In hierdie vyfde aflewering oor styl kyk Willie Burger na die werk van Marlene van Niekerk en ritme in die prosa
In hierdie vyfde aflewering oor styl kyk Willie Burger na die werk van Marlene van Niekerk en ritme in die prosa
Baie mense dink ritme is net in poësie belangrik. In prosa, so vermoed hierdie mense, steun die skrywer op die storie eerder as op die ritme van die sinne. Tog speel ritme ’n sentrale rol in talle prosaskrywers se werk. In ’n vorige aflewering het ek geskryf oor die lang, deinende sinne van Karel Schoeman en beweer dat ’n mens die ritme van sy prosa eers begin waardeer as jy sy werk hardop lees. ’n Ander skrywer in wie se werk die ritme ook besonder opval, is Marlene van Niekerk. Kyk byvoorbeeld na die onderstaande sin uit haar roman Agaat. Hierin verduidelik Agaat aan Jakkie hoe ’n mens borduur:
Jy rek dit en trek dit en bind dit tesame, het jy gesê, jy boor dit en prik dit en vang dit en glip dit, jy gly dit in garingdraadrame, jy hou dit en bou dit, verdik en verdun dit, jy kleur dit en bleik dit en trek dit weer uit, jy ryg op die stippel, jy spook met patroon, jy wikkel en spikkel in rye en gange, en strepe en bogies en bruggies en trappies, en kruise en speke van dakke en damme, jy spoor dit en vul dit en span dit in bane en kyk net wat word daar gemaak van die stof, ’n storie, ’n rympie, ’n prent vir die sloop, vir die sprei oor die bed, vir die slag om die mou, vir die doek op die tafel, vir die vierde rok van ’n vrou.
Die borduurproses word met talle werkwoordpare beskryf: rek en trek; boor en prik; vang, glip en gly; hou en bou; verdik en verdun; kleur en bleik; uittrek en ryg. Hierdie woorde gee enersyds ’n aanduiding van hoe ’n mens te werk gaan om te borduur, maar deur hulle telkens saam met “en” en “dit” te gebruik, verkry die sin ’n baie spesifieke ritme.
Boonop maak Van Niekerk telkens van rymwoorde gebruik. Die klankherhaling en ritme laat hierdie prosaparagraaf in die middel van ’n dik roman eerder na ’n rympie klink.
Uiteindelik verduidelik Agaat dat die geborduurde prentjie ’n storie vertel, dat dit ’n rympie is. Borduur word dus met die maak van ’n rympie en die vertel van ’n storie vergelyk, maar die verduideliking sélf is ook ’n rympie. Vroeg in dieselfde roman word beskryf
Ek verset my. Gee my ’n kans. Laat ek self probeer, ’n selfportret, ’n outobiografie, tyd en dae van Milla de Wet, die plek van haar oorsprong, haar omtrekke, op Grootmoedersdrift, haar erfplaas. ’n Eerlike gelykenis. Vanaf die spieël, oor my voete, langs die lengte van my verlamde lyf, tot in my kop. Tussen my slape, bokant my neus, agter die voorhoofsbeen, dáár. Ook in hierdie deel is ritme belangrik. Milla druk haar verset uit teen die beeld wat die spieël van haar gee. Die eerste kort stellings word in die slotsin deur ’n opeenstapeling van voorsetsels uitgebrei.
Só word wegbeweeg van die beeld in die spieël na wat binne Milla se gedagtes aangaan. Hierdie uitbreiding, wat telkens met ’n ander voorsetsel begin (vanaf, oor, langs, in, tussen, bokant, agter), is ’n ritmiese opeenstapeling wat opwerk tot ’n al meer spesifieke aanduiding.
In Anne Michaels se roman Fugitive Pieces beskryf ’n jong digter die krag van ritme in poësie as “the rut of rhythm that veers the mind”. Die ritme van die prosa kan eweneens die gedagtes meevoer. En ’n goeie skrywer, soos Marlene, gebruik hierdie kragtige manier om haar lesers