Openingsinne is ‘n manier waarop die leser by die verhaal ingetrek word
In hierdie reeks oor hoe ons stories lees, is reeds na baie aspekte verwys wat ’n rol speel voordat ’n mens eintlik regtig begin om te lees: die buiteblad met outeursnaam en titel, uitgewernaam, die motto’s voorin die boek en die proloog. Die laaste aspek van hierdie eerste indrukke wat ’n mens van die roman of kortverhaal kry, is die eerste sin.
Openingsinne, die eerste paragraaf of twee van ’n roman, is dikwels ’n manier waarop die leser by die verhaal ingetrek word. Soos die motto’s of titel speel hierdie eerste sin of sinne dikwels ’n groot rol in hoe jy verder gaan lees en met watter verwagtings jy die res van die boek gaan benader.
Chris Barnard se kortverhaal Bos begin byvoorbeeld met hierdie treffende eerste sinne:
Daar is ’n soort stilte wat meer behels as die afwesigheid van geluid; ’n stilte sonder beweging; ’n stilte wat byna die dood self is. Die lug is stil, die blare en gras is stil, die voëls is ongelooflik stil. As die vroue smiddae die mangopitte los en wegraak tussen die bome, dán kom dié stilte. Dis die uur sonder sonbesies – die dooie uur waarin ’n mens begin vermoed dat selfs die son iewers vasgesteek het.
In só ’n uur kom Kirst.
Met die klem op die stilte wat in die hitte van die middag aanbreek, word ’n broeiende afwagting geskep. Die woord “stilte” word in die eerste sin reeds drie keer herhaal. Die tweede sin bestaan uit drie stellings waarin elke keer herhaal word dat iets stil is. Die tweede paragraaf bestaan dan uit die enkele sin: “In só ’n uur kom Kirst.”
openingsinne en slotsinne
met meer aandag te lees
Die hele verhaal is deurtrek van die afwagting op die ontmoeting met die geheimsinnige Kirst. Hierdie afwagting het egter reeds in die eerste paragraaf ’n vreesaanjaende ondertoon omdat die stilte met die “dood self” vergelyk word. Só word spanning en nuuskierigheid geskep.
André Brink se roman Duiwelskloof begin met dié sin: “Ek had hier gesit wag vir jou.” Die vreemde taalgebruik val ’n mens dadelik op – daar is so ’n “outydse” of Nederlandse klank daaraan omdat “had” gebruik word in plaas van “het” en omdat ons normaalweg sou sê: “Ek het hier gesit en wag vir jou.”
Hierdie vreemde taalgebuik skep by die leser die verwagting dat die spreker van hierdie sin ’n sekere dialek praat of uit ’n vroeër era kom. En daardeur word ’n toon reeds vir die res van die roman gestel aangesien dit inderdaad die geval is dat die leser met ’n groep mense kennis maak wat in afsondering in ’n kloof leef, waar hul taalgebruik en kulturele gebruike in die 18de eeu vasgesteek het. Dit plaas ook reg van die begin af klem op taalgebruik self, want taal, spesifiek in die vorm van stories, word in die roman voorgehou as die enigste manier waarop ons onsself, ons geskiedenis en ons wêreld kan verstaan.
Nog belangriker is dat die leser byna 360 bladsye later die slotsin sal herken: “Ek had hier gesit wag vir jou.” Die herhaling van die openingsin as slotsin skep die indruk dat alles eintlik van voor af begin. Die leser besef dat daar nie ’n wegkomkans uit hierdie kloof is nie. In die roman dui dit onder meer daarop dat ons eintlik in taal vasgevang is – dat taal, en spesifiek die stories wat ons vertel, die enigste manier is waarop ons kan sin maak van onsself en ons wêreld en dat ons nie daaruit kan ontsnap nie.
Openingsinne bevat dus dikwels ’n vooruitwysing na die sentrale tema in die roman. Natuurlik weet jy nie al dadelik wanneer jy die eerste sin lees hoedat dit by die sentrale tema aansluit nie – of dat dit aan die einde herhaal gaan word nie. Geleidelik, soos ’n mens verder lees, raak jy van al die implikasies bewus.
Daarom baat dit die leser om telkens openingsinne en slotsinne met meer aandag te lees en later ook te herlees en versigtig daaroor te dink aangesien dit belangrik vir die interpretasie van ’n roman kan wees.
Hierdie opmerking geld ook vir al die ander aspekte wat onder “die begin van die roman” bespreek is. Hoewel ’n sekere verwagting deur titels, motto’s, openingsinne of proloë geskep kan word, is dit uiteraard nodig om hierdie verwagtings voortdurend by verdere inligting aan te pas. Vk