Elke skrywer het ‘n unieke styl wat hy of sy byna soos ‘n vingerafdruk agterlaat
Ek het onlangs die voorreg gehad om as beoordelaar vir die Groot Afrikaanse Romankompetisie op te tree. Die uitgewers het ’n aantal manuskripte anoniem aan die paneel van drie beoordelaars voorgelê. Ons het dus nie geweet wie die skrywers van die manuskripte was nie. Op hierdie manier het die uitgewers probeer keer dat ons vooroordele oor sekere skrywers die beoordelingsproses beïnvloed.
Dit het nie baie gehelp nie.
Die poging om die name van die skrywers te weerhou, was net gedeeltelik suksesvol en die rede daarvoor lê in styl. Elke skrywer het ’n unieke styl wat hy of sy byna soos ’n vingerafdruk agterlaat. ’n Mens herken dit amper soos wat jy iemand se stem herken.
Styl is egter veel meer as net iets soos ’n spesifieke stemklank. Dit het te doen met die spesifieke woorde wat die skrywer gebruik, die manier waarop sinne gemaak word, hoe paragrawe gekonstrueer word … Soms kan ’n mens selfs aan leestekengebruik ’n sekere skrywer se werk herken.
Styl is nie ’n blote toevalligheid soos ’n stemklank of ’n vingerafdruk waaroor ’n mens geen beheer het nie. Jou styl word ook deur doelbewuste keuses bepaal. Natuurlik dink ’n mens nie elke dag in jou alledaagse skryfwerk, hetsy dit SMS’e, e-posse of die opstel van amptelike dokumente is baie na oor hoe jy skryf nie, maar selfs die eenvoudigste skryfwerk het met die uitoefen van keuses te doen. Niemand kies presies dieselfde woorde om ’n sekere emosie uit te druk, om iemand te oorreed of om ’n houding oor te dra nie.
Te maklik dink ons aan skryfstyl as ’n spoggerige of oordrewe “kunstige” manier om ’n idee te verwoord of ’n boodskap oor te dra. Skryfwerk vol tierlantyntjies en versierings word natuurlik maklik herken as ’n styl waarin die skrywer doelbewus aandag gee aan die manier waarop hy of sy skryf. En hierdie soort mooiskrywery is meestal erg irriterend. Maar styl is nie die blote versiering van die boodskap nie. ’n Mens skryf nie vinnig neer wat jy eintlik wil sê en dan voeg jy ’n paar mooi woorde, frases, spreekwoorde of rymwoorde by omdat dit vir jou mooi klink nie. Styl het eintlik te doen met ’n manier van dink oor die onderwerp waaroor jy skryf. Styl hang ten nouste saam met die onderwerp waaroor daar geskryf word en bepaal ook die betekenis van wat geskryf word. Styl kan nie van die betekenis losgemaak word soos wat geskenkpapier afgeskeur en weggegooi kan word as ’n mens eers by die eintlike geskenk, die betekenis, uitgekom het nie.
Dikwels verraai styl iets van die skrywer se houding teenoor dit waaroor hy of sy skryf. Dit is byvoorbeeld uit die styl wat ’n mens agterkom dat ’n skrywer iets ironies bedoel.
Styl maak dit by uitstek vir ons moontlik om een skrywer se werk van ’n ander te kan onderskei. Die Britse kritikus John Mullan het eenkeer oor styl opgemerk: “It is the hardest thing to catch, yet what often matters most to readers.”
Miskien juis omdat dit nie so maklik is om altyd ’n mens se vinger op al die verskillende aspekte van styl te lê nie, word die ondersoek van styl en die nadink daaroor dikwels nagelaat.
Ongelukkig is baie van ons heeltemal te onbewus van al die moontlikhede wat taal ons bied; van al die keuses ten opsigte van woordeskat, registers en sinskonstruksie en is ons sommer tevrede met die eerste formulering wat in ons kop kom. Die gevolg is dat ’n mens in gebreke bly om veel akkurater te formuleer.
Maar nog erger, ’n mens verloor die geleentheid om deur taal tot die ontdekking van ander betekenisse, ander gedagtes, ander emosies gelei te word. Vk
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.