Meestal skep motto’s ‘n verwagting en maak dit die leser se oë oop om juis vir ‘n sekere tema op te let
In sy bundel essays The curtain vergelyk die Tsjeggiese skrywer Milan Kundera die taak van die romanskrywer met dié van ’n argitek. Die roman, só skryf Kundera, het uit storievertelling ontstaan op daardie oomblik toe ’n skrywer nie meer daarmee tevrede was om bloot ’n storie te vertel nie. Die romanskrywer het by die "storie" ook talle ander stories en beskrywings en waarnemings en idees gevoeg en daarom het dit noodsaaklik geword om aan al hierdie uiteenlopende en komplekse materiaal ’n vorm te gee.
Die vorm wat aan die uiteenlopende materiaal van die roman gegee word, is volgens Kundera soos ’n argitek se ontwerp. Hierdie ontwerp, die beplanning van hoe al die gebeurtenisse, idees, beskrywings en waarnemings ineengestrengel word, is vir Kundera die belangrikste aspek van ’n roman. As romans net oor idees gegaan het, of net oor die sielkundige aspekte van ’n karakter, sou ’n mens beter kon doen deur ’n filosofiese werk of ’n sielkundige studie te skryf. Dit is in die spesifieke vorm waarin al die aspekte deur die romanskrywer saamgeweef word, waarin die waarde van die romankuns lê.
As die hele roman soos ’n groot gebou is, het so ’n gebou ’n vooraansig, ’n voordeur en ’n ingangsportaal, wat die persoon wat die gebou wil verken se eerste indrukke bepaal en sekere verwagtings wek.
In die vorige twee aflewerings is reeds na die verwagtings gekyk waarmee ’n mens ’n roman benader en na die rol wat die titel speel in hoe ’n mens die roman lees.
Die vooraansig van die gebou en die voordeur is vergelykbaar met die verwagtings en die titel. Hierdie week staan ek stil by die motto’s: daardie aanhalings uit ander boeke of gedigte voorin ’n roman of aan die begin van ’n hoofstuk. Die motto’s kan dalk met die ingangsportaal vergelyk word. In die ingangsportaal van ’n gebou word ’n sekere tema dikwels reeds gevestig.
Soms kan sulke motto’s maar taamlik swaarwigtig en pretensieus voorkom – so asof die outeur probeer om die boek met groter betekenis te "laai" deur allerhande belangrike skrywers aan te haal. Veral wanneer daar soms ’n groot aantal motto’s voorin is, kan dit lyk asof die outeur met sy eie kennis probeer spog.
In Eben Venter se Horrelpoot begin elke hoofstuk met ’n aanhaling uit Joseph Conrad se roman Heart of darkness. Op hierdie manier word ’n nou verband tussen Conrad se meesterlike roman en Venter se eie werk gelê en word die leser uitgenooi om die twee werke te vergelyk – met die suggestie natuurlik dat Horrelpoot ’n "waardige" roman is – ten minste op dieselfde vlak as hierdie belangrike werk uit die wêreldletterkunde.
en selfs obskure tekste, wat
’n heel ander lig op die roman werp
Natuurlik hoef ’n mens nie so sinies na motto’s en aanhalings te kyk nie. Meestal skep dit ’n verwagting en maak dit die leser se oë oop om juis vir ’n sekere tema op te let.
Soms kom motto’s uit nieliterêre en selfs obskure tekste, wat ’n heel ander lig op die roman werp. Marlene van Niekerk haal byvoorbeeld voorin Triomf uit ’n handboek oor yskasherstelwerk aan. Die motto’s voorin Agaat kom uit die voorwoorde tot ’n hulpboek vir boere en ’n boek oor borduurwerk, asook uit die inleiding van die FAK-Volksangbundel. In hierdie gevalle, waar die aanhalings juis nie uit ander literêre werke kom nie, kan ’n mens nie die skrywer beskuldig van pogings om die leser met sy kennis van die letterkunde te beïndruk nie. In Agaat word die leser se aandag gevestig op die aard van die tekste waarmee Agaat opgevoed word en dit skep reeds by die leser ’n spesifieke verwagting oor daardie opvoeding en oor die denkwêreld waaruit Milla kom.
Voorin André Brink se Duiwelskloof is ’n aanhaling uit die werk van ’n Amerikaanse digter, Muriel Rukeyser, wat lui: "The universe is made of stories, not of atoms." Met hierdie aanhaling word die leser se aandag gefokus op die sentrale rol wat die vertel van stories in die roman speel. In die roman kom die hoofkarakter agter dat die vertel van stories die manier is waarop mense sin maak van wat met hulle gebeur. Sonder stories verloor ’n mens jou houvas op die werklikheid en op jouself, daarom bestaan jou wêreld eintlik uit stories, eerder as uit atome. Hierdie motto maak dus reeds aan die begin die leser se oë oop om die sentrale tema raak te sien.
Soms is die motto’s uit onbekende bronne of in ’n vreemde taal. Ook dít kan ’n aanduiding van iets oor die roman wees – ’n waarskuwing dat die leser dalk moeite sal moet doen om die roman te verstaan.
Soos titels, speel motto’s dus ’n rol om die leser se verwagtings en manier van lees te beïnvloed. Vk