Willie Burger kyk na Johannes van Melle se kortverhaal “Oom Diederik leer om te huil”
Willie Burger kyk na Johannes van Melle se kortverhaal ‘Oom Diederik leer om te huil’
Johannes van Melle is veral bekend as die skrywer van die roman Bart Nel. Hierdie roman oor die rebellie van 1914, waartydens Bart weens sy koppigheid (of beginselvastheid – afhangende van hoe jy daarna kyk) sy vrou, sy kinders en sy plaas verloor, is waarskynlik so bekend aangesien dit jare lank op skool voorgeskryf is. Dit word ook deur baie kritici as die beste “ouer” roman in Afrikaans beskou. Van Melle was oorspronklik van Nederland. Hy het as onderwyser na Suid-Afrika gekom waar hy aanvanklik in Nederlands geskryf het. Bart Nel is byvoorbeeld eers in Nederlands geskryf met Afrikaanse dialoog, voordat hy dit later heeltemal in Afrikaans oorgeskryf het. Die politieke spanning onder Afrikaners (soos in Bart Nel), en die impak van droogte en swaarkry op arm boeregemeenskappe (soos in Verspeelde lente) staan sentraal in sy werk. Telkens val die klem op die gevolge van hierdie omstandighede op mense se persoonlike lewens en op die keuses wat hulle uitoefen. Onder sy kortverhale is die “oom”- verhale, “Oom Karel neem sy geweer saam”, “Oom Daan en die dood” en “Oom Diederik leer om te huil”, baie bekend. In Die storie agter die storie Willie Burger kyk na Johannes van Melle se kortverhaal ‘Oom Diederik leer om te huil’ hierdie verhale word bejaarde ooms met die naderende dood gekonfronteer en hulle dink na oor die hiernamaals (of daar gewere en Bybels in die hemel sal wees). Hierdie vrae oor die hiernamaals lei tot nadenke oor die lewe. “Oom Diederik leer om te huil” (uit 1938) het seker die ernstigste toon van die drie verhale. Die 70-jarige oom Diederik boer op ’n klein plasie wat omring word deur ander klein plasies van sy kinders en ander bekendes. Almal is kleinboere “wat hard moet werk om hul grondjies te behou”. In hierdie hegte gemeenskap is almal familie van mekaar of ken mekaar goed (soos die “oom” in die titel aandui). Die gemeenskap word deur gedeelde swaarkry gebind. Benewens die armoede word hulle deur malaria geteister. In byna elke huishouding is iemand ernstig siek of sterf iemand. Wanneer oom Diederik ook malaria kry, word hy herhaaldelik deur dieselfde koorsdroom geteister. In sy droom is hy met sy kar en perde op ’n pad. Hy weet nie waarheen die pad lei nie, maar hy is intens bang dat daar ’n hek voorlê wat sy weg sal versper. Dan doem daar inderdaad hekke voor hom op en by elke hek word hy eers ondervra voordat hy deurgelaat word. Sy vrees dat hy nie die regte antwoord by ’n volgende hek sal kan gee nie, word al sterker. By die eerste hekke gaan die vrae oor oom Diederik se trou aan sy eie volk en hy word maklik deurgelaat – hy was immers op sy pos tydens die Boereoorlog en gedurende die rebellie het hy selfs vir die Sappe gebid. By ’n volgende hek gaan hy ietwat moeiliker deur wanneer hy moet erken dat hy, al het hy sy plaaswerkers volgens hom goed behandel, nie regtig probeer het om die evangelie aan hulle te bring nie. Nietemin word hy deurgelaat en hy kan al sy bestemming, ’n kerk, raaksien wanneer hy weer gestop word. Hierdie keer vra die hekwag hom waarom hy nie huil nie. Hy verduidelik dat hy tog nie kan aanhou treur oor die terugslae of oor sy sondes nie. Hoewel die hekwag daarmee saamstem, word hy nie deurgelaat nie, maar teruggestuur om eers te leer huil. Die herhalende droom ontstel oom Diederik en hy vra sy predikant of ’n Christen voortdurend behoort te treur. Die predikant en die ouderling kan egter slegs ’n paar clichés as antwoorde bied. Die holruggeryde antwoorde troos nie vir oom Diederik nie en hy vra die predikant om liewer uit die Bybel te lees. Die predikant voel toenemend selfbewus omdat hy nie ’n toepaslike stukkie voorberei het nie, maar bloot lees waar die Bybel oopval. Toe hy egter Lukas 19:41 lees, ’n vers waarin staan dat Jesus oor Jerusalem gehuil het, is oom Diederik tot almal se verbasing tevrede. Uiteindelik, ná almal se vertrek, oorval ’n groot droefheid oom Diederik omdat hy 70 jaar geleef het sonder om trane oor die “mensdom se nood en sonde” te stort. Hy besef dat dit nie genoeg is om net oor die lot van jou eie mense, of selfs die lot van ander mense met wie jy in aanraking kom, begaan te wees nie, maar dat ’n ander ingesteldheid nodig is: ’n liefde vir die ganse wêreld wat veroorsaak dat ’n mens oor die “mensdom se lot” bedroef is. Die verhaal plaas groot klem op die geborgenheid binne hierdie arm boeregemeenskap waar elkeen ’n tuiste het, almal mekaar ken en dieselfde waardes deel. In sulke omstandighede kan ’n mens maklik in (self)tevredenheid verval – ’n ontdekking wat die leser saam met oom Diederik maak. Getrou aan die prosa van die dertigerjare bied hierdie verhaal nie werklik ’n onthutsende ontdekking vir die leser nie, maar jy word getroos deur die besef dat oom Diederik “die hek weldra sal deurgaan”. Vk
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.