In hierdie tweede aflewering oor styl kyk Willie Burger na Karel Schoeman-sinne
In hierdie tweede aflewering oor styl kyk Willie Burger na Karel Schoeman-sinne
In Karel Schoeman se roman Die uur van die engel besoek ’n TV-regisseur ná baie jare weer die plattelandse dorpie waar hy grootgeword het: Hy het vergeet hoe groot die ruimte en leegheid is, hoe groot die verlatenheid en eensaamheid en die swye; hy het vergeet hoe meedoënloos die winter hier is en hoe volslae die aftakeling wat dit meebring. Enige leser wat met hierdie skrywer se werk bekend is, sal dadelik hierdie sin uit baie ander as ’n Schoeman-sin kan eien. In die eerste plek is dit ’n taamlike lang sin en Schoeman het ’n voorliefde vir die lang sin. Baie min mense skryf deesdae sinne wat uit meer as 30 woorde bestaan en daarom val hierdie een op. Hierdie voorbeeld is eintlik ’n korterige sin in vergelyking met baie ander tipiese Schoeman-sinne. Let op hoe dikwels die woord “en” in hierdie voorbeeld voorkom. Elke keer word nog ’n beskrywende woord toegevoeg. Aan die begin word gestel dat die karakter vergeet het hoe die ruimte van sy jeug is. Dit word eers as ’n groot ruimte beskryf, dan word “leegheid” bygevoeg, dan “verlatenheid”, “eensaamheid” en “swye”. Uiteindelik word toegevoeg dat die winter in hierdie groot leë, verlate en stil ruimte “meedoënloos” is en dat dit “aftakeling meebring”. Hierdie opeenhoping van beskrywende woorde volg elke keer op byna dieselfde inleidings: “hy het vergeet hoe groot …”, “… hoe groot …” en weer “hy het vergeet hoe …” In die retoriek word hierdie strategie “uitbreiding” genoem: ’n Stelling word gemaak. Dan word dit op ’n effens ander manier herhaal. En weer. En weer. Die effek daarvan is ’n beklemtoning van alles wat hy vergeet het. Wat ook van hierdie sin uit Die uur van die engel opval, is dat die opeengestapelde kwalifiserings van die ruimte nie, soos ’n mens normaalweg sou verwag, uit byvoeglike naamwoorde bestaan nie. Op skool leer ’n mens gewoonlik dat ’n selfstandige naamwoord verder deur byvoeglike naamwoorde beskryf word. ’n Mens sou dus verwag dat Schoeman die beskrywing van die ruimte sal aanvul deur die gebruik van byvoeglike naamwoorde soos “verlate”, “eensame” of “stil”, maar hierdie woorde word self ook as selfstandige naamwoorde ingespan, voorafgegaan deur die bepaalde lidwoord: “die verlatenheid en eensaamheid en die swye”. Op hierdie manier word nie net ’n bepaalde ritme aan die sin besorg deur die langer woorde nie, maar elke kwalifisering van hoe die ruimte is, word meer as bloot ’n byvoeging tot die aard van die ruimte, dit word trouens sélf die ruimte. Die ruimte is dus nie bloot verlate of stil of eensaam nie, die omgewing ís die eensaamheid self, ís die verlatenheid, ís stilte. Só word al hierdie emosiebelaaide woorde beklemtoon en die effek daarvan is om ’n veel sterker gevoel by die leser te ontlok. Verder is die keuse van ’n woord soos “swye” ook opvallend. Dit is ’n woord wat gereeld deur Schoeman ingespan word. Die landskap is nie bloot stil nie, is nie bloot in ’n soort neutrale toestand waarin geraas afwesig is nie. Die woord “swye” het ’n veel aktiewer konnotasie – asof iets doelbewus verswyg word. Dit is die moeite werd om Karel Schoeman se prosa hardop vir jouself voor te lees. Dan kom jy agter hoe die lang, deinende sinne, wat soms met geringe afwykings herhaal word, byna soos ’n inkantasie word. Elke prosawerk het ’n eie ritme, maar by Schoeman dra die ritme by tot die pogings om juis iets onder woorde te bring wat nie sonder meer uitgespreek kan word nie. Betekenis word byna soos musiek ervaar, eerder as iets wat presies in woorde vasgepen word.