Net soos jy met verskillende mense op verskillende maniere gesels, is daar ook uiteenlopende boeke wat jy op verskillende maniere en om uiteenlopende redes lees
Sommige mense het nie juis veel om te sê nie, maar hulle vertel stories so lekker dat ’n mens dit geniet om sommer net na hulle te luister. Ander mense het weer altyd interessante inligting of idees. Party praat net oor sport, ander slegs oor hul eie emosies.
Soms laat gesprekke ’n mens nog jare daaroor nadink. Jy kan dalk woordeliks onthou wat iemand eendag lank gelede vir jou vertel het. Dit mag selfs woorde wees wat jou op die een of ander manier beïnvloed het om ’n deurslaggewende keuse te maak – die rede waarom jy ’n beroep of ’n huweliksmaat gekies het.
Om te lees is om met ’n boek in gesprek te tree. Nie net is daar verskillende gespreksgenote of soorte boeke wat jy kan lees nie, jy kan ook op verskillende maniere aan die gesprek deelneem: jy kan jou verlustig in die vertelling, jy kan ondervragend lees, nuuskierig oor wat die ander wil sê, of jy kan by voorbaat besluit jy weet beter. Die houding waarmee jy in die gesprek ingaan, bepaal hoe jy jou gespreksgenote sal ervaar.
’n Mens kan natuurlik verwag dat iemand met wie jy gesels antwoorde op jou vrae moet gee (daarom gesels sommige mense met die sielkundige of die dominee). So verwag mense ook soms van boeke dat alle antwoorde daarin moet wees. Hierdie soort lesers verslind dikwels die een boek na die ander op soek na die finale antwoord. Of hulle wy al hul tyd aan die lees van ’n enkele boek in die verwagting dat hulle die verborge antwoord daarin sal ontdek. Sulke lesers kan soms afwysend of neerhalend reageer as iemand ’n ander gesprek wil voer of ’n ander boek voorstel. Kyk byvoorbeeld hoe ontstoke reageer sommige kreasioniste op boeke oor evolusie.
in gesprek te tree en jy kan ook
op verskillende maniere
aan die gesprek deelneem’
Net soos daar stil mense is wat geselskap vermy, is daar ook mense wat liewer nie wil lees nie of wat net kolomme, tabelle en grafieke lees. Vir hulle is lees net ’n kletsery van verveelde vrouens of snaakse ouens met bont klere en stoppelbaarde, verloorders en drop-outs wat tyd mors onder skaduweebome in plaas daarvan om ’n bydrae tot die ekonomie te lewer.
Een van die voordele van lees, is dat ’n mens nie beperk is tot gesprekke met slegs die mense wat jy ken nie. Jy kan met die interessantste mense van regoor die wêreld in gesprek tree. Jy kan selfs ’n geselsie aanknoop met iemand wat al ’n duisend jaar gelede dood is!
Uit baie gesprekke leer ’n mens iets. Soms hoor jy iets wat jy nie geweet het nie en ander kere word jou idees uitgedaag. Gespreksgenote verskil soms van jou en bevraagteken jou manier van sien. Omdat elke mens ’n eie, unieke lewe het en die wêreld op ’n eie, unieke manier ervaar, beskryf elkeen die wêreld anders en dit is juis dít wat gesprekke so lekker maak.
Dit is ook wat die lees van boeke die moeite werd maak. As ons verhale van lank gelede, van uithoeke van die wêreld of van ’n ander se ervaring van dieselfde tyd en ruimte as ons s’n lees, kom ons agter hoe beperk ons eie beskouings is.
Soms hoor jy by iemand ’n uitdrukking wat ’n situasie of ’n emosie so ráák beskryf dat jy sê: Ja, dit is presies só! Dan begin jy ook dié uitdrukking gebruik. Wanneer jy lees, kry jy ook dikwels woorde waarmee jy jou eie gevoelens en ervarings beter kan beskryf. Dit help jou om jouself beter te verstaan.
Ek het al gewens dat ek ’n gesprek met iemand opgeneem het sodat ek weer en weer daarna kan luister. ’n Boek kan ’n mens gelukkig weer en weer lees. Sekere boeke gee eers hul geheim ná ’n paar keer se lees weg. Jy herlees slegs wanneer ’n boek vir jou besonder baie beteken het. Dit is wat gewoonlik met ’n “klassieke” werk bedoel word.
Die meeste boeke lees ons net een keer, dan het jy ’n indruk daarvan. Jy spreek dalk jou mening daaroor uit en gaan aan. Sekere boeke vra niks meer nie, maar ander loon die moeite om dit weer te lees. Dan sien jy ander dinge raak: patrone, teenstrydighede, subtiele verskuiwings.
Ongelukkig is sulke versigtige besprekings van hoe boeke “werk” dikwels tot ’n “akademiese omgewing” beperk.
In hierdie maandelikse bydrae gaan ek boeke bespreek, nie slegs waaroor dit gaan nie, maar ook oor hoe dit geskryf is, want dit is hoe ’n boek geskryf is wat die lees daarvan ’n vervelige of ’n meesleurende gesprek maak. Vk