Willie Burger begin vandeesweek met sy reeks oor die kortverhaal
Willie Burger begin vandeesweek met sy reeks oor die kortverhaal
Mense vertel al vir millennia stories aan mekaar. Sprokies, fabels, legendes, anekdotes, gelykenisse, volksverhale en verhale oor gode word al vir duisende jare van een geslag na die volgende oorgelewer. Die geskiedenis van voorsate word ook oorgedra in die vorm van stories waaruit kinders kan leer. Verhale oor gode en helde, oor avonture, oor oorlog en liefde, en verhale wat verklaar hoekom die wêreld is soos dit is, word in elke streek van die wêreld aangetref, onder elke groep mense. Met die uitvinding van skrif is hierdie verhale ook neergeskryf. So bestaan talle van die bekendste stories al vir eeue lank op skrif. Selfs as die boeke wat later uit hierdie neergeskryfde stories ontstaan het heel dik is, bly hulle eintlik ’n samestelling van ’n klomp kortverhale (Duisend-en-een nagte, die Canterbury Tales, die Bybel). Ons almal vertel daagliks stories vir mekaar – stories oor ons eie ervarings, of skinderstories of nuusstories. Hierdie vertellings is dikwels taamlik kort. Hulle duur maar ’n paar minute. Ons het immers nie die tyd om vir te lank te praat of te luister nie. Maar al bestaan hierdie gebruik om deur middel van kort vertellings met mekaar te kommunikeer seker al byna so lank as wat taal bestaan, word die kortverhaal as ’n literêre kunsvorm, as ’n onderafdeling van “prosa”, eintlik eers sedert die eerste deel van die 19de eeu onderskei. Die digkuns en die drama het toe al vir duisende jare bestaan, en die roman as “moderne kunsvorm” was ook al byna 200 jaar oud. Nathaniel Hawthorne se Twice-Told Tales is in 1837 gepubliseer en word alom as ’n soort “amptelike” begin van die kortverhaal as literêre genre in Engels beskou, maar bundels met kortverhale het byna gelyktydig gedurende die eerste deel van die 19de eeu in Rusland, Frankryk en die VSA verskyn. Onder die eerste beoefenaars van die kortverhaal as doelbewuste literêre genre tel Edgar Allan Poe, Gogol, Flaubert en De Maupassant. Die kortverhaal was dadelik baie gewild en het veral gedy met die groei van tydskrifte en koerante. Vandag nog ontstaan baie kortverhaalbundels uit verhale wat eers in ander publikasies verskyn het. Om die kortverhaal presies te definieer is, soos met die meeste literêre kunsvorme, taamlik moeilik. Aan die een kant gee die begrip kórtverhaal te kenne dat die lengte daarvan die belangrikste manier is om dit te onderskei van byvoorbeeld die roman. Maar die “kort” in kortverhaal is nie baie presies nie. Sommige kortverhale is maar enkele sinne lank terwyl ander maklik meer as 50 bladsye beslaan. ’n Mens kan egter met redelike veiligheid aanvaar dat ’n enkele kortverhaal te kort is om alleen in boekvorm uitgegee te word. Daar is altyd meer as een kortverhaal in een publikasie. Aan die ander kant gee die begrip “kortverháál” te kenne dat ’n verhaal vertel word, dat vertel word van iets wat gebeur. Verder kan ook onderskei word tussen die kortverhaal en ander “korter” prosavorms soos die skets, anekdote en die essay. Hoewel kortverhale gewild is, word die kortverhaal oënskynlik as so ’n bietjie minderwaardig teenoor die roman beskou. Die Hertzogprys is byvoorbeeld nog nooit aan ’n enkele bundel kortverhale toegeken nie. In 1973 is die Hertzogprys wel aan Chris Barnard toegeken vir die bundel Duiwel-in-die-bos, maar nie vir die bundel alleen nie – die prys het gegaan aan dié bundel én Mahala, so al asof die bundel alleen nie die prys kan verdien nie (hoewel Mahala beslis óók ’n prys verdien het). Toe die Hertzogprys in 1982 aan Hennie Aucamp toegeken is, was dit ook nie vir ’n enkele kortverhaalbundel nie, maar vir al sy prosawerk saam. Ook MER het in 1953 die Hertzogprys vir al haar prosa gekry, nie vir ’n enkele bundel kortverhale nie. Hoewel prystoekennings nie noodwendig ’n goeie aanduiding is nie, wil dit tog lyk asof ’n bundel kortverhale (ten onregte) nie maklik as gelykwaardig aan ’n roman beskou word nie. ’n Kortverhaal fokus gewoonlik op ’n enkele situasie en op een karakter. Juis omdat die kortverhaal “kort” is, is daar nie plek om van baie verskillende gebeurtenisse te vertel nie. Daarom is die kortverhaal ’n hoogs gekonsentreerde vorm. ’n Enkele gebeurtenis, dikwels ’n gebeurtenis met ingrypende implikasies vir die karakter, vorm die kern van die verhaal. Talle verteltegnieke en ’n besonder deurdagte taalgebruik word telkens ingespan om daardie enkele situasie, asook die oorsake en die implikasies daarvan, te ondersoek. Die fokus op ’n enkele gebeurtenis of situasie gaan dikwels gepaard met poëtiese taalgebruik. In die volgende klompie aflewerings val die fokus verder op kortverhale. Vk