Willie Burger kyk na vier kortverhale wat handel oor
die in- en uitsluiting van mense in die vroeër jare
In een van Jan Rabie se kortverhale uit 1956, “Droogte”, bou ’n wit man en ’n swart man saam aan ’n huis, iewers op ’n droë, sonverskroeide vlakte. Die wit man staan aan die binnekant van die mure en bou en die swart man werk aan die buitekant. Die wit man sê vir die swart man: “Jy moet buite werk. Jou vel is swart, jy kan die son beter verdra as ek.” Die wit man dring daarop aan dat God wit is en dat God die duisternis (en dus swart velle) vervloek het. As die wit man geen bevredigende antwoorde op die swart man se teenargumente kan bied nie, dwing hy hom bloot om verder te werk. Die huis het geen deure of vensters nie en as die swart man bekommerd daaroor navraag doen, verduidelik die wit man dat die mure die water moet uithou – dat in die land waar sy voorouers vandaan kom, mure gebou word om die see uit te hou. Die swart man bevraagteken hierdie stelling – daar is immers geen oorstromingsgevaar in dié droë land nie. “Jy is die see, dink die wit man, sonder om verder te praat.” Uiteindelik is die werk klaar, maar die wit man is binne-in toegebou. Tevergeefs roep die swart man van buite na die wit man om tog uit te kom en nie daar binne dood te gaan nie. Rabie se verhaaltjie dateer uit 1956, toe die apartheidsbeleid nog vorm aan geneem het, maar hy waarsku duidelik teen die gevaar van ’n politieke beleid wat, gebore uit vrees en selfingenomenheid, tot isolering en ’n gewisse dood lei. In John Miles se kort kortverhaal, “Voorgevoel” (1970), staan ’n wit akademikus in sy studeerkamer voor die venster en nadink oor die proefskrif waaraan hy werk, toe hy ’n swart man in die straat sien verbyloop. Die swart man is netjies aangetrek en staan skielik stil en kyk na die blommende boom in die tuin. Die wit man sien hoedat die swart man se mond die boom se naam vorm. Hy is nuuskierig oor die man in die straat en wil hom van nader leer ken, maar as hy sy kop draai, vervorm die ou ruitglas waardeur hy kyk, skielik die man sodat dit lyk asof hy die hele ruit vul, en hy kry dan die “voorgevoel” dat die man in sy studeerkamer invloei, deur sy boeke blaai, op sy stoel gaan sit en vra of hy sy pyp kan stop. Die verhaal eindig daar, met die duidelike vrees dat hierdie voorgevoel waar kan word. Ook in Karel Schoeman se kortverhaal, “Die hotel” (1973), is daar sprake van ’n binne- en ’n buiteruimte. Iewers in ’n ongespesifiseerde kolonie bly ’n klompie Europeërs (waaronder adellikes en rykes) in ’n hotel. ’n Antikoloniale bevrydingstryd breek in die kolonie uit en hulle word binne die hotel vasgekeer. Hulle het geen benul van wat werklik om hulle gebeur nie. Hulle ken nie die land of die mense nie – al verwys hulle heel geredelik na almal buite die hotel as “barbare”. Hulle kla oor die hotel se diens. Uiteindelik is hulle hulpeloos vasgekeer en hoop op redding, terwyl hulle naderhand die potplante binne die hotel – juis dít wat hulle aanvanklik as ’n teken van beskawing beskou het – moet eet. Nóg ’n kortverhaal waarin ’n binne- en buiteruimte ’n belangrike rol speel, is Elsa Joubert se “Agterplaas” (1980). Die verhaal begin met die woorde: “My lewe beweeg op die periferie van ’n bestaansvlak wat ek nie ken nie.” Die slotreël van die verhaal, agt bladsye later, is byna dieselfde: “Ek leef op die periferie van ’n bestaan wat ek nie ken nie.” Die verteller is ’n wit vrou wat toenemend daarvan bewus raak dat haar lewe op die rand lê van ’n bestaan van miljoene mense van wie sy eintlik niks weet nie en met wie sy byna geen kontak het nie. Soos in die ander verhale is hierdie wit vrou ook meestal binne-in haar huis, en sy kyk uit na buite, na die agterplaas, waar haar huishulp woon. Sy weet niks van die huishulp se bestaan buite haar huis nie, en raak geleidelik al meer by haar uitgebreide familie en almal se probleme betrokke. Maar dit word ook duidelik dat sy eintlik net van binne die huis kan dophou, dat die bestaan van die mense buite haar huis ook buite haar begrip bly. Uiteindelik trek daar maar net weer ’n ander huishulp by die agterplaas in. In al vier hierdie verhale is dit duidelik hoedat insluiting en uitsluiting telkens plaasvind as gevolg van vrees, uit meerderwaardigheid, en uit onkunde. In al die verhale is die gevolge negatief. Teen ons land se historiese agtergrond is dit seker nie verbasend dat ruimte in hierdie verhale wat tussen 1956 en 1980 verskyn het, telkens so ’n sentrale posisie inneem nie.
Gedig vir die week
Die gedig vir die week kom uit Adam Small se nuwe bundel Klawerjas.
K – w
Daar’s ‘n skoonheid omtrent elke woord en letter van jou taal. In Afrikaans is daar vir my iets besonder aantrekliks omtrent die sáámlees en sáámhoor van die letters "k" en "w": klawerjas, kwesbaar, kwessie, verkwansel, kwik, kwinkeleer, kweper, kwintessens, kwajong, kwartel, kwinkslag, karwats, kwas, kwêvoël, kwetter, kwansuis, kwyn, lukwart, kriewel, kwelgees, kwesel, kwatryn … Watter wonderlike werklikheid is taal tog. Vk