Willie Burger
In ‘n vorige aflewering is daarop gewys dat boekrakke al hoe onbelangriker in ons huise word. Die rol wat boeke en letterkunde in die samelewing speel, het oor die afgelope 50 jaar baie verander.
Hoewel mense al eeue lank vir mekaar stories vertel, liedere sing en verse maak, is die idee van "letterkunde" soos ons dit vandag ken, eintlik iets wat eers gedurende die afgelope twee eeue in die Westerse wêreld ontstaan het.
Sedert die begin van die 19de eeu het ‘n proses van demokratisering geleidelik uitgebrei. Gewone landsburgers het al meer inspraak in hul lot gekry en toenemend ‘n kans gekry om hul eie idees uit te spreek en om uiteenlopende menings met mekaar te bespreek.
Hierdie uitruil van idees is tot ‘n baie groot mate deur die uitvinding van die boekdrukkuns mootlik gemaak. Idees is meestal in geskrewe vorm versprei en uitgewissel. In hierdie "moderne" tydperk (stadigaan reeds sedert die 17de eeu, maar veral gedurende die 19de en 20ste eeue) neem boeke dus ‘n sentrale plek in en veral literêre werke het ‘n groot invloed gehad.
Die begrip "literatuur" of "letterkunde", soos ons dit vandag gebruik, het gedurende die oorgang tussen 18de en 19de eeue binne die konteks van demokratisering, die opkoms van die gedrukte media en nasionalisme ontstaan.
Literatuur was die afgelope twee eeue volgens die Nederlandse letterkundige Thomas Vaessens nie maar net nóg ‘n uitingsvorm nie, maar die belangrikste manier waarop idees versprei, uitgewissel en getoets is. Daarom was ‘n basiese kennis van literêre tekste noodsaaklik en hierdie kennis is deur skole, die media en biblioteke oorgedra. (Dit is hoekom letterkunde vir almal op skool voorgeskryf is.)
Literêre werke het die ruimte gebied waarbinne nuwe visies op die mens en die gemeenskap ontwikkel en uitgetoets kon word. Nuwe, dikwels revolusionêre idees, is in boeke en toneelstukke uitgedruk. Die geskrewe woord, as draer van idees, het baie mag gehad en juis daarom is die letterkunde dikwels deur maghebbers gevrees en talle boeke is deur die eeue verbrand en verban omdat die idees daarin as gevaarlik vir maghebbers (kerke, regerings of konings) beskou is.
In ons tyd word boeke nie meer so erg deur maghebbers gevrees nie, maar eerder die elektroniese media. Onlangs, kort voor die verkiesing in Turkye, het die Turkse eerste minister, Recep Tayyip Erdogan, op omstrede manier probeer om Twitter en YouTube te onderdruk. Hy het tydens ‘n verkiesingsbyeenkoms gesê dat die sosiale media "uitgewis" moet word omdat dit anti-regeringsidees versprei.
Die feit dat maghebbers die elektroniese media probeer onderdruk, eerder as om boeke te verbied, is ‘n aanduiding daarvan dat boeke nie meer die enigste of vernaamste draers van nuwe idees is nie.
In ons tyd is daar ‘n veel groter verskeidenheid maniere waarop mense nuwe idees kan uitwissel en bespreek as om bloot op boeke staat te maak. Daarom het die invloed van letterkunde in ons samelewing ook kleiner geword.
Skrywers en digters reageer op verskillende maniere op hierdie nuwe rol van letterkunde. Die onmiddellike toegang tot so baie inligting oor die wêreld daarbuite het daartoe gelei dat baie mense fiksie as oorbodig en onnodig begin ag het. Dit lyk asof daar ‘n veel groter waarde aan "realiteit" geheg word. In sy boek Reality Hunger, skryf David Shields tewens dat fiksie nie meer in ons tyd lesers kan boei nie; dat niemand fiksie ernstig kan opneem as ‘n medium waarin oor ons eie tyd gedink kan word nie. Mense ly, volgens hom, aan ‘n honger vir realiteit – soos onder meer te sien in die hoeveelheid TV-kanale wat aan sogenaamde "realiteits-TV" gewy word.
In reaksie op hierdie realiteitshonger is daar baie skrywers wat hulle tot genres wend wat nader aan die "realiteit" is – outobiografiese fiksie, fiktiewe outobiografieë, talle boeke waarin ‘n mengsel van joernalistieke verslag, essay, fiksie en outobiografie voorkom, het baie gewild geword. Dink maar aan boeke soos Antjie Krog se ‘n Ander tongval, Dominique Botha se Valsrivier en Mark Gevisser se Lost and Found in Johannesburg.
‘n Ander reaksie van skrywers op die afnemende invloed van letterkunde, is om nader aan die populêre fiksie te beweeg en om sodoende meer lesers, en dus ‘n groter invloedsfeer, te vind. Misdaadfiksie – hetsy in die vorm van studies oor misdaad (Micki Pistorius) of misdaadromans soos dié van Deon Meyer – het byvoorbeeld in gewildheid gegroei. Die gevolg is dat sommige skrywers hulle eerder wend tot hierdie gewilde genres. Mike Nicol het byvoorbeeld aanvanklik "literêre" romans geskryf, maar skryf deesdae slegs populêre misdaadromans. Boonop word hierdie populêre genre dan dikwels aangewend om sosiale kommentaar te lewer, soos wat literêre fiksie vroeër gedoen het (Infanta van Deon Meyer, Chris Karsten se ‘n Man van min belang).
Daar is ook die skrywers wat aanvaar het dat hoewel letterkunde nie meer een van die belangrikste ruimtes vir die uitwisseling van nuwe idees bied nie, fiksie en poësie steeds maniere bied waardeur die wêreld verstaan kan word en wat daarom voortgaan om die moontlikhede daarvan te benut.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.