Willie Burger kyk na André P Brink se boek Bidsprinkaan
Willie Burger kyk na André P Brink se boek Bidsprinkaan
In André P Brink se roman Bidsprinkaan (2005) word ’n verhaal oor Kupido Kakkerlak vertel. Kupido Kakkerlak is nie sommer net ’n fiktiewe karakter wat Brink uitgedink het nie.
Dié Khoi-man het werklik geleef en hy het onder die bekende sendeling Van der Kemp tot bekering gekom. Hy het later die eerste Khoi-sendeling in diens van die Londense Sendinggenootskap geword.
In die roman trou Kupido met Anna Vigilant, ’n San-vrou wat beroemdheid verwerf het vir die gehalte van die seep wat sy gekook het. Sy het by boere op ’n plaas grootgeword nadat al die volwasse San-mans en -vroue van haar groep doodgemaak is en sy saam met ander kinders as werkers ontvoer is.
Die hoofstuk waarin die leser met Anna kennis maak, dra die titel: “Witter as sneeu”. Die titel roep die ou hallelujalied (nommer 494) se woorde op: “Witter as sneeu, ja, witter as sneeu, o was my en witter as sneeu sal ek wees.” Die implikasie van die woorde is dat mense, as sondaars, in die bloed van Jesus skoon gewas moet word om dan wit gewas, sonder sonde, voor God te kan verskyn.
As ervare seepkoker weet Anna dat seep geloog moet word om dit wit te kry. Alles wat nie wit is nie, moet weggebrand word sodat die seep so suiwer moontlik kan wees. Daarom verstaan sy die woorde van die sendelinge oor sondaars wat wit gewas moet word. Die woorde kry egter ’n ironiese betekenis wanneer sy hierdie metafoor letterlik verstaan. Anna en Kupido is nie een wit nie. Seep word geloog om dit so wit moontlik te kry, maar niks kan hul status as Khoi en San verander nie:
Alles wat nie spierwit is nie, moet weggebrand word. Dit is wat sy van wit mense ook dink, al is hulle nie danig wit nie, eerder pienkerig soos speenvarke of ’n koei se uier. Maar dis nog beter, hou sy vol, as mense wat bruin is. Want vandat sy as klein kind in die Boesmanland gevang is, het sy geweet: bruin is ’n ding wat jy nie wil wees nie. Jy kan daar niks aan doen nie, maar wees, wil jy dit nie wees nie (71). Uiteindelik beseer Anna haarself ernstig as sy in die seeppot klim in ’n poging om haarself wit te kry.
Op hierdie manier word iets van die effek van kolonisering duidelik. Europese setlaars het hul godsdiens en hul gewoontes, asook al hul metafore na die kolonies gebring en gevestig sonder om kennis van die gekoloniseerdes te probeer opdoen, sonder om na te dink oor die metafore of die effek van hul godsdiens of kultuur op gekoloniseerdes omdat hulle gewoon aanvaar het dat hulle “reg” of “beter” is.
Anna Vigilant word groot met die idee dat slegs “wit” goed is, ook dat slegs wit vir God goed is. En daarom verlang sy om wit te wees. Dit is een van die vernietigende psigologiese gevolge van kolonisering. Kolonisering kan nie slegs bedink word as die oorneem van ’n geografiese gebied nie. Dit behels nie net die oorwinnings op ’n slagveld, die verwoesting van eiendom en die gee van nuwe name aan plekke nie. Kolonisering het ook ’n ekonomiese sy: die inheemse, verowerde bevolking word nie toegelaat om tot die ekonomie toe te tree nie, behalwe as werkers of as slawe.
Van die werkers word ook verwag om die koloniseerder se taal aan te leer en hul eie tale word as minderwaardig ervaar. Ook hul eie “afgode” word as minderwaardig beskou en moet vir die “ware godsdiens” laat vaar word. Kupido Kakkerlak leer die tale van die koloniseerders (Nederlands en Engels) aan. Hy word bekeer en onder Van der Kemp as sendeling opgelei. Hy verkondig die Woord onder moeilike omstandighede. Hy dink dat hy aanvaar word deur mense en deur God, maar verloor later hierdie sekerhede wanneer hy agterkom dat hy steeds as tweederangs beskou word – as hy, soos Anna, besef dat hy nooit wit genoeg kan wees nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.