Behalwe vir die ‘storie’, is dit belangrik om na die struktuur en plot van ’n roman te kyk
Baie mense assosieer romans met die vertel van stories. Ons praat dikwels van “storieboeke” wanneer ons na romans verwys. Dit is natuurlik waar dat in verreweg die meeste romans wel “stories” vertel word – stories wat in ’n mindere of meerdere mate “fiktief” is. Daarom word daar ook dikwels na romans as “fiksie” verwys.
Vir baie lank was die bestudering van romans byna sinoniem met “narratologie” of “vertelkunde”. Die aanname was natuurlik dat die romankuns in wese eintlik vertelkuns is, maar daar is ook talle romans waarin ’n mens dadelik besef dat die storie, dit wat hier gebeur, nie ál is waaroor dit gaan nie, dat dit selfs nie eers die belangrikste is waaroor dit in die roman gaan nie. Daarom is dit nodig om na die struktuur en na die plot van romans te kyk.
Die vertel van ’n storie behels eintlik twee prosesse. Eerstens is dit die rangskikking van gebeurtenisse in chronologiese volgorde. Enige eenvoudige storie word immers deur die gebruik van die woorde “en toe …” aanmekaargeryg: Eers het dit gebeur en toe dat en toe het dit gevolg.
Tweedens word die gebeurtenisse nie slegs chronologies gerangskik nie, maar ook deur ’n sekere logika aanmekaargeskakel: Eers het dit gebeur en daarom het dat toe gebeur en as gevolg daarvan het dit toe daarop gevolg en daarom is dit nou so.
Om ’n storie te vertel, is dus om sekere gebeurtenisse uit te soek wat die moeite werd is om te vertel, om hulle dan in chronologiese volgorde te rangskik (en toe … en toe …) en kousaal (in logiese verbande van oorsaak en gevolg: omdat … daarom …) met mekaar te skakel.
Hierdie rangskikking van die gebeurtenisse begin iewers met ’n situasie wat die leser se aandag prikkel, waarop ’n dramatiese verloop volg, tot by ’n betekenisvolle slot. Hierdie slot waarop alles uitloop, gee betekenis aan al die voorafgaande gebeurtenisse wat in die vertelling beskryf is. Die slot bepaal watter gebeurtenisse of handelinge wel in die storie opgeneem word. Enige gebeurtenis wat nie logies met die ander gebeurtenisse geskakel kan word wat op die doel uitloop nie, is onnodig vir die storie. Andersom kan ’n mens ook sê dat elke gebeurtenis, elke handeling, betekenis kry juis as gevolg van die plek wat dit in die storie het.
Só kan ’n baie alledaagse gebeurtenis, byvoorbeeld om jou tandeborsel te laat val, baie betekenisvol word as dit in ’n storie gebeur waarin die sekondes wat dit jou geneem het om die tandeborsel op te tel, veroorsaak het dat jy jou trein verpas het en dat dit juis die trein was wat ontspoor het. In hierdie lig word daardie enkele handeling skielik (lewens)belangrik.
As ek egter vertel dat ek my tandeborsel laat val het en dit speel geen verdere rol in die storie nie, is dit ’n betekenislose handeling en sou my storie waarskynlik beter gewees het as ek dit uitgelaat het. Dit verveel bloot die mense wat na alles moet luister wat ek oor my dag se verloop vertel.
Hierdie samehangende struktuur wat die storieverteller skep, word ’n plot genoem. Die plot is dus ’n manier waarop sin gemaak word. Ons maak byvoorbeeld ’n plot uit sekere gebeurtenisse uit die verlede om sin te maak van hoe alles tot hier gekom het. Hierdie storie word geskiedenis genoem. Ons maak ook stories om die daaglikse nuus vir onsself verstaanbaar te maak. Ons luister na die joernalis wat die jongste storie uit Libië vertel, of na die ekonoom se storie wat die styging van die goudprys verklaar. Ek vertel selfs my eie storie om te verduidelik wie ek is. Kortom: Stories is die vernaamste manier waarop ons sin van onsself en ons wêreld maak.
Ons kies ook bepaalde plotstrukture vir die manier waarop ons stories vertel. Ek kan byvoorbeeld die storie van my lewe as komedie, tragedie, spanningsverhaal, romanse of speurverhaal vertel. Sommige plotstukture het, deur baie gebruik, al byna soos formules geword – die speurverhaal, die romanse, die spanningsverhaal, die riller.
In die volgende paar aflewerings word na formuleagtige plotstrukture gekyk, maar ook na die talle maniere waarop van ’n lineêre plot afgewyk word en hoe plot in sommige romans selfs heeltemal vermy word. Vk