Willie Burger kyk in dié week se uitgawe na die agtergrond van ons letterkunde
Willie Burger kyk in dié week se uitgawe na die agtergrond van ons letterkunde
“Hoekom wil julle resensente alewig politiek in die letterkunde inbring?” vra iemand my by ’n leeskring. “Kan ’n gedig of ’n roman nie maar net mooi wees nie?” ’n Ander vraagsteller sluit by haar aan: “En hoekom wil skrywers altyd die politiek insleep? Daar is so baie ander dinge om oor te skryf – oor die liefde of ons mooi land. Moet dit altyd oor politiek gaan voordat julle kritici dink dis goed?”
Natuurlik is daar baie aspekte van ons lewens wat nie op die oog af met politiek gemoeid is nie en natuurlik skryf skrywers en digters ook daaroor. Maar wat ’n mens altyd in gedagte moet hou by die lees van enige teks, is die omstandighede waarin dit geskryf is, asook die omstandighede waarin jy dit nou lees.
Die kunstenaar leef in ’n spesifieke tydperk onder spesifieke omstandighede. In hierdie tyd en onder hierdie spesifieke omstandighede heers sekere idees en verwagtings en bestaan daar sekere probleme in die gemeenskap. Hierdie omstandighede bepaal hoe die kunstenaar reageer op die wêreld waarin hy/sy leef. Afrikaanse skrywers skryf vanuit ’n spesifieke Suid-Afrikaanse konteks. Die Suid-Afrikaanse gemeenskap is ’n ingewikkelde samevoeging van mense met ’n wye verskeidenheid tale, kulture, godsdienste en gelowe. Die unieke vermenging van kulture, belange, opvattings, tale, idees en gelowe wat ons in hierdie land ervaar, is veral die gevolg van ons land se koloniale verlede. Saam met Europese koloniste het “moderniteit” na Suid-Afrika gekom. Met “moderniteit” bedoel ek enersyds die vinnige groei in natuurwetenskaplike kennis, die tegnologiese vernuwings en die gepaardgaande opkoms van geïndustrialiseerde en geadministreerde samelewings sedert die 18de eeu. Andersyds dui moderniteit ook op die verspreiding van talle idees wat in die Europese Verligting van die 18de eeu ontstaan het: idees oor individualiteit, oor burgerskap, oor rasionaliteit, godsdiens en wetenskap.
Hierdie “moderne” idees is dikwels direk in botsing met opvattings van die gekoloniseerdes. Boonop het die manier waarop Europese moondhede die kolonies bestuur het en die invoer en uitvoer van slawe asook sendelinge se pogings om die Christelike geloof oor te dra, ’n groot uitwerking op alle betrokkenes gehad waarvan die gevolge nie met die verkryging van politieke onafhanklikheid skielik gestop het nie.
Soos ander oudkolonies is Suid-Afrika op ingewikkelde maniere steeds aan die “noordelike” lande se politieke, kulturele en ekonomiese mag uitgelewer. Hoewel hierdie mag meestal as onderdrukkend ervaar word, is daar terselfdertyd in die oud-kolonies ook ’n begeerte om aan aspekte van die noordelike denke, lewensstyl en ekonomie deel te hê, om byvoorbeeld toegang tot die populêre (Amerikaanse) kultuur te hê. Reeds die eerste Europeërs wat as besoekers oor Suid-Afrika of as setlaars in Suid-Afrika geskryf het, was bewus van ’n spanning tussen hul bekende (moderne) Europese wêreld en die “vreemde” Afrika. Maar ook skrywers van ander groepe is bewus van ’n spanning tussen hul bekende Afrikawêreld en die vreemde moderne idees en tegnologie van die Europese inkommers.
Om egter bloot die premoderne teenoor die moderne te stel, is ’n oorvereenvoudiging van die (dikwels gewelddadige) kontak tussen talle groepe, tale en kulture in hierdie land. Die kontak op alle vlakke bepaal die skeppende skryfwerk van individue uit uiteenlopende groepe op verskillende maniere. Die kontak is altyd spanningsvol, want dit behels die oorneem van aspekte van ander kulture en die verlies aan aspekte van die eie kultuur. Sekere maniere van bestaan word bedreig en nuwe moontlikhede ontstaan. Eie beskouings word soms as “reg” aanvaar en pogings word aangewend om dit op ander af te dwing. Daar is dikwels ’n ervaring van verlies.
In hierdie omstandighede van durende konflik ontstaan alle literatuur in Suid-Afrika as ’n land wat steeds met die gevolge van kolonisering en modernisering gemoeid is.