Willie Burger praat verder oor die verteller van die verhaal, met die klem op die vrye indirekte rede
Dit is heel maklik om te onderskei tussen ’n verteller wat buite die verhaal staan (’n derdepersoonsverteller) en ’n verteller wat self ’n karakter in die verhaal is (’n eerstepersoonsverteller). Soos uit die volgende paar paragrawe uit Marlene van Niekerk se Triomf blyk, is hierdie maklike onderskeid nie altyd so eenvoudig nie.
Die verteller is kennelik nie ’n "ek-verteller"; nie Lambert self nie. ’n Derdepersoonsverteller deel ons immers mee dat Lambert byna verby die parkeerterrein is, dat "hy" wind op "sy" gesig voel, dat hy links en regs kyk voor hy die pad oorsteek.
Die woorde wat gebruik word, is egter Lambert se woorde: "Mense moet lekker wees as hulle hom wil ‘meneer’." Lambert se gedagtes word vertel – byvoorbeeld dat hy dink die petrol gaan opraak of dat ’n "caravan" oorkant die straat staan. Hierdie gedagtes word egter nie tussen aanhalingstekens geplaas nie. In direkte rede sou dit eerder só gelyk het: "Lambert kyk wie hom ‘meneer’ noem. ‘Ek is nie sommer enigeen se meneer nie,’ dink hy." In indirekte rede sou dit dalk so kon lyk: "Lambert kyk om te sien wie hom meneer noem. Hy dink dat hy nie sommer enigeen se meneer is nie."
tussen die verteller en
die karakters onderskei nie
Van Niekerk gebruik egter deurgaans in Triomf juis nie direkte of indirekte rede nie, maar hierdie vermenging.
Hier is ’n seepgladde en byna onwaarneembare oorgang tussen die eksterne verteller en Lambert se gedagtes. Hierdie manier van vertel is eintlik ’n mengsel van derdepersoons- en eerstepersoonsvertelling en word "vrye indirekte rede" genoem.
Wanneer ’n eerstepersoonsverteller aan die woord is en alle ervarings deur die karakter self as sy eie ervarings beskryf word, gee dit ’n gevoel van outentisiteit, asof ’n mens toegang tot die eerlike gedagtes van die karakter self kry. Die probleem is dat ’n mens nie maklik weet of die karakter dalk ’n vals idee oor die wêreld het nie – die waarheid van sy of haar waarnemings kan nie getoets word nie.
’n Derdepersoonsverteller wat nie alleen kan vertel wat karakters dink of doen nie, maar ook kan verduidelik waarom hulle só optree of selfs waarom hulle so dink, maak dit moontlik dat ’n mens dadelik weet dat ’n karakter eintlik mislei is en ’n wanpersepsie van homself en die wêreld het. Die probleem is egter dat die leser maklik kan voel die karakters word nie regtig "mense" waarmee hy maklik kan identifiseer nie. Jy behou ’n gevoel dat die verteller die karakters "maak" en beheer.
Vrye indirekte rede behou die voordele van al twee hierdie maniere van vertel sonder die nadele daarvan.
Die effek daarvan in Triomf is onder meer dat dit die afstand tussen die verteller en die karakters verklein. ’n Mens kan byna nie tussen die verteller en die karakters onderskei nie en hoewel ’n eksterne verteller deurgaans vertel, ervaar die leser die wêreld van die Benade’s as ’t ware vanuit die onderskeie karakters se bewussyn. Dit bring die leser wel baie naby aan die karakters, maar die moontlikheid om mistastings van die karakters te herken, om die ironie van situasies te begryp, word daardeur moontlik gemaak.
Lambert is byna verby die parkeerterrein toe hy hoor iemand roep hom.
"Hei! Ekskuus tog, hei! Meneer!" Blink karre ry vinnig by hom verby. Hy voel hulle wind op sy gesig. Wag net, hulle sit almal sonder petrol (…)
Hy kyk wie "meneer" hom nou hier. Hy’s nie sommer enigiemand se "meneer" nie. Mense moet lekker wees as hulle hom wil "meneer". Miskien is dit nie eers vir hom nie.
Oorkant die pad staan twee ouens by ’n caravan. Die ouens het kakie-uniforms aan en maroon berets op. Verkoop seker hotdogs (…)
Hy kyk links-regs-links oor die pad voor hy oorsteek. Lat hy gaan kyk. Maar hy sien gou dis nie hy wat kyk nie. Dis die ouens wat kyk. Hulle kyk hom op en af.
"Hoessit, ou?" vra die een.
Nou’s hy weer "hoessit ou". Eers was hy "meneer" en nou’s hy skielik "hoessit ou". Hierie ouens moet nou net lekker wees.