Willie Burger vertel hoe belangrik dit is om met ‘n karakter te kan identifiseer
In die vorige aflewering is gesê dat ’n leser twee dinge nodig het om ’n karakter in ’n roman te kan "leer ken": inligting, wat bietjies-bietjies oor die karakter bymekaargemaak word, en ’n verbeelding, wat die leser in staat stel om met die karakters te identifiseer. Om ’n karakter te leer ken, is nie bloot die bymekaarsit van ’n klompie legkaartstukke (brokkies inligting) nie. As dit al is wat ’n leser doen terwyl hy/sy ’n roman lees, sal die roman nie ’n belewenis word met ’n effek op die leser nie en sal die karakters nooit soos mense ervaar word nie. Die lees van ’n roman word eers ’n belewenis wanneer die leser met karakters identifiseer.
Wat hier met die woord "identifiseer" bedoel word, is nie bloot dat ek dink of wens dat ek soos ’n bepaalde karakter is nie. As dit al was, sou ’n leser dalk net met die helde wou/kon identifiseer, of dalk juis met die skurke. Met identifiseer word nie slegs hierdie soort "wens-ek-was-so" of die gevoel van "dit-is-presies-soos-ek-is" bedoel nie. Om met ’n karakter te identifiseer beteken dat ’n karakter in die roman ’n belewenis kan hê, byvoorbeeld die aroma van koffie kan ruik en dat jy as leser daarmee kan identifiseer omdat jy daardie aroma ken. Só word iets van daardie karakter se belewenis vir jou beleefbaar, die karakter word vir jou "lewendig".
As leser is ek nie besig om ’n sielkundige profiel van ’n karakter saam te stel nie. Natuurlik kan ’n mens dalk by ’n karakter ’n bepaalde sielkundige afwyking of ’n sekere persoonlikheidstipe identifiseer, maar dit is nie die sentrale rede waarom ’n mens ’n roman lees nie. Soms kry ’n mens by die lees van ’n roman die gevoel dat karakters sommer so uit onverwerkte sielkunde-inligting uit Wikipedia aanmekaargesit is. Hierdie soort romans is uiteindelik vervelig, juis omdat dit nie identifisering moontlik maak nie.
Eers wanneer ons as lesers die storiewêreld van die roman vanuit die oogpunt van die karakters ervaar, wanneer ons met die karakters se sensoriese en emosionele belewenisse identifiseer en sodoende hul wêreld ervaar, word die romanwêreld vir ons ’n "werklikheid". Dan word ek (ten minste vir ’n rukkie) uit my eie manier van kyk na die wêreld in ’n ander se ervaring van die wêreld getrek. Ek verstaan die wêreld deur die oë van ’n ander. Wanneer ek dít doen, is my wêreld verruim.
Orhan Pamuk, die Nobelpryswenner, skryf dat identifisering met karakters veel belangriker is as om die karakters se motiverings of optrede te verklaar en morele oordele oor die karakters uit te spreek. Veel eerder moet die leser iets van die wêreld soos dit vir daardie karakters is, beleef. Volgens Pamuk beleef ’n leser die karakters se wêreld deur die fyn sensoriese detail, deur hoe dinge vir die karakter lyk en ruik en voel en proe. Die manier waarop die karakter geroer word, waarop sy/haar emosies en gedagtes oor die opkomende son wat blink op die ryp beskryf word, is waarmee die leser kan identifiseer.
Omdat identifisering van die fyn, sensoriese detail afhang, is daar minstens twee vyande van oortuigende karakterisering. Die eerste is as al die inligting deur direkte karakterisering aangebied word – sonder enige fyn besonderhede oor die karakters se eie belewenisse. Die tweede is wanneer karakters clichés word, wanneer die karakter "gemaak" word uit ’n idee wat die skrywer oor ’n "soort" mens het – die tiener, die bejaarde, die vrou, die slet, die held.
Volgens Orhan Pamuk skryf Tolstoy nie oor Anna Karenina omdat sy ’n sekere soort karakter het nie. Hy skryf oor ’n ongelukkig getroude vrou in ’n trein wat besig is om ’n roman te lees terwyl dit buitekant sneeu. Al hierdie klein besonderhede maak dat ’n mens met haar kan identifiseer. Daarom skryf Pamuk:
"The most distinctive aspect of the art of the novel is that it shows the world the way the protagonists perceive it, with all of their senses. And since the broad landscape we view from afar is described through their eyes and through their senses, we put ourselves in their place, are deeply moved, and migrate from one figure’s perspective to another to comprehend the general landscape as a feeling experienced from within."
(Pamuk, 2010:76).
Die verwysings na Pamuk kom uit: Pamuk, Orhan. 2010. The Naïve and the Sentimental Novelist. London: Faber & Faber