Die verteller wat kennis van alles dra, wat toegang tot al die karakters se gedagtes en handelinge het, was tot in die 19de eeu baie gewild
In die bekende kortverhaal van Johannes van Melle, “Oom Diederik leer om te lag”, word die storie vertel van ’n ou man, oom Diederik, wat weens die hoë koors wat met malaria gepaardgaan, ’n baie ontstellende droom het.
In die droom ry oom Diederik met ’n perdekar op ’n lang pad. Hy weet nie waarheen die pad lei nie, maar hy is angstig dat hy dalk voorgekeer sal word. Dit gebeur dan ook dat hy by verskeie hekke deur verskillende mense voorgekeer word. Hy moet telkens ’n vraag beantwoord voordat hulle hom toelaat om verder te reis. Hy word al banger dat hy nie die regte antwoord sal kan verskaf nie en sal moet omdraai.
Uiteindelik kan hy al die bestemming sien, ’n kerk op ’n heuwel, maar dan word hy weereens voorgekeer en gedwing om om te draai – om eers te gaan leer om te huil voordat hy deurgelaat sal word.
Wanneer oom Diederik wakker word, kwel die droom hom. Hy herstel van die siekte, maar hy bly bekommerd. Hy besef dat hy eers sal moet leer om te huil, voordat hy in vrede sal kan sterf (en hemel toe kan gaan). Hoewel hy baie swaar gekry het in sy lewe en geliefdes verloor het, weet hy dat ’n mens nie altyd kan bly trane stort daaroor nie. Die manne by die hek het ook aangedui dat hy nie aanhoudend oor sy sonde kan bly treur nie. Hy weet nie waaroor hy moet huil nie, kan dus nie ’n traan stort nie en gevolglik nie hemel toe gaan nie.
wat deur almal verstaan
kan word, is hierdie
soort verteller gepas
Hy vra sy predikant uit, maar die dominee raak net die een gemeenplaas na die ander kwyt en die cliché’s bevredig oom Diederik nie. Eers as die verleë dominee uit die Bybel voorlees, kry oom Diederik sy antwoord. Die dominee lees dat Jesus na Jerusalem kyk en dan begin huil. Oom Diederik stop die dominee se voorlesing net daar. Nie die dominee, ouderling of oom Diederik se vrou verstaan dit nie, maar hy kry troos in hierdie woorde.
Hy besef meteens dat hy oor die lot van die ganse mensdom moet huil, dat hy met die hele wêreld medelye moet hê. Daarin vind hy sy droefheid, maar natuurlik ook sy troos, want nou is hy gereed om die laaste hek deur te gaan.
Die verhaal het ’n effens droewe toon, want ’n arm, ou, siek mens gaan binnekort sterf. Dit laat die leser egter nie regtig met droefheid nie, want dit is duidelik dat oom Diederik vrede gevind het en dat hy na die hemel toe op pad is.
In die vorige aflewering het ek daarop gewys dat dit betekenisvol is om te kyk na die manier waarop die storie vertel word en nie net na die storie self nie. Die verteller wat hierdie storie van oom Diederik vertel, weet alles (of byna alles). Die verteller beskryf die omgewing waar oom Diederik in armoede op ’n klein plasie woon. Sy kinders woon op aangrensende klein plasies in huise wat as armoedig en klein, met lae mure beskryf word.
Die verteller ken nie net die omgewing nie. Ook oom Diederik se gedagtes en sy droom word weergegee. Oom Diederik se vrou se gedagtes is ook aan die verteller bekend. Dit is vir haar swaar dat oom Diederik so stil is. Die dominee se gedagtes, sy onsekerheid oor wat hy moet antwoord en sy ongemak met oom Diederik se vrae word ook alles deur die verteller weergegee.
Hierdie soort verteller, wat kennis van alles dra, wat toegang tot al die karakters se gedagtes en handelinge het, was tot in die 19de eeu baie gewild. Geleidelik, gedurende die 20ste eeu, is hierdie soort verteller, wat alles weet en ken en kan meedeel, met al meer agterdog bejeën. Dit is die soort verteller wat by die storie van oom Diederik pas. Hy vertel van ’n wêreld vol troos, waar elkeen sy/haar plek het (almal is bekendes en familie, het name, ken mekaar goed – is ’n “oom” of ’n “tannie”.) In so ’n bekende wêreld, wat deur almal verstaan kan word, is hierdie soort verteller gepas. Die verteller verraai eintlik ’n opvatting van die wêreld as ’n kenbare plek waarin elkeen ’n plek het en vrede kan vind.
Hoe meer agterdog gedurende die 20ste eeu oor hierdie soort beskouing van die wêreld posgevat het (Kan een mens regtig ’n ander ken en sy gedagtes ken? Kan ’n mens selfs jou eie motiverings regtig ken?), hoe minder oortuigend het hierdie manier van vertel vir baie mense geword. Soos wat ’n besef toegeneem het dat die wêreld nie volledig verstaanbaar is nie, het ’n ander soort verteller nodig geword om hierdie beskouing te kan weerspieël. Ons kyk in die volgende aflewering daarna. Vk