Willie Burger kyk na waarom die boekrak nie meer ’n ereplek in baie huise het nie
Willie Burger
Die boekrak is vinnig besig om ’n bedreigde meubelstuk te word. Daar was ’n tyd toe die nederige boekrak, swaar gelaai met indrukwekkende boeke, ’n belangrike plek in menige huis ingeneem het. Die boekrak is ’n laetegnologiemeubelstuk wat deur hoër tegnologie verdring word. In baie huise moes die boekrak hoek toe, of in die gang af, dalk na die motorhuis of pandjieswinkel skuif, om vir die grootskerm-TV plek te maak. Vir vermaak wend mense hulle steeds meer tot TV en rekenaars, en baie ure wat voorheen met lees verwyl is, word nou voor elektroniese skerms deurgebring. In baie gevalle beteken dit dat minder boeke aangeskaf word en boekrakke dus oorbodig raak.
Hoewel TV’s, rekenaars, selfone en tablette ’n baie wyer verskeidenheid van vermaak bied as wat ons ouers en grootouers in die 1950’s of 1960’s gehad het, beteken dit nie dat mense aan die begin van die 21ste eeu heeltemal opgehou het om te lees nie. Trouens, daar word nou méér boeke as ooit tevore geskryf en uitgegee. Dit is net dat hierdie boeke dikwels nie meer op ’n boekrak kom staan nie omdat baie mense verkies om boeke liewer in elektroniese formaat aan te skaf. Elektroniese boeke het natuurlik baie voordele: Jy kan die boek dadelik aanskaf en binne sekondes begin lees. Ook kan jy sommer ’n hele biblioteek vol boeke met jou saamdra en dit selfs in daardie kort oomblikkies tussen vergaderings (of ín vergaderings) op jou selfoon sit en lees.
Daar is egter ook ’n ander, meer betekenisvolle, bedreiging vir die boekrak: statusverlies. Eens op ’n tyd het ’n boekrak vol boeke ’n belangrike stelling oor die inwoners van die huis gemaak. Hierdie huis se mense, só het daardie trotse boekrak vol boeke getuig, is opgevoede, beskaafde mense. Hulle is ingeligte en denkende mense. Veral in ’n tyd toe boeke baie skaars en duur was, was die boekrak met ’n paar boeke daarin ’n belangrike statussimbool. Namate geletterdheid sedert die 17de eeu uitgebrei het, het boeke ’n belangriker rol in gewone mense se lewe begin speel.
Boekebesit was nie meer die uitsluitlike voorreg van enkele geleerdes nie. Teen die middel van die 19de eeu het die bekende Engelse digter Matthew Arnold daarop aangedring dat skoolleerplanne op “die beste wat deur die eeue geskryf en gedink is” moet fokus. Die redenasie was dat blootstelling aan hierdie beste werke ’n sekere “beskawende invloed” op die gewone mense, die werkersklas, sou hê. Die idee dat ’n mens op skool nie slegs moet leer lees en somme maak nie, maar ook “gevorm” moet word; opgevoed moet word om ’n goeie landsburger en mens te wees, het daartoe gelei dat “vormende vakke” op skool aangebied is.
Daarom moes kinders letterkunde lees – die beste wat deur die eeue geskryf is – om deel van die “beskaafde” wêreld te kon word. Die meeste van ons het om hierdie rede byvoorbeeld met Shakespeare op skool kennis gemaak, en ons het gedigte gelees van Wordsworth en Yeats; en van Van Wyk Louw, Opperman en Krog. Om te weet wie hierdie mense was, en om ’n paar van hul boeke op jou rak te hê, was dus, sekerlik nog tot in die 1960’s, ’n belangrike manier om te wys dat jy ’n opgevoede mens is – iemand met hoë waardes, baie kennis en waardering vir die fyner denke. Oor die afgelope drie dekades het die belangrike rol van hierdie “hoë kultuur” baie afgeneem.
Jy sal beswaarlik nog jou bure se respek met ’n boekrak vol boeke afdwing. Hulle mag dalk eerder lag en vra waarom jy nie liewer die geld in aandele belê het nie. Niemand word meer snaaks aangekyk as hulle dink Dostojefski is ’n politikus uit Oekraïne of Franz Kafka is die naam van ’n spioen in ’n videospeletjie nie. Soos weinig mense nog met waardering na jou boekrak sal kyk, is daar ook baie min wat waardering vir jou kennis van skrywers en boeke sal hê. (En daarom sal baie mense ook vra waarom ’n tydskrif soos hierdie selfs ’n boekeblad het.) In die volgende paar maande gaan ek in hierdie rubriek na die redes vir hierdie verandering kyk, en na die implikasies daarvan vir lesers en vir skrywers.
Kurt Vonnegut
Kurt Vonnegut (1922- 2007) is ’n skrywer wat dit in sy boeke telkens vir ’n mens moontlik maak om op ’n ander manier na ons wêreld te kyk. Ons aanvaar so baie dinge as vanselfsprekend, maar wanneer ’n mens net ’n bietjie vanuit ’n ander hoek na ons alledaagse gewoontes en idees kyk, kom jy dikwels agter dat die idees en gewoontes nie so “normaal” is as wat ons gedink het nie. In verskeie romans is Kilgore Trout, die skrywer van wetenskapsfiksie, ’n belangrike karakter en deur die aweregse blik van die wetenskapsfiksieskrywer word baie van ons idees – veral die idee dat ons in beheer van ons lewens en die wêreld is – bevraagteken. Lees gerus Breakfast for Champions (1973) en ek dink elkeen behoort Slaugterhouse 5 (1969) op sy/ haar lysie te hê van boeke wat gelees móét word.