In die eerste aflewering van ‘n nuwe reeks fokus Willie Burger op Don Quixote, wat dikwels as die eerste werklike roman beskryf word
Iewers in La Mancha, só begin die roman Don Quixote deur Miguel de Cervantes uit 1607, het ’n man van ongeveer 50 jaar oud só baie boeke oor ridders gelees, dat dit sy verstand benewel het en hy besluit het om self ’n ridder te word.
Algaande het hy hom só in sy boeke verdiep dat hy snags van skemer tot dagbreek gesit en lees het en bedags van sonop tot sononder; en van die min slaap en baie lees het sy harsings toe later opgedroog. Sy verbeelding het hy gevul met al die dinge wat hy in sy boeke gelees het, betoweringe, gevegte, veldslae, uitdaÂgings, wonde, hofmakery, liefde, lyding en allerhande ander bog; en mettertyd het hy só vas begin glo dat al dié versinsels louter waarheid was, dat selfs die geskiedenis nie daarby kon kers vashou nie.
En toe sy verstand nou heeltemal daarmee heen was, het die sonderlingste gier hom gepak wat ’n mal mens nog ooit in sy kop gekry het. Om self roem te verwerf en om sy land te dien, het hy besluit om ook ’n dolende ridder te word en die wêreld met perd en wapenrusting te deurswerf op soek na avontuur; hy sou die gebruike van die ou dolende ridders tot in die fynste besonderhede volg, alle soorte onreg herstel, en hom blootstel aan elke denkbare uitdaging en gevaar, sodat hy op dié manier ewigdurende roem kan verwerf.
Die roem wat Don Quixote verwerf het, het nie juis met die “ewigdurende roem†te doen wat hy in die vooruitsig gestel het nie. Hy wou onreg in die wêreld beveg en die vergange era van die ou dolende ridders herstel. Dit het hy nie juis op doeltreffende manier reggekry nie. Die verhaal van die man wat windmeulens bestorm het onder die indruk dat hulle reuse is en wat skaaptroppe aanval omdat hy meen dat dit vegtende leërmagte is, tel egter onder van die beroemdste boeke in die wêreld.
Don Quixote word dikwels as die eerste werklike roman beskryf. In hierdie nuwe reeks (elke vierde week) word ’n storie van die romankuns vertel.
So baie wyd uiteenlopende tekste word romans genoem, dat dit eintlik baie moeilik is om presies te definieer wat met die begrip, “roman†bedoel word.
Waar weergawes van die begrip “roman†in Afrikaans, Nederlands, Duits en Frans gebruik word, word verskillende vorms van die woord “novel†in Engels en Italiaans gebruik om na dieselfde soort prosawerke te verwys. In hierdie twee benamings, “roman†en “novelâ€, is reeds twee belangrike eienskappe van die roman merkbaar: Die woord “roman†is van “Romaans†afgelei. Romaans verwys na die volkstaal, die gewone spreektaal, teenoor Latyn as die taal van Europese geleerdes waarin hoofsaaklik tot die 12de eeu geskryf is. Die roman was dus aanvanklik juis die populêre literêre vorm waarin die alledaagse lewe van gewone mense in die volkstaal uitgebeeld is.
“Novel†dui weer op die varsheid, nuutheid en oorspronklikheid van die roman, waaruit iets van die rol van die fantasie, die kreatiewe skepping van nuwe, moontlike wêrelde blyk.
Teen die tyd wat Don Quixote besluit om ’n dolende ridder te word, was die tyd van ridders reeds verby. Daarom word hy ook in die aangehaalde paragrawe hierbo as “mal mens†beskryf. Die wapenrusting wat hy uiteindelik opdiep en aantrek, is al uitgedien. Sy idees en verwagtings van die wêreld is ook uitgedien. In Don Quixote word met die ridder se mal idees en optrede gespot, maar dit gaan om veel meer. Die roman, waarvan die eerste deel in 1607 verskyn het, verken juis die besef van ’n hele wêreldorde wat aan die verbygaan is en ondersoek die nuwe wêreld – ’n wêreld waarin konings en kerke ’n al kleiner rol sou speel.
Don Quixote vertrek op sy avontuur in ’n wêreld wat hy nie werklik ken en verstaan nie. Hy ken slegs die wêreld van die ridders soos wat hy dit in romanses leer ken het. Die waardes, wat waar, goed en reg is, die betekenis wat aan alles deur ’n oorheersende kerk en koningshuis, as godgegewe setels van gesag, toegeken is, word uiteindelik in hierdie roman ondersoek.
Die romankuns se ontstaan word met die opkoms van die moderne era geassosieer. Die aanbreek van die sogenaamde “moderne era†word gewoonlik aan die Protestantse hervorming gekoppel. Martin Luther het op 31 Oktober 1517, met sy 95 stellings oor die Rooms-Katolieke Kerk, onbedoeld ’n nuwe era ingelui. Die godsdiensrewolusie van die 16de eeu het tot die einde van die kerk se oorheersing oor staat en gemeenskap gelei en tot groter klem op individuele vryheid aanleiding gegee.
In hierdie omstandighede het die roman as kunsvorm, wat juis individuele vryheid vier, tot stand gekom. Vk