Willie Burger kyk na ‘n klassieke werk van Gustave Flaubert
Willie Burger
Madame Bovary het in1857 vir die eerste keer in boekvorm verskyn. Gedurende die vorige jaar is die roman as ‘n vervolgverhaal gepubliseer.Sommige het die verhaal as onwelvoeglik beskou weens die gewaagde uitbeelding van owerspel daarin en Flaubert is aangekla in ‘n poging om die boek te verbied.
In ‘n belangrike oorwinning teen sensuur is Flaubert vrygespreek, die boek is nie verbied nie,en toe dit in 1857 uitgegee is, het dit ‘n blitsverkoper geword. Die verhaal is eintlik die baie bekende en voorspelbare gegewe van romantiese fiksie: dit gaan oor ‘n man en ‘n vrou. Hy is ‘n baie middelmatige, doodgewone man wat tevrede is met sy stil, alledaagse bestaan as kleindorpse dokter. Sy is beeldskoon, droom van groot liefde en is verveeld met die alledaagse vaalheid van hul middelklasbestaan. Sy lees baie liefdesverhale wat haar al meer na opwinding en vervullende liefde laat verlang en sy knoop ‘n liefdesverhouding met ‘n veel opwindender man as haar eie man aan.
Hy laat haar egter in die steek as sy ná vier jaar eis dat hulle saam moet wegloop. Sy probeer tevergeefs om vervulling in haar huwelik te vind en knoop weer ‘n liefdesverhouding aan, wat eweneens nie gelukkig eindig nie. Intussen probeer haar simpatieke man onsuksesvol sy bes om haar te verstaan en om vir haar goed te wees. Ten einde van haar diep ongelukkige huwelik en mislukte liefdesverhoudings te ontsnap, spandeer sy baie geld op allerlei luukshede en raak al dieper in die skuld. Wanneer sy uiteindelik moet terugbetaal, wil nie een van haar voormalige minnaars vir haar geld leen nie en sy pleeg selfdood. Haar man ontdek al haar liefdeskorrespondensie, maar probeer steeds om haar te verstaan en te vergewe. Hy verloor egter al sy besittings weens die skuld wat sy vrou gemaak het en dan sterf hyook. Hul dogter moet uiteindelik in ‘n fabriek gaan werk om ‘n bestaan te maak. Dit is ‘n hartseer verhaal wat miskien baie clichématig voorkom.
Ons ken hierdie soort karakters en gebeurtenisse uit romantiese fiksie. Nietemin word Madame Bovary as een van die belangrikste romans in die geskiedenis van die romankuns beskou. Die kritikus James Wood skryf oor Madame Bovary in sy boek, How Fiction Works: Novelists should thank Flaubert the way poets thank spring: it all begins again with him. There really is a time before Flaubert and a time after him. Flaubert decisively established what most readers and writers think of as modern realist narration, and his influence is almost too familiar to be visible. Madame Bovary word wyd beskou as die eerste “moderne” roman, vol fyn besonderhede, sonder sentimentele beskrywings, sonder onnodige kommentaar deur die verteller en sonder waarde-oordele wat uitgespreek word, met ‘n oënskynlik objektiewe aanbod van alles wat gebeur (selfs alsou dit potensieel skokkend of weersinwekkend wees).
Die dialoog word tot net die nodige beperk. Die karakters gee nie uitgebreide toesprake waarin al hul gedagtes en twyfel en motiverings uitgespel word nie, soos wat dikwels die geval in ouer romans was.Flaubert maak eerder van die sogenaamde“vrye-indirekte rede” gebruik waarin dit soms baie moeilik is om te onderskei of die vertelling aan ‘n karakter of aan ‘n verteller buite die verhaal behoort. Die gevolg is dat die leser soos ‘n objektiewe waarnemer voel ,eerder as iemand wat deur die karakters of die verteller se idees in ‘n rigting gestuur word.
Ook die opstapeling vanfyn besonderhede laat die leservoel asof alles tot ‘n “ware”en betroubare weergawe van die alledaagse werklikheid bydra, sonder dat die leser agterkom hoedat inligting gemanipuleer word. Natuurlik is daar ook fyn besonderhede in romans wat vóór Madame Bovaryverskyn het, maar Flaubert het hulle op’n heeltemal nuwe manier aangewend. Sedertdien gebruik alle fiksie, ook populêre fiksie, die verteltegnieke van Flaubert om vertellings ‘n gevoel van “waarheid”, van ongemanipuleerde aanbieding van bloot die feite en gebeurtenisse soos wat dit plaasvind, te gee.
Die invloed van Flaubert se Madame Bovary op 20ste eeuse romans is duidelik, maar hy het selfs (volgens Wood) ‘n invloed op die rolprentkuns gehad, waarin ‘n kamera wat van wyd af geleidelik nader fokus ‘n tipiese filmtegniek geword het – ‘n tegniek wat sy oorsprong in Flaubert se beskrywings het. Uiteindelik bly die roman egter ‘n roerende ervaring, ‘n skerp analise van middelklasbestaan, van die beperkings en gemeenheid, die agterdog en selfsug van gewone mense; van die botsing tussen romantiese verwagtings en burgerlike realiteit.