Ons boekeredakteur Willie Burger kyk hierdie week na postkolonialiteit in die Suid-Afrikaanse konteks
Ons boekeredakteur Willie Burger kyk hierdie week na postkolonialiteit in die Suid-Afrikaanse konteks
In die vorige twee aflewerings is reeds aangevoer dat letterkunde in Suid- Afrika op die een of ander manier altyd óók gemoeid is met die feit dat Suid- Afrika eens ’n kolonie was. Niks in hierdie land (soos in die meeste ander Afrikalande) is onaangeraak deur die koloniale uitbreiding van Europese lande gedurende die afgelope 300 jaar nie. (Bloot die feit dat ek hier in Afrikaans skryf, ’n taal wat weens kolonisering ontstaan het, getuig hiervan.) Die begrip “postkoloniale studies” het eintlik eers sedert die 1970’s posgevat en dit is dikwels met die kulturele identiteit van gekoloniseerde gemeenskappe gemoeid.
Postkolonialiteit in letterkundestudies kan op die studie van die letterkunde van koloniseerders of op die letterkunde van die gekoloniseerdes gerig wees. Wanneer die koloniseerders se letterkunde ondersoek word, val die fokus op die maniere waarop hierdie letterkunde die koloniseringsproses geregverdig het. Die letterkunde van die koloniseerders dien uiteraard die koloniseerders se belange. In postkoloniale studies word ondersoek hoedat “kennis” oor gekoloniseerde mense in hierdie romans (maar natuurlik ook in reisverslae, dagboeke en selfs in sogenaamde “wetenskaplike ondersoeke”) geskep word deur die beeld wat van die “inboorlinge” voorgehou word. Dink maar byvoorbeeld hoedat die “inboorlinge” in Daniel Defoe se beroemde roman Robinson Crusoe voorgehou word as wreedaardig en irrasioneel, en hoedat klem geplaas word op die minderwaardigheid van hul godsdiens, mensbeskouing, kultuur en lewenswyse.
Die groot probleem is dat al die kennis oor die “ander” (die inwoners van die kolonies) deur die koloniseerders geproduseer word. Nooit kry ’n mens in die letterkunde van die koloniseerders dat die “inboorlinge” self vertel, hul eie saak stel of hul eie kultuur of gebruike verduidelik nie. Dit word alles sommer by voorbaat as minderwaardig afgemaak en daar word nie na die gekoloniseerdes geluister nie (soos ’n mens kan aflei uit onder meer die plekname – Tafelberg, Eersterivier, Stellenbosch, Robbeneiland, Hottentots- Hollandberge … Dit is duidelik dat die Nederlandse besetters aan die Kaap nie eers probeer het om uit te vind wat die Khoi-name vir hierdie plekke was nie!). ’n Mens kan deur die studie van koloniseerders se letterkunde sien hoedat alle kennis oor die nuwe land deur die koloniseerders geproduseer is. In sy roman Foe wys JM Coetzee juis uit hoedat die verhouding tussen Crusoe en Friday eensydig deur Daniel Defoe gehanteer is – en sodoende plaas hy klem op die uitsluiting van die stem van die “ander”.
Kennis oor die inwoners van Afrika is dikwels geskep uit die verwagting dat alles van Afrikane die teenoorgestelde van die (beter) Europeërs sou wees: wit teenoor swart, hardwerkend teenoor lui, rasioneel teenoor emosioneel, beginselvas teenoor losbandig, ensovoorts. Hierdie soort definiëring ten opsigte van teenoorgesteldes het ook tot die aanvaarding gelei dat die Europeërs ’n opvoedingstaak het – dat die inwoners van Afrika “the white man’s burden” is.
Postkoloniale studies fokus egter ook op die letterkunde wat deur gekoloniseerdes geskryf word. Veral die maniere waarop skrywers ná kolonisering ’n eie nasionale identiteit probeer skep en vier, kry aandag: ’n identiteit waarop gekoloniseerdes trots kan wees (in teenstelling met die minderwaardige manier waarop hulle altyd deur die oorheersers uitgebeeld is). Onlangs is die een van die eerste skrywers wat met hierdie artikulering begin het, dood. Chinua Achebe se roman uit 1958, Things Fall Apart, was een van die belangrikste pogings om ’n eie identiteit vir die gekoloniseerde uit te druk. Baie skrywers het hierdie voorbeeld gevolg en op verskeie maniere probeer om teen die idees van die Empire in te skryf.
Die ironie is dat skrywers soos Achebe juis in Engels geskryf het, die taal van die koloniseerders, en dat hy en ander skrywers juis romans skryf – ’n kunsvorm van die koloniale oorheersers. Baie skrywers, soos Achebe self ook, woon in stede soos New York of Londen. Hoewel dit ironies is dat dikwels juis in die taal van die koloniseerder geskryf word, in ’n kunsvorm van die onderdrukker, is dit ook waar dat die taal en die kunsvorm ingespan word om eie doelwitte te bereik en om die koloniseerder te ondermyn. Talle teorieë oor postkolonialiteit is ontwikkel en dit word dikwels in die stryd teen die gevolge van kolonisering ingespan. Dit is egter nie altyd moontlik om waterdigte onderskeid tussen die letterkunde van koloniseerders en gekoloniseerdes te tref nie. Die ingewikkelde situasie van veral die Suid-Afrikaanse letterkunde word volgende keer verder bekyk.