Willie Burger verduidelik hierdie week
die rol van die skrywer as towenaar
Willie Burger verduidelik hierdie week die rol van die skrywer as towenaar
In resensies en in kursusse oor letterkunde lees en hoor ’n mens dikwels van literêre tendense soos “realisme”, “modernisme”, “postmodernisme”, “poststrukturalisme”, “betrokkenheid”, “denkskole”, “postkolonialiteit”, “gender”, “feminisme”, “identiteitspolitiek” en derglike “-ismes” en idees. Die beroemde Russies-gebore romanskrywer Vladimir Nabokov het by geleentheid opgemerk dat hy nie met sy studente hieroor wil praat nie. Hy het geglo die “betowering” van die literêre werk moet sentraal staan wanneer ’n mens lees.
Nabokov is veral as romanskrywer bekend en die meeste mense ken hom vir sy beroemde roman Lolita. Hy het sy eerste nege romans in Russies geskryf voordat hy later in die VSA gaan woon en in Engels begin skryf het. Ná die sukses van Lolita het hy hom in Switserland gaan vestig. Nabokov was nie slegs romanskrywer nie, hy was ook ’n erkende entomoloog en het ’n groot deel van sy lewe aan navorsing oor vlinders gewy. Hy het ook by verskeie universiteite kursusse oor die letterkunde aangebied. In die inleiding tot sy Lectures on Literature, ’n bundel opstelle oor verskeie klassieke literêre werke, skryf hy dat ’n mens moet oppas vir groot idees oor romans, die kategorisering van romans of die besprekings van hul ontstaanstydperke en die omstandighede van hul publikasie, omdat hierdie soort opmerkings dikwels veralgemenings is, wat later sommer dieselfde is oor elke roman.
Veel eerder behoort die leser, volgens Nabokov, in die eerste plek na die fyn besonderhede van die roman op te let, voordat daar na bestaande veralgemenings gekyk word. Soos hy dit stel: “There is nothing wrong about the moonshine of generalization when it comes after the sunny trifles of the book have been lovingly collected. If one begins with a ready-made generalization, one begins at the wrong end and travels away from the book before one has started to understand it.”
Hy redeneer dat dit onregverdig teenoor ’n roman en die outeur daarvan is as ’n mens byvoorbeeld Madame Bovary begin lees met die veronderstelling dat dit oor ’n verdoeming van die kleinburgerlike lewe gaan. As ’n mens ’n roman só benader, sien jy nie die fyn besonderhede van die spesifieke roman self raak nie. Nabokov redeneer dat ’n mens ’n skrywer vanuit drie hoeke kan beoordeel: as ’n storieverteller, as ’n onderwyser, en as ’n towenaar:
Die skrywer as storieverteller vermaak ons, maak dit vir ons moontlik om na ander wêrelde en tydperke te reis. Die skrywer as onderwyser gee vir ons inligting: oor die Boereoorlog of oor die townships of oor Istanbul. As onderwyser kan die skrywer ook vir ons morele lesse gee, van politieke standpunte oortuig en selfs profetiese insigte bied. Die skrywer as towenaar wend die goëlkragte van styl, beelde en patrone in sy/haar werk op só ’n manier aan dat die leser deur die woorde betower word. In die werk van ’n werklike groot skrywer versmelt hierdie drie aspekte. Só ’n skrywer verdien ’n leser wat sy of haar vooroordele ten minste tydelik kan opskort en wat deur die klein dingetjies in die roman betower word, ’n leser wat nie by voorbaat deur idees oor kolonisering of gender of klas