In die eerste plek waardeer ons literêre tekste oor die manier waarop hulle gestruktureer is & die manier waarop dit vertel word
Ons almal weet dat sekere mense ’n storie eenvoudig veel beter as ander kan vertel. Party mense kan nie eens ’n grap behoorlik vertel nie. Hulle maak so ’n gemors daarvan dat jy uiteindelik nodig het om dit te verduidelik en teen daardie tyd is dit glad nie meer snaaks nie.
Een verteller wat ’n storie kán vertel, is oom Schalk Lourens, die bobaasverteller uit die Marico-distrik wat telkens aan die woord is in Herman Charles Bosman se bekende kortverhale. In een van hierdie verhale, “Mafeking Road” sê oom Schalk dat mense dikwels by hom wil weet waarom hy so ’n goeie verteller is:
When people ask me – as they often do, how it is that I can tell the best stories of anybody in the Transvaal (Oom Schalk Lourens said, modestly), then I explain to them that I just learn through observing the way that the world has with men and women. When I say this they nod their heads wisely, and say that they understand, and nod my head wisely also, and that seems to satisfy them. But the thing I say to them is a lie, of course.
For it is not the story that counts. What matters is the way you tell it. The important thing is to know just at what moment you must knock out your pipe on your veldskoen, and at what stage of the story you must start talking about the School Committee at Drogevlei. Another necessary thing is to know what part of the story to leave out.
Op die oog af mag hierdie maar net na ’n paar vermaaklike opmerkings lyk, maar die opmerking dat dit nie vir ’n goeie verteller in die eerste plek oor sy mensekennis gaan nie, maar oor hoe die storie vertel word, is baie belangrik.
Wat die lees van ’n roman of kortverhaal boeiend maak, is nie in die eerste plek die inligting wat in die verhaal opgeneem is nie. Natuurlik kan daar ook baie nuttige inligting in ’n roman gegee word. Nadat jy Deon Meyer se Spoor gelees het, weet jy baie meer van busdienste, maar dit is waarskynlik nie die vernaamste rede waarom jy die roman lees nie.
Net so kan ’n roman ook jou gewete aanspreek of jou oor jou waardes laat nadink (dink maar aan Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena). ’n Roman soos Milan Kundera se The unbearable lightness of being kan tot ’n sekere mate as ’n filosofiese ondersoek na die sin van die lewe gelees word. André Brink se Kennis van die aand is destyds weer deur sommige mense as seksueel prikkelend beskou.
Letterkunde kan dus óók inligting gee, seksueel prikkel, polities aanspoor of filosofiese denke inspireer, maar hierdie inligting, aansporing of prikkeling kan (bes moontlik veel makliker) in vakliteratuur, politieke pamflette of religieuse traktate en filosofiese opstelle of pornografiese rolprente gevind word. In die eerste plek waardeer ons literêre tekste oor die manier waarop hulle gestruktureer is – die manier waarop vertel word.
Die manier waarop vertel word, dit beklemtoon oom Schalk, behels strukturering: wat uitgelaat moet word, wanneer in die vertelling oor watter sake vertel moet word en hoe om spanning te wek.
Die heel eerste aspek van enige vertelling waarvan ’n mens bewus word, is dat “iemand” besig is om die storie te vertel. In Bosman se verhaal word reeds in die eerste sin tussen hakies aangedui wie die verteller is. Maar in sommige romans of verhale is dit nie so eenvoudig om te weet wie eintlik vertel nie: “Eendag, lank, lank gelede in ’n ver land het daar ’n prinses gewoon …” Wie die verteller is wat hierdie sprokie begin vertel, weet ons nie.
Van oom Schalk weet ons al ná daardie eerste paar paragrawe dat hy pyp rook, maar ook dat hy nie beskeie is nie. Ons kom agter dat hy al nagedink het oor sy eie stories en dat hy liggelowige mense – of mense wat maak asof hulle baie wys is – op hul plek sal sit.
Oor die naamlose verteller in die sprokie weet ons niks. Ons weet nie hoe die verteller lyk of klink of enigiets van hom/haar af nie.
Aan die een kant van die skaal is daar dus vertellers wat ons baie goed kan leer ken as die persoon wat sy haar eie storie vir ons vertel; wat ’n kenbare “ek” word met ’n voorkoms, gewoontes, geaardheid en doelstellings wat geleidelik vir die leser duidelik word.
Aan die ander kant is daar soms byna heeltemal onbekende vertellers wat hul verhale as ’t ware “van buite” weergee.
Tussen hierdie twee uiterstes kom daar nog baie variasies voor. In die volgende paar aflewerings kyk ons na voorbeelde van hierdie variasies en die effek daarvan op die leser. Vk