Willie Burger kyk dié week na die gebruik van dokumente in verhale
André Brink se bekende roman Houd-den-bek, oor die slaweopstand in die Koue Bokkeveld in 1825, begin met ’n afdeling met die titel “Klagstaat”.
Hierdie “klagstaat” word in amptelike regstaal weergegee: “In die saak van Sy Majesteit se Fiskaal aan die Kaap die Goeie Hoop, die heer Daniel Denyssen, ratione officii agerende by prevensie, contra: …” en daarop volg ’n lys van die agt aangeklaagdes en dan word al die klagtes teen hulle eweneens in amptelike regstaal uiteengesit totdat daar, byna tien bladsye later, die handtekening van Denyssen volg, met die datum, 10 Maart 1825.
Aan die einde, ongeveer 400 bladsye later, word die roman afgesluit deur ’n afdeling met die titel “Uitspraak”, wat eweneens in amptelike hoftaal weergegee word: “Na behoorlike ondersoek en na die aanhoor van die pleidooi deur die R.O. Aanklaer en die Advokaat vir die verdediging, en alles in ag nemende wat oorweging verdien of ’n uitwerking kon hê op die bevinding van die Hof verantwoordelik vir die toepassing van die Reg in die naam van Sy Britse Majesteit in hierdie Kolonie van die Kaap van Goeie Hoop, verklaar ons, die ondergetekende lede van genoemde hof, soos volg: …” Hierop volg dan ’n kort samevatting van die hofbevindinge en die skrikwekkende strawwe wat deur die hof aan die slawe opgelê word wat in opstand gekom het.
Die gebruik van hierdie amptelike hofstukke skep by die leser die indruk van outentisiteit, en geloofwaardigheid. Selfs al is die hele roman verder fiksie, skep hierdie amptelike dokumente die indruk dat die fiktiewe gebeurtenisse ook waar is. Die binneblad van die roman ondersteun ook hierdie indruk. As ’n mens die boek oopmaak, is die binnekant van die buiteblad ’n bruinerige kleur, soos ou papier, en hierop is in bruinerige ink in ’n outydse, krullerige handskrif gedeeltes van die Nederlandse teks uit die hofstukke afgedruk. Hierdie bladsye, wat lyk asof dit uit oorspronklike dokumente van byna 200 jaar gelede afgedruk is, verskerp ook die indruk dat alles wat in hierdie roman geskryf is, nie sommer uit die duim gesuig is nie, maar die waarheid is.
Die ongeveer 400 bladsye tussen die klagstaat en die uitspraak (van ’n werklike historiese opstand en hofsaak) is natuurlik fiksie. Hierin kom ’n groot aantal karakters aan die woord, wat elkeen sy of haar eie weergawe van die opstand gee. Teenoor die koue, harde woorde van die klagstaat en uitspraak kry die leser deur die woorde van die karakters, blootstelling aan die wêreld en die gedagtes van slawe en base van die 1820’s. In teenstelling met die saaklike, historiese dokumente, bied die gebeurtenisse tussenin ’n ander beeld van die slaweopstand en word die vooroordeel en onreg van die samelewing van destyds (en eintlik ook van vandag) blootgelê.
Memorandum
Die gebruik van koerantberigte, briewe, aanhalings uit geskiedenisbronne of uit byna enige ander boek op aarde, e-posse en foto’s kom dikwels in romans voor. Soms is hierdie “dokumente” self fiktief (soos in Memorandum), maar dikwels word dit inderdaad uit ander kontekste oorgeneem of aangepas (soos in Houd-den-bek) en deel van die roman gemaak.
Om dokumente aan te haal of om selfs die hele roman as dokumente, wat oënskynlik elders gevind is, aan te bied, is ’n manier waarop die leser van die geloofwaardigheid van die gebeurtenisse waaroor vertel word, oortuig word. Die gebruik van briewe, dagboeke of ander persoonlike dokumente, selfs van foto’s (of skilderye), dra alles tot die gevoel by wat die leser kry dat hierdie nie bloot verbeelding is nie.
Verder het dit dikwels die funksie om ironiese afstand te skep. Soms kan dokumente gebruik word om “objektiewe” inligting te gee wat ’n karakter of verteller se verdraaide perspektief ontmasker. Ander kere, soos in Houd-den-bek, maak die verskille tussen die inligting in die amptelike dokumente en die res van die vertellings die leser bewus van die lot van mense wie se reg op menswees deur die samelewing ontken word. Vk
, die roman deur Marlene van Niekerk, word ook aangebied as dokumente, as drie memorandums wat deur ene Wiid opgestel is. Die roman begin met Memorandum 3 en die ander twee memorandums word as addendums toegevoeg. Dit word mettertyd duidelik dat Wiid eers die twee memorandums agterin geskryf het voordat hy die eerste “memorandum” van die boek geskryf het.