Ons boekeredakteur, Willie Burger, kyk dié week na postkoloniale teorie in die Afrikaanse letterkunde
Ons boekeredakteur, Willie Burger, kyk dié week na postkoloniale teorie in die Afrikaanse letterkunde
Namate denkers uit voormalige kolonies sedert die 1960’s toenemend die kans en mag gekry het om hul eie stemme te laat hoor, het verskeie teorieë oor die “postkoloniale diskoers” ontstaan. Al hoe minder is óór die mense in kolonies gepraat en al hoe meer het die gekoloniseerdes namens hulself begin praat. (Soms word na voorheen gekoloniseerde mense as die “subaltern” verwys, waarmee meestal bedoel word die onderdrukte nie-wit, nie-Westerse mense wat ondergeskik aan koloniale oorheersing is en was.)
Al die verskillende postkoloniale teorieë fokus eintlik op twee gevolge van kolonisering: Eerstens word ontmasker hoedat die koloniseerders (hoofsaaklik Europeërs) ’n beeld van (en kennis oor) gekoloniseerders bepaal het deur oor en namens hulle te praat. Tweedens word ondersoek hoedat die gekoloniseerdes hulself hierteen verset het – of selfs onbedoeld saamgewerk het deur ook oor hulself op dieselfde minagtende manier as die koloniseerders te dink. Op sommige van hierdie teorieë word drie “fases” in postkolonisering onderskei:
Eerstens is daar die pogings van die gekoloniseerdes om die oorheersers se beste kultuurprodukte na te boots en om sodoende te probeer wys dat “ons” hier in die uithoeke nie so agter die klip is nie. Onderdrukte kunstenaars probeer dus wys dat hulle ook so goed soos die oorheersers kan wees.
Op sigself is daar natuurlik nie fout te vind daarmee om te streef na uitnemendheid of om jou eie skryfwerk so goed as moontlik te probeer kry nie. Die probleem ontstaan wanneer alles wat eintlik kenmerkend van die eie kultuur is in die proses geïgnoreer word. Geen unieke, plaaslike, ander moontlike maniere van dink of vorms van uitdrukking word dan geskep om ’n unieke bydrae tot die wêreld se letterkunde te lewer nie, maar die nabootsings bied dieselfde bekende interpretasie van die oorheerser en het niks met die plaaslike omstandighede en die eie kultuur te doen nie omdat op hierdie omstandighede en kultuur neergesien word.
Wanneer NP van Wyk Louw byvoorbeeld ’n klassieke versdrama soos Germanicus skryf, kan dit gesien word as ’n poging om te “wys” dat dit in Afrikaans gedoen kan word, dat Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde dieselfde peil as die Europese letterkunde kan bereik. ’n Ander voorbeeld is hoe die Sestigers probeer het om Afrikaanse prosa op dieselfde peil as die “modernistiese” letterkunde van Europa te bring. Nie net kunstenaars nie, maar ook akademici en teoretici in Suid-Afrika gryp telkens die jongste “mode”-teorieë uit Europa of die VSA aan en probeer dan nie om eie teorieë te ontwikkel nie.
Waar daar soms nageboots word, gewens word dat “ons”, die gekoloniseerdes, net so goed soos “hulle”, die oorheersers, kan wees, is daar ook die soort letterkundige werke wat juis in verset teen “hulle” is. In hierdie werke word die klem geplaas op die “eie” en dit word aggressief teenoor die oorheerser gestel. Hieruit spruit die herhaalde “Afrosentrisme vs Eurosentrisme”-debatte in ons land. Die maghebber is boos en moet met alles beveg word. “Hulle dink ons is nie goed genoeg nie, maar eintlik is hulle nie goed genoeg vir ons nie en nou sal ons hulle wys!” Wanneer ’n mens só redeneer, steun ’n mens eintlik die onregverdige stelsel – jy het eintlik nie ’n probleem dat iemand baas en iemand Klaas is nie – solank jy net die baas kan wees. En die jammerte hiervan is dat die hele idee van baas en Klaas nie bevraagteken word nie.
In ’n ideale derde “fase” van die dekonoliseringsproses vind die onderdrukte dit nie meer nodig om die heerser na te boots nie, en ook nie om die hele tyd daarteen te veg nie. ’n Selfversekerde eie identiteit kom tot stand. Skrywers sal in so ’n fase nie meer nodig hê om hulself of hul eie kultuur teen elke prys te verdedig nie, maar kan hulself oopstel vir al die invloede (uit Europa en uit eie bodem).
Hierdie drie “fases” volg nie noodwendig op mekaar nie, maar aspekte daarvan kom gelyktydig voor. Terwyl dergelike teorieë wel nuttig is om die situasie in baie oudkolonies te beskryf, is die situasie van spesifiek Afrikaans ingewikkelder. Die Afrikaanse letterkunde was enersyds in verset teen die Britse/ Nederlandse kultuur en het dit probeer naboots, gebruik en oortref, maar terselfdertyd is Afrikaanse kultuur (en letterkunde) ook gevestig as ’n dominerende kultuur wat ander kulture uitgesluit het. Terwyl sommige Afrikaanse skrywers hul magsposisie in verset teen Afrikanerdominering gebruik het, is daar ook talle skrywers wat voorheen uitgesluit is wat Afrikaans op hul eie maniere gebruik om ’n eie identiteit te vestig