van die veiligheidspolisie vermoor is. Tydens die latere sittings van die WVK het twee voormalige lede van die veiligheidspolisie om amnestie vir hierdie moord aansoek gedoen.
Hierdie soort skryfwerk, fiksie wat op feite berus, word soms New Journalism genoem. New Journalism is tekste waarin feitelike gebeure in fiksievorm (die vorm van ’n roman of kortverhaal) weergegee word. Die outeur maak dikwels van sy eie ervarings of van betroubare dokumente of mededelings van ander gebruik, waaruit dan nie ’n bloot feitelike verslag, “objektief” soos in ’n koerantberig, geskryf word nie, maar wel ’n persoonlike weergawe daarvan. Talle van die tegnieke van fiksieskryfwerk, soos die doelbewuste skep van herhalende motiewe en metafore, dialoog, beskrywings van gebeurtenisse uit karakters se persoonlike waarnemingspunte, en dies meer, word aangewend.
Hierdie soort skryfwerk was een manier waarop ’n skrywer soos Miles tydens die noodtoestand, ten spyte van die streng wetgewing teen enige verslaggewing oor die dade van die veiligheidspolisie, verslag kon lewer oor wat in die land gebeur. In ons tyd geld daardie soort wette nie meer nie, maar daar is oënskynlik steeds ’n toename in werk wat beswaarlik nog as fiksie beskryf kan word. Dink byvoorbeeld aan Antjie Krog se ’n Ander tongval. Hierdie werk is moeilik om te tipeer: Dit is ’n mengsel van onder meer die essay, outobiografie, joernalistieke verslag, navorsing, reisverhaal en poësie.
Die voordeel van hierdie soort mengvorms is dat die lesers daarvan nie beperk is tot slegs diegene wat van gedigte of romans hou nie. In hierdie mengvorme word die tradisionele grense van fiksie oorskry in ’n poging om ’n wyer leserspubliek te bekom en om ’n impak op die groter samelewing te maak.