Willie Burger kyk hierdie week na Hennie Aucamp, die bekroonde digter en skrywer wat in Maart op 80-jarige ouderdom oorlede is, se kortverhaal “Vir vier stemme”
Willie Burger
Mense vergeet dikwels dat dit nie so belangrik is om ’n goeie storie te hê nie; veel belangriker is dat jy jou storie goed moet kan vertel. Hennie Aucamp was ’n meesterverteller wat ’n oënskynlik eenvoudige storie op só ’n manier kan vertel dat dit ’n boeiende en ontstellende ervaring word. Een van sy bekendste verhale is “Vir vier stemme”. Op die oog af begin hierdie verhaal soos ’n baie konvensionele vertelling: “Die hele affêre het as ’n grap begin (vertel oom Toon Lourens); ’n Boerepoets. Want sonder grappe sou die lewe in Die Hoek ’n man ondergekry het.” Die eerste deel van die kortverhaal dra die titel “’n Grap is ’n grap” en die leser verwag dat ’n grap vertel gaan word. Hoewel die gegewe so ’n bietjie outyds klink (boere op afgeleë plase in die Stormberge in die vroeë 20ste eeu bak mekaar poetse as enigste vermaak), is hier geen outydse vertelwyse nie.
Die verhaaltitel gee reeds ’n sleutel tot die manier waarop vertel word. In elk van die vier onderafdelings van hierdie verhaal (“’n Grap is ’n grap”, “Aan alles moet ’n einde kom”, “En hadde de liefde I” en “En hadde de liefde II”) kom telkens ’n ander “stem” aan die beurt. Telkens word dieselfde gebeurtenis vanuit ’n ander karakter se oogpunt beskryf. Elke keer kom daar ’n bietjie meer inligting by sodat die leser eers aan die einde met ’n skok agterkom wat éíntlik gebeur het. Die verhaal gaan oënskynlik oor twee boere (Toon Lourens en Oom Frik) wat besluit om hul vriend Beimen Botes ’n poets te bak. Hulle weet Beimen is uitgehonger vir liefde en dat vroue in hul omgewing skaars is. Op ’n Saterdagaand oorreed hulle vir Freddy, ’n Skot wat in die afgeleë berge kom woon het om verligting vir sy asma te kry, om hom soos ’n vrou te vermom. Hulle stel hierdie “vrou” as ’n besoekende niggie aan Beimen voor.
Wat bedoel was om ’n vinnige grap op die Saterdagaand te wees, en vir Toon en Frik lekker laat lag vir Beimen wat smoorverlief met die “niggie” dans en haar probeer soen, word egter te lank uitgerek. Later lei dit tot ’n lang korrespondensie tussen Beimen wat liefdesbriewe deur Freddy, die enigste geleerde man in die omgewing, aan die niggie laat skryf. Freddy skryf dan ook lang briewe van die “niggie” terug aan Beimen. Hoewel dit alles die resep vir ’n lekkerlagklug is, gaan hierdie grap te ver. Die verliefde Beimen bring lang ure by Freddy deur om briewe te dikteer, maar ook omdat hy in Freddy se geselskap minder na die niggie verlang. Beimen is immers – sonder dat hy weet – eintlik op Freddy verlief, terwyl Freddy ook verlief raak op Beimen wat sy diepste emosies met hom deel.
Freddy besef dat dit geen grap meer is nie. Hy sien egter van sy plan af om die niggie te laat sterf en besluit om met die waarheid vorendag te kom – met die klein hoop (“Een kans uit ’n duisend”) dat Beimen sal besef dat die noue liefdesband eintlik tussen hulle twee, Beimen en Freddy, ontwikkel het. Die openbaring het skrikwekkende gevolge: Beimen voel verneder en verag homself oor sy aangetrokkenheid tot Freddy en hy verkrag hom, waarna Freddy selfmoord pleeg. Die hele storie word egter nie so chronologies vertel nie. Eers vertel Toon Lourens van die Saterdagaand se poets en hoe lekker hulle gelag het. In die tweede deel – waarin dieselfde storie van die poets vanuit Freddy se oogpunt vertel word – besef die leser hoe lank die grap ná daardie Saterdag aangehou het en word van Freddy se gevoelens bewus. Wanneer dieselfde poets in die derde deel vanuit Beimen se oogpunt vertel word, kom die leser agter wat Beimen aan Freddy gedoen het en besef waarom Freddy selfmoord gepleeg het.
Hoewel die leser teen hierdie tyd dink dat die hele storie nou duidelik is, kom die vierde stem nog by – oom Frik se lelike dogter Let se aandeel word nou duidelik. Die leser besef dat sy, wat eintlik verlief was op Beimen, die hele poets van die begin af georkestreer het en dat dit haar wraak op Beimen was omdat hy nooit aan haar aandag wou gee nie. Die titel van die derde en vierde dele (En hadde de liefde) roep 1 Korintiërs 13 op (in die Nederlandse Bybel wat destyds nog in gebruik was). Die liefde wat alles oortref, ontbreek egter hier: Liefde is nie vir Freddy en Beimen denkbaar in hierdie gemeenskap nie. Let het geen hoop op liefde nie en daarom ook geen vooruitsigte vir haar lewe nie – in die patriargale stelsel is trou en boervrou wees haar enigste bestaansmoontlikheid. Daarom tree sy uiteindelik liefdeloos en wraaksugtig op. Wat as klugtige grap begin, word uiteindelik ’n tragiese verhaal wat die leser met ’n eindelose droefheid en afgryse vervul oor hoe ’n gemeenskap se norme mense in eensaamheid en in ’n liefdelose bestaan kan vaspen.