Daar is beslis geen verstaanresep vir ‘n roman nie!
Daar is beslis geen verstaanresep vir ’n roman nie!
Oor die afgelope paar jaar is verskeie aspekte van romans in ongeveer 30 van hierdie rubrieke bespreek. Die reeks rubrieke is juis “die storie agter die storie” genoem, omdat hierin gekyk word na “hoe stories werk”. In die proses om te probeer beskryf hoe stories werk, fokus ons op verskillende aspekte van hoe ons lees, hoe ons romans “verstaan”. Uiteenlopende aspekte soos romantitels, woordkeuse, die volgorde waarin gebeurtenisse gerangskik is en die weergee van fyn besonderhede is bespreek. Kortom, daar is gepoog om aan te toon hoedat elke klein aspek van ’n roman of kortverhaal tot die betekenis daarvan kan bydra. Maar te maklik kan ’n bespreking van al hierdie aspekte as ’n soort “interpretasieresep” vir die vind van betekenis beskou word. So ’n resep sou dalk só lyk: BESTANDDELE Titel Openingsin Karakters Plot Struktuur Ruimte Verwysingsvelde Taal en styl Vertellers O mstandighede waarin die roman ontstaan het Tema Romanslot Eie idees en ervarings na smaak METODE 1 Klits al die bestanddele saam, laat dit oornag in die onderbewuste en siedaar:
As jy eers hierdie resep gevolg het, kan jy maar die roman by die vlooimark gaan inruil of vir Hospice skenk. Die betekenis kan jy dalk in jou aantekeningboek gaan opskryf as ’n les wat jy geleer het, byvoorbeeld: “ek behoort meer menslik teenoor ander op te tree”, of die besef: “sjoe, daar is baie onreg in ons samelewing”.
Natuurlik het elke roman “betekenis”. En natuurlik lees ons ook om die een of ander betekenis te agterhaal. Ons kan byna nie help dat ons dit doen nie. Ons is daarop ingestel om alles wat ons waarneem, te probeer verstaan. Ons probeer altyd om verbande te lê tussen gebeurtenisse, om die oorsaak van ’n spesifieke gebeurtenis en die gevolge daarvan vas te pen en om sodoende onsself en ons wêreld meer voorspelbaar en hanteerbaar te maak.
Maar soos telkens in hierdie rubriek beklemtoon is, en soos enige romanleser uit ervaring ook goed weet, gaan dit nooit in die lees van ’n roman slegs oor hierdie betekenis nie. Geen goeie roman kan gereduseer word tot daardie lewenslessie, daardie stukkie betekenis wat jy, na toepassing van die resep, vasgepen het nie.
Die lees van ’n roman is veel meer as bloot die vind of skep van die betekenis daarvan. Dit is nooit reduseerbaar tot ’n enkele betekenis, ’n lewensles, ’n klompie inligting wat op ’n vermaaklike manier oorgedra is nie. Net soos wat die doel van musiek luister nie is om aan die einde van die liedjie te kom nie, lees ’n mens ook nie ’n roman om so gou moontlik by die einde (en die “betekenis”) daarvan uit te kom nie. Die ervaring van die roman met die lees, is die belangrike.
Die “resep” is nie bedoel om betekenis te agterhaal nie, maar eerder om die leser se aandag te fokus op aspekte wat die ervaring ryker kan maak en om ons te help om met mekaar oor die ervaring te kan