Die eerste indrukke wat ‘n mens van ‘n boek het, is van die buiteblad, die titel en die naam van die skrywer
In enige gesprek wat jy met iemand voer, speel jou verwagtings van die gesprek ’n rol. Hierdie verwagtings bepaal hoe jy die ander persoon se woorde en optrede verstaan. Net soos jy ’n sekere gesprek van jou dokter, van ’n kind of van die amptenaar by die belastingkantoor verwag, het jy ook ’n verwagting van ’n boek. Hierdie verwagting bepaal hoe jy gaan lees.
Die eerste indrukke wat ’n mens van ’n boek het, is van die buiteblad, die titel en die naam van die skrywer. As jy Deon Meyer se naam op die buiteblad van die boek sien, is die kanse goed dat jy al van sy ander boeke gelees het, of ten minste al van hom gehoor het. Jy verwag dus dat jou naels weer kort gekou gaan wees en dat jy die volgende dag moeg by die werk gaan opdaag omdat jy tot lank ná jou slaaptyd gaan lees.
Eintlik het ’n mens reeds verwagtings van ’n boek selfs voordat jy die outeur se naam of die roman se titel gelees het. Soms staan die woord “roman” op die voorblad of op die titelblad van ’n boek, maar of daar nou voor op die boek staan dat dit ’n roman is of nie, bloot die feit dat ’n mens verwag om fiksie te lees, bepaal reeds hoe jy die boek gaan lees. Jy verwag immers iets anders van ’n roman as van ’n geskiedenisboek, ’n boek oor besigheidsbestuur of een met besielende dagstukkies.
Elke boek het as ’t ware “reëls” vir hoe die boek gelees moet word. In Christoffel Coetzee se Op soek na generaal Mannetjies Mentz staan uitdruklik teenoor die titelblad dat dié werk die wenner van ’n “romanwedstryd” was. In ’n boekwinkel of biblioteek kry jy nie hierdie boek op die rakke tussen geskiedeniswerke nie, maar by “fiksie”. Al hierdie dinge waarsku die leser om nie die boek as ’n gesaghebbende bron oor die Anglo-Boereoorlog se verloop in die Oos-Vrystaat te lees nie.
Die “reëls” vir die lees van fiksie word hierdeur geaktiveer. Hoewel hierdie roman in besonder gemoeid is met die verlede; met die maniere waarop ons oor die verlede dink, is dit nie in die eerste plek ’n historiese verslag nie. Selfs wanneer daar in die eerste deel van die roman voetnootverwysings gemaak word en noukeurig met datums omgegaan word, wat die indruk van ’n akademiese verslag oor navorsing oor die verlede wek, weet die leser dat dit alles binne die “reëls van fiksie” plaasvind en dat dit nie met ’n geskiedenisboek verwar moet word nie.
Jy kan jou in die roman
‘inleef’ juis omdat dit so
realisties voorkom, al weet
jy by voorbaat dat
dit ‘net ’n storie’ is
Dat romans al eeue lank die indruk wek dat hulle “ware vertellings” is – hetsy deur briewe wat outentiek voorkom, of ’n dagboek (dink maar aan Daniel Defoe se Robinson Crusoe) daarin op te neem – maak ook deel van die “reëls van fiksie” uit. Dit is pogings om ’n “realistiese”, geloofwaardige storiewêreld tot stand te bring. Jy kan jou in die roman “inleef” juis omdat dit so realisties voorkom, al weet jy by voorbaat dat dit “net ’n storie” is.
’n Mens leer hierdie “reëls van fiksie” mettertyd aan, soos ’n mens ook die konvensies van uitbeelding in byvoorbeeld skilderkuns leer ken. Wanneer ’n klein perdjie en ’n groot perd langs mekaar op ’n plat vlak geteken word, weet ’n mens dat die een perd ver en die ander een naby is. Dit is een van die maniere waarop die illusie van diepte op ’n plat vlak geskep word. Hoewel dit vir ons vandag as natuurlik en vanselfsprekend voorkom om die twee perde só te sien, was dit nie altyd die geval nie. Dit is ’n truuk wat in ’n stadium deur kunstenaars ontdek is.
In die vertelkuns is daar ook baie soortgelyke konvensies wat uitbeelding moontlik maak. Daar word van die leser verwag om volgens hierdie reëls te lees. Slegs dan kan jy sin van die roman maak. Jou kennis van hierdie reëls is onbewus deel van die verwagtings waarmee jy die boek optel.
Uiteraard is daar talle boeke wat ook “die reëls van fiksie” ondermyn. WG Sebald se The emmigrants skep byvoorbeeld die indruk dat dit nie fiksie is nie, maar ’n biografie. Antjie Krog se ’n Ander tongval is nóg fiksie, nóg outobiografie, nóg niefiksie. Die reëls is nie vas nie en word in ’n sekere sin deur die beste werke self opnuut geskep, maar ook dan werk die boeke juis met die leser se verwagtings en kennis van bestaande reëls.
Benewens hierdie onuitgesproke verwagtings, skep die roman ook verwagtings deur ’n titel. Meer daaroor volgende keer. Vk