Die proloog vorm deel van die eerste indrukke wat ‘n mens van die roman kry en lei jou dikwels om die roman op ‘n sekere manier te lees
Die eerste indrukke wat ’n mens van ’n boek kry, is die outeur se naam en die titel. Dikwels is daar dan op die volgende bladsy ’n motto of twee (aanhalings uit ander boeke). Daaroor het ek in die vorige aflewerings geskryf. Hierdie keer staan ek stil by die proloog. Die proloog skep ook, soos die titel en die motto’s, ’n verwagting by die leser. Dit vorm ook deel van die eerste indrukke wat ’n mens van die roman kry en lei ’n mens dikwels om die roman op ’n sekere manier te lees.
’n Proloog is meestal ’n kort stukkie vertelling waarmee die roman begin, maar wat van die eerste hoofstuk geskei is. In sommige gevalle word hierdie gedeelte deur ’n opskrif gemerk: “Proloog”.
Deon Meyer se Proteus begin met so ’n “proloog” van ’n bietjie meer as twee bladsye van grafiese besonderhede oor hoe ’n Xhosasprekende man ’n Amerikaner naby die St Michelstasie in Parys met ’n kort assegaai doodsteek. Hy volg eers die man op die trein en uit by die stasie tot in die warm somernaggewoel van Parys se “Latynse Kwartier” en as die Amerikaner begin hardloop, weet hy … die prooi kies bekende terrein. Sy lêplek is daar, net om die hoek van die Place du Panthéon – sy arsenaal, sy lemme en wurgdrade en vuurwapens. Maar hy het nie verwag dat hy sou hardloop nie, gedink die ego sal te groot wees. Sy respek verdiep vir die oudseesoldaat, nou CIA-laksman.
Sy eie liggaam reageer en die ingehoue adrenalien ontplof. Bene wat die groot lyf gemaklik voortdryf, ritmies, tien, twaalf tree agter Dorffling. Parysenaars se koppe wat draai. Wit man voor, swart man agter, oervrees in hul oë …
die eerste indrukke
van die roman
Dorffling beweeg behendig, ’n leeftyd se ervaring in elke skuif van sy voete, soekend, metend, toetsend, om en om, die kleinerwordende sirkels van ’n ritmiese doodsdans. Aanval, onmeetbaar vinnig en voor die knie hom in die buik kan tref, is sy arm om die Amerikaner se nek en die lang dun lem deur die borsbeen en hy hou hom so teen hom vas, die ligblou oë wat in syne staar.
“Am-sing-gelli?” sê die seesoldaat.
“Umzingeli,” korrigeer hy knikkend die uitspraak. Sag, met respek vir die proses van die dood. Vir die gebrek aan smeking. Vir die stille aanvaarding daarvan. Hy sien die lewe wat uit die oë vloei, die kleur wat verdoof, die hartklop verlangsaam. Die asemhaling is rukkend, rukkend. Dan stil.
Hy laat die liggaam sak, voel die groot harde spiere van die man se rug sag word en lê hom saggies neer.
“Waarheen gaan jy? Weet jy?”
Hy vee die assegaai aan die man se T-hemp af, en plaas dit stadig terug in die skede.
Dan draai hy om.
Die eksotiese ruimte van ’n moltreinrit in Parys, die St Michelstasie en die daaropvolgende gehardloop tussen bevreesde mense deur, gevolg deur die grafiese besonderhede oor hoe die Amerikaanse CIA-man sterf, word in hierdie proloog buite konteks aangebied. Waarom ’n Xhosaman ’n Amerikaanse CIA-laksman in Parys, in 1984 (die opskrif vir hierdie “proloog”) vermoor, is nie duidelik nie. Waarom sê die man “Umzingeli”? Die rede vir die moord, wie presies die twee betrokke mans is en wat die konteks van hierdie geweld is, word eers veel later in die roman duidelik. Voorlopig slaag hierdie stukkie daarin om die leser te skok en nuuskierig te maak sodat hy/sy verder wil lees.
Die proloog hoef egter nie so ’n sensasionele “prikkel” vir die leser se nuuskierigheid te wees nie. Soms kan ’n proloog ook as ’n soort “raam” dien wat die res van die vertelling binne ’n konteks plaas. Die proloog in Karel Schoeman se bekroonde roman Hierdie lewe stel die ou vrou se herinneringe, wat die res van die boek beslaan, in konteks.
Marlene van Niekerk se Agaat het ’n proloog en ’n epiloog waarin Jakkie se ervarings, in die hede, ’n raam vorm vir al Milla se ervarings en die gebeurtenisse op Grootmoedersdrift wat voorheen plaasgevind het. ’n Mens verstaan soms nie presies wat in die proloog gebeur nie, maar later kan dit as sleutel ’n ander perspektief op die res van die vertelling bied. Vk