Willie Burger
Teen die laat 1980’s het die woord “postmodernisme” al meer in mense se woordeskat begin opduik en deesdae word die begrip so baie gebruik om soveel verskillende dinge te beskryf dat dit eintlik onmoontlik is om die betekenis daarvan vas te pen. Dikwels word haas enigiets wat onlogies is en nie met wetenskaplike kennis verklaar kan word nie, postmodernisties genoem. ’n Ander definisie van postmodernisme lui: “Anything goes, nothing matters.”
Wanneer ons ’n literêre teks as postmodernisties beskryf, sê ons egter nie daarmee dat daar ’n klomp onversoenbare goed in die teks saamgegooi is en dat dit enigiets wat jy wil hê, kan beteken nie. Koos Prinsloo was een van die eerste kortverhaalskrywers in Afrikaans wie se werk postmodernisties genoem is. Sy bundel Jonkmanskas het in 1982 verskyn.
Die titelverhaal, “Die jonkmanskas”, gaan oor ’n jongman, Koos, wat ’n manuskrip van sy ouma ontvang met die opdrag dat hy moet sorg dat dit gepubliseer word. Die manuskrip beslaan drie skryfblokke en is deur sy oupa geskryf. Die titel daarvan lui: “Ervaringe op Safari in Kenia.” Koos se oupa het hom ná die Anglo-Boereoorlog in Kenia gaan vestig en vertel in die manuskrip van sy wedervarings.
Hy sluit die vertellings af met ’n naskrif: “Ik kan die lesers fan hierdie eenvoudige jagtersverhale ferseker dat hierdie gebeurtenisse wat ik beskrijf het nie uitgedink is of uit geleesde boeke kom nie. Alles het werklik gebeur en is nie fersindsels nie, maar ware manlike ondervindings.” Anders as wat die ouma van Koos verwag, publiseer hy nie bloot ’n geredigeerde weergawe van hierdie manuskrip nie. In die kortverhaal word slegs ’n deel van hierdie manuskrip opgeneem – en Koos maak ook allerlei skeptiese voetnotas by die manuskrip wat hy oortik. In die gedeelte van die manuskrip wat Koos oortik, word vertel hoedat die oupa in vuisgevegte betrokke raak en verwoestende jagtogte onderneem.
Koos tik egter nie net die manuskrip oor en maak aantekeninge uit historiese bronne daarby nie; hy vertel ook die verhaal van hóé hy die manuskrip by sy ouma kry, meer by haar en sy ouers oor die oupa se geskiedenis uitvind en hoedat hy besig is om die manuskrip oor te tik. Hy vertel byvoorbeeld hoedat hy sy tikwerk onderbreek om in ’n boek na te slaan waar jag beskryf word as die vernaamste uitdrukking van manlikheid.
Die verhaal begin met ’n vertelling van Koos wat saam met vriende eet en by hulle die woord “jonkmanskas” hoor. Hierna word vertel hoedat hy die volgende dag by ’n pandjieswinkel inloop en ’n manuskrip, ’n goue sakhorlosie en twee foto’s uit ’n jonkmanskas in die winkel haal en dan sy eie (onvoltooide) getikte storie daarby neersit. Hierdie storie, Koos se eie manuskrip, dra die titel “Die verlangste was te groot” en hierin vertel hy hoedat hy en sy ouma ’n reis na sy ouers onderneem. Hy vra haar baie vrae oor sy oupa.
Die eerste paragraaf van sy storie eindig met die woorde: “Die kennis wat ek van my grootouers dra, is beperk en subjektief. Hierdie verhaal is dus blote fiksie.” Naby aan die einde van die verhaal – nadat hy die oupa se manuskrip en naskrif oorgetik het, staan daar: “Die storie sou kon aangaan …” Hy vertel dan van ’n moontlike opvolgbesoek aan sy ouma waartydens hy sou begin huil omdat “die hartseer van die jare” hom oorval, maar dat sy trane sy ouma onbewoë laat. Aan die heel einde is Koos terug in die meubelwinkel en hy klim onder die protes van die winkeleienaar in die kas en trek die deure agter hom dig.
My beskrywing van die verhaal mag verwarrend voorkom. Telkens word vertel van iemand wat ’n storie vertel of skryf, of vertel hoedat hy ’n storie skryf. Op hierdie manier word dit duidelik hoedat die hele verhaal “gemaak” is. Tradisioneel probeer kortverhaalskrywers om vir die leser oortuigende gebeurtenisse te beskryf om te vertel van iets wat gebeur het (selfs al is dit “onrealisties”) en probeer om die leser by die verhaal in te trek, dat jy as ‘t ware die gebeurtenisse voor jou “sien afspeel” en vergeet dat dit “net ’n storie” is.
Hier, soos in baie postmodernistiese verhale, word die leser egter daaraan herinner dat dit ’n storie is wat gemaak word; die verteller lê bloot hoe hy die storie uitdink. In hierdie verhaal word die oupa (en ouma) se opvattings oor wat “ware manlikheid” is, teenoor Koos se ervaring van sy manlikheid gestel. Die grens tussen feit en fiksie, tussen wat geloofwaardig en wat verbeelding is, word doelbewus vaag gemaak.
So word uiteindelik aangedui hoedat ons opvattings oor onder meer manlikheid en die verlede gemaakte idees is en nie vaste “feite” nie. Ook “ware” vertellings, waarvan die outeurs meen dat dit nie “versinsels” is nie, is nie betroubare afbeeldings van die werklikheid of van die verlede nie, maar dit word bepaal deur talle opvattings van die skrywers waarvan hulle self nie eens bewus is nie. Postmodernistiese tekste vestig deurentyd ons aandag daarop dat ons kennis altyd bepaal word deur ons onuitgesproke (dikwels onbewuste) opvattings.