Die slotbladsye van romans moet met sorg gelees word, sê ons boekeredakteur Willie Burger
Die slotbladsye van romans moet met sorg gelees word, sê ons boekeredakteur Willie Burger
Van Wyk Louw skryf in een van die gedigte in Tristia: “Slotreëls is altyd sleutels meer as slotte.” Hierdie stelling kan op minstens twee maniere gelees word: Aan die een kant herinner dit ’n mens aan die gevoel wat jy dikwels aan die einde van ’n gedig kry: Wanneer jy die slotreëls lees, verstaan jy skielik die hele gedig. In hierdie geval is daardie slotreëls ’n sleutel om die voorafgaande reëls te verstaan. Maar ’n mens kan ook hierdie stelling verstaan as ’n aanduiding dat die slot geen sluiting bring nie, dat die slotreëls eintlik net nog verdere moontlikhede oopsluit.
Geen finale sluiting word deur hierdie slotreëls gebring nie, geen finale afeindiging is moontlik nie. Ons begrip is altyd voorlopig en daarom is ook die afhandeling van die gedig, die slotreëls daarvan, eintlik weer die sleutel tot ’n verdere verkenning. Eerder as afsluit, sluit die slotreëls oop.
Ook vir romanslotte geld al twee hierdie moontlikhede. Aan die een kant is daar dié soort romans waarin die intrige in die slot ontknoop word. Skielik, wanneer jy die laaste bladsye lees, daag dit by jou wat al die voorafgaande gebeurtenisse se betekenis eintlik was. Veral populêre romans eindig dikwels met ’n klimaks en afloop waarin al die los punte van die verhaal vasgemaak word. In die klassieke speurverhaal word die sleutel tot die hele roman juis vir die slot gebêre. Hier, in die enkele bladsye voor die einde, word onthullings gemaak, die leser word verras, en in goeie verhale kry jy hier inligting wat, as jy mooi terugdink, al lankal vir jou die slot kon voorspel, maar jy het dit net nie raakgesien nie.
Hierdie soort romans eindig dikwels met die vastrek van die skurk sodat die goeie orde weer herstel kan word. Boosheid word oorwin. Of dit eindig met ’n huwelik waarmee bevestig word dat die ware liefde alles oorwin. Dikwels eindig dit met ’n geboorte wat aantoon dat daar hoop vir die toekoms is, en soms ry die held alleen weg na ’n nuwe avontuur wat agter die horison wag. Hierdie soort slotte bring ’n gerusstellende sluiting.
Alle slotte is egter nie so nie. Aan die ander kant is daar romans waarvan die slotbladsye wel die roman tot ’n einde bring, maar wat geen sluiting bring nie. In hierdie romans word lesers nie met antwoorde gekonfronteer nie en word opvattings nie bevestig nie. Deur die leeservaring, deur die ervaar van ’n ander, fiktiewe werklikheid, word lesers gelei om saam te dink en te wonder, en die slot daag jou uit om jou eie idees te bevraagteken, om aspekte van die wêreld te bevraagteken. Hierdie soort romaneinde het die manier om nog lank by ’n mens te bly spook.
Soos wat sommige romans met ’n proloog begin, is daar ook romans wat met ’n epiloog eindig. Heel dikwels maak die verhaal klaar, sluit af, en dan volg daar ’n epiloog waarin die gevolge van die verhaal bedink word – hoe alles jare later afgeloop het. In Marlene van Niekerk se Agaat is die epiloog Jakkie se gedagtes oor alles wat op die plaas gebeur het. Milla is reeds dood, haar hele verhaal is vertel, en dan volg die epiloog waarin Jakkie opnuut oor alles nadink. In hierdie epiloog word onthullings ook gemaak – die verhaal wat Agaat oor haarself vir Jakkie vertel, is die enigste keer in die hele dik roman wat sy eintlik self aan die woord kom.
Die slotbladsye van romans moet met sorg gelees word. Aan die een kant kan dit al die los drade bymekaarbring en jy wil niks daarvan misloop nie. Maar aan die ander kant is daar romans wat juis in die slotte sleutels gee wat verdere nadenke oopsluit, wat veelduidige, moontlike maniere van verstaan oopsluit.