Die titel van ‘n roman verskaf dikwels ‘n sleutel wat ‘n sekere aspek van die verhaal uitlig of beklemtoon. Die titel skep ook ‘n verwagting by die leser
Besonder baie romantitels gee vir ons ’n idee oor wie die roman gaan. Dit het seker tot ’n mate daarmee te doen dat ons dikwels stories onthou oor die karakters wat daarin voorkom. Ons ken die storie van Simson, Dawid en Goliat, of Rooikappie. Talle van die bekendste romans in wêreldliteratuur se titels is die name van karakters: Madame Bovary, Anna Karenina, David Copperfield, Moby Dick of Mrs Dalloway.
Ook in die Afrikaanse letterkunde is karaktername dikwels titels: Bart Nel, Karolina Ferreira en Agaat. In die geval van Agaat is dit veelseggend dat in die hele roman “oor” Agaat gepraat word en dat Agaat self slegs indirek aan die woord kom. ’n Titel soos Die lewe van Milla de Wet of Kroniek van Grootmoedersdrif sou heel waarskynlik tot velerlei ander leesmoontlikhede vir die roman aanleiding gegee het. Juis omdat die titel Agaat is, word die leser as ’t ware gedwing om daaroor na te dink en die leser se aandag word deur die titel gelei, weg van Milla de Wet, na die enigmatiese Agaat.
Verder bied romantitels ook dikwels ’n aanduiding van die ruimte waar alles gebeur: Marlene van Niekerk se Triomf, Karel Schoeman se Op ’n eiland, Chris Barnard se Boendoe of André Brink se Duiwelskloof. In romans waarvan die titels ’n sekere ruimte beklemtoon, speel die ruimte dikwels ’n deurslaggewende rol.
Alexander Strachan se debuutwerk, ’n Wêreld sonder grense, roep nie alleen die grensruimte van die destydse oorlog op die grens tussen Namibië en Angola op nie, maar suggereer ook reeds iets van psigologiese en morele grense wat in ’n oorlogsituasie opgehef word.
Soms is die titel ’n kriptiese aanduiding van die tema: Salman Rushdie se Shame, JM Coetzee se Disgrace, Ian McEwan se Atonement, Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie of Ingrid Winterbach se Belemmering. Hierdie soort titels is dikwels reeds ’n aanduiding van waarvoor die leser moet oplet wanneer hy die boek lees – dit kan ’n leidraad wees vir ’n spesifieke invalshoek tot die roman.
Iets van die handeling kan ook deur die titel opgeroep word, soos in Eben Venter se Ek stamel, ek sterwe of Etienne van Heerden se Die swye van Mario Salviati.
’n Leser moet altyd bereid wees
om sy of haar aanvanklike
verwagtings wat deur die titel
geskep is, aan te pas
’n Uitgebreide titel waarin vir die leser uitgespel word wat van die boek verwag kan word, was in die vorige eeue nogal algemeen. Die roman wat bekend staan as Don Quixote, Miguel de Cervantes se roman uit 1605, het aanvanklik ’n veel langer titel gehad (volgens die 1937-vertaling): The first part of the delightful history of the most ingenious Knight Don Quixote of the Mancha.
Veel meer inligting as slegs die ridder se naam word deur hierdie uitgebreide titel gegee. Vir die leser skep die adjektiewe in hierdie lang titel reeds die verwagting van ’n oordrewe vertelwyse wat talle ernstige sake op komiese manier sal ondergrawe.
Dikwels val die klem in hierdie soort uitgebreide titels op die sensasionele. André Brink se Inteendeel (1993) gee ’n sensasionele opsomming van die hoofkarakter, Estienne Barbier, se lewe: Inteendeel – Synde die lewe van ’n beroemde rebel, soldaat, reisiger, ontdekker, bouer, skribent, leser, Latinis, minnaar en leuenaar.
Die volledige titelblad van George Weideman se Draaijakkals lui: Draaijakkals, oftewel die ongelooflike eerste jeug van Nicolaas Alettus Lazarus – stofpoepertjie, tusseninner en aartskalant van die onderveld waarin die verteller se wedervaringe oor sowat drie dekades aan die leser voorgehou word, beginnende met ’n ontvangenis in ’n bakoond, padlangs verby Samaritane wat op hul moer kry, gehoorsame en ongehoorsame meisies, ’n spul Nazi’s en hulle holmolle, en eindigende met ’n tuiskoms tussen ’n klomp skewe brode in ’n anderster bakoond.
In die agtiende eeuse romans was die doel van hierdie uitgebreide titels waarskynlik om die leser nuuskierig te maak en om lesers te lok. Hoewel so ’n titel vandag steeds dieselfde effek kan hê, is die belangrikste funksie daarvan waarskynlik om die leser daarop voor te berei dat hierdie roman in ’n bepaalde tradisie staan en daarom ook teen die agtergrond van daardie tradisie gelees kan word.
Soms kan titels juis daarop gerig wees om die leser op ’n dwaalspoor te lei. Die titel, soos enige ander aspek van ’n roman, behoort dus altyd versigtig gelees te word in samehang met die romangeheel. ’n Leser moet altyd bereid wees om sy of haar aanvanklike verwagtings wat deur die titel geskep is, aan te pas. Vk