Waar jy ook al kyk, word jy gereeld ingelig dat die tyd waarin ons leef, ’n krisistyd is
Daar is ’n diensleweringskrisis in die land. Onderwys is in ’n krisis. Daar is ’n morele krisis in die wêreld. ’n Klimaatskrisis dreig. Ons staar ’n politieke krisis in die gesig. Kerke ervaar ’n krisis met al meer lidmate wat geloofskrisisse ervaar. Humanitêre krisisse volg op die talle burgeroorloë en natuurrampe. Mediese sorg, veral vir diegene met ’n kleiner inkomste, is ’n krisis. Ons beleef ’n ekonomiese krisis … Waar jy ook al kyk, word jy gereeld ingelig dat die tyd waarin ons leef, ’n krisistyd is. Juis in ons land word hierdie gevoel van ’n krisis eintlik al dekades ervaar. Trouens, ’n mens sou kon redeneer dat byna elke generasie oor die afgelope 300 jaar (of meer) die land se situasie as ’n “krisissituasie” beskou het.
Saam met die ervaring van ’n krisis, loop daar altyd ’n gevoel van ’n dreigende eindtyd, ’n apokalips waarin die hele wêreld soos ons dit ken, tot niet sal gaan. Aan die ander kant hou die krisisgevoel ook die moontlikheid van ’n herlewing in, ’n nuwe rigting wat ingeslaan kan word. Gevolglik reageer mense dikwels op een van twee maniere op die ervaring van ’n krisis. Enersyds is daar diegene wat begin terugverlang na ’n vorige tydperk toe alles beter was (en dan probeer baie van hulle om daardie vorige tydperk weer nuwe lewe te gee; om daarna terug te keer). Hierdie reaksie kan ’n mens as ’n nostalgiese reaksie beskryf en daaroor is in verlede week se rubriek geskryf. Andersyds is daar mense wat die nuwe era met groot entoesiasme omarm, wat probeer om uit te reik na ’n verbeeldingryke, nuwe manier om die wêreld te beskou en om die samelewing anderkant hierdie “krisis” ’n beter vorm te gee. Daarom redeneer die politieke filosoof Robert Berki dat die reaksie op ’n krisis “verbeeldingryk” of “nostalgies” kan wees.
In die Afrikaanse wêreld is daar talle voorbeelde van nostalgiese reaksies op die ervaring van ’n krisis. Veral in gewilde liedjies soos Steve Hofmeyr se Pampoen en DKW of in Bok van Blerk se De la Rey en Land van melk en heuning kan ’n mens iets van ’n nostalgiese reaksie waarneem, ’n verlange na die “goeie ou dae” toe alles veel beter was as nou, in ons huidige tyd van krisis. (Volgens Van Blerk is Afrikaners nou leierloos en misken – maar vroeër was daar leiers, en Afrikaners het ’n regmatige plek gehad wat hulle nou ontneem is.)
In die vorige aflewering is gewys op Dana Snyman se kortverhale waarin daar ook dikwels met nostalgie op die huidige krisis gereageer word. In die Afrikaanse verhaalkuns is daar ook talle voorbeelde van verbeeldingryke reaksies op krisisse. Een taamlik onbekende kortverhaal deur Isak de Vries “Ons moet vir jou ’n bees slag” word hier as voorbeeld van so ’n verbeeldingryke reaksie op die ervaring van krisis voorgehou. In hierdie verhaal wil die een karakter baie graag trou met ’n meisie vir wie hy baie lief is, maar hy sukkel met impotensie. Dit blyk gou dat daar fisiek niks met hom skort nie en dat dit ’n sielkundige probleem is. Hy, sy vriend en sielkundiges kan egter nie die probleem oplos nie.
Uiteindelik raadpleeg die jong man ’n sangoma, wat hom weer na ’n ander sangoma verwys omdat die probleem so groot is. Tydens ’n seremonie waaraan ’n hele Zoeloegemeenskap deelneem en ’n bees geslag word, praat die sangoma in Portugees en dit word duidelik dat die jongman, toe hy tydens diensplig aan die grensoorlog in Angola deelgeneem het, by die dood van burgerlikes betrokke was. Tydens die beesslagritueel kry hy kans om die wandade waaraan hy aandadig was, af te lê. Omdat dit ’n ritueel is wat veel verder strek as die blote “belydenis” van ’n individu of die skulderkenning in ’n juridiese proses, neem die hele gemeenskap sy wandade uit die verlede op hulle – almal eet saam van die bees, en uiteindelik word versoening bewerkstellig.
Elke individuele oortreding is die hele gemeenskap se oortreding; dit is almal se verantwoordelikheid. Die jongman kan daarna kommervry in die huwelik tree – ’n huwelik wat in die Voortrekkerkerk in Pietermaritzburg plaasvind, terwyl ’n reënvoël op die borsbeeld van Andries Pretorius roep, en terwyl taxi’s buite harde musiek speel. Die tradisies van Afrikaners en dié van Zoeloes word kreatief saamgevoeg en sonder die verlies van identiteit word met ’n verlede van skuld deur ’n hele gemeenskap afgereken wat saam vir die ganse verlede verantwoordelikheid aanvaar – van almal se aandeel daaraan, sodat ’n alternatiewe voortbestaan oopgemaak word. ’n Ander moontlikheid word oopgemaak, nie nostalgies nie, nie ’n oppervlakkige aanvaarding van ’n vae reënboognasie nie (daarvoor is die trant van die verhaal en die emosionele diepte veels te ingewikkeld), maar ’n omarming van die moontlikhede wat ’n nuwe kulturele opbloei kan oopmaak.