Kinders is die volgende planeetbestuurders en daarom moet hulle vroeg al meer oor die natuur leer. Kry hier wenke
Alita Steenkamp
Ouers besef nie altyd watter belangrike taak op hul skouers rus nie. ‘n Wyse man het eens gesê ons erf nie die aarde by ons voorvaders nie, ons leen dit by ons nageslag. Die kinders van vandag is die geslag wat vorentoe na die aarde en al sy bewoners, sy diere- en planteryk moet omsien, daarom mag geen ouer hierdie belangrike taak nalaat om hul kinders met ‘n liefde vir die aarde op te voed nie.
Mark Tennant is ‘n natuurkenner met ‘n verskeidenheid baadjies. Met sy Animals, Arts and Ancestors-toere bied hy ‘n blik op die ryk geskiedenis van fossiele wat hier in Suid-Afrika aangetref word. As Mark nie iewers in Afrika besig is om ‘n toergroep te lei nie, hou hy graag praatjies by skole om kinders van ons ongelooflike en interessante omgewing bewus te maak.
“Kinders is ons toekomstige planeetbestuurders. Ou mense het nie meer die energie of die lus om die wêreld te red nie en daarom moet ons kinders opgewonde oor die omgewing maak. Dit is ook veels te laat om te wag totdat ‘n kind skoolgaande ouderdom is voordat jy hom meer oor die natuur wil leer. Dan is die kind reeds in sy gewoontes gevestig en gaan jy sukkel om werklik ‘n passie vir die natuur by hom te kweek,” sê Mark.
“Die heel belangrikste ding wat ‘n mens vir ‘n kind moet leer, is om respek vir alle ander lewende wesens te hê, hoe klein ook al. Daardie respek wat hy teenoor iets in die natuur betoon, sal ook maak dat hy ‘n respek vir homself en die ander mense om hom het. Respek vir die mense, diere en omgewing is die enigste manier waarop jy ‘n kind kan leer om vir homself ‘n beter lewe en daarom ook ‘n beter toekoms te skep.
“Jy kan al vir ‘n driejarige leer om nie die hond of kat se stert te trek of ‘n insek sonder nadenke plat te trap nie. Baie keer sal ‘n ma die verkeerde voorbeeld stel deur spinnekoppe dood te slaan. Hierdie optrede leer vir ‘n kind ‘n aggressiewe aanslag. As jy liewer vir ‘n kind wys jy verwyder ‘n spinnekop uit die huis en laat dit in die tuin vry, toon jy só respek vir die dier en leer jou kind ook daardie nodige respek aan.”
Mark sê kinders kan al op ‘n baie jong ouderdom aan die natuur blootgestel word, bloot deur in jou tuin na sekere plante en diere te kyk. Elke klein diertjie vervul ‘n belangrike rol in die omgewing.
“Wys jou kind daarop dat spinnekoppe die muskiete vang wat ‘n mens kan siek maak. Net so vang ‘n slang die rotte en muise wat siektes en plae veroorsaak. Jou tuin is ‘n wonderlike bron van inligting. Deur ‘n saadjie te plant, nat te gooi en te wag dat dit opkom, is die ideale manier om ‘n kind te leer hoe die lewensiklus van plante werk.
“Boonop kan ‘n mens in jou tuin vir jou kind van die verskillende seisoene leer en watse veranderings plaasvind wanneer die seisoene begin draai.”
Mark meen mense wat die Krugerwildtuin en ander reservate besoek bloot om die Groot Vyf te soek, mors kosbare tyd. Daar is ‘n magdom ander soorte insekte, groter diere en voëlsoorte om enige besoek aan dié natuurreservaat baie opwindend te maak.
“Dis ‘n lekker invalshoek om aan jou kinders te verduidelik alle diere, van die majestueuse leeus, die magtige olifante, regdeur tot by die kleinste skoenlapper, hardloop almal in dieselfde wedloop: die wedloop vir oorlewing.
“Dis skrikwekkend om te besef meer as 98% van die spesies wat ooit op die planeet bestaan het, is reeds uitgewis. Elke klein kreatuur is hier om ‘n spesifieke rede en om daardie rede te soek, kan netso opwindend wees as om na leeus te soek.”
Mark gee nog wenke
• Leer jou kinders van kleins af om nie water of elektrisiteit te mors of rommel te strooi nie. As hulle dit van kleins af doen, word dit mettertyd ‘n lewenswyse en dit kan baie tot die bewaring van ons planeet bydra.
• Wees jy die voorbeeld deur respek vir die omgewing te hê. Kinders is na-apers – hulle sal op die ou end alles wat jy sê en doen, navolg.
• Besoek die dieretuine en wildparke in jou omgewing. Dit bied die ideale leergeleentheid om jou kind meer van die natuur te leer en is terselfdertyd ideale gesinstyd.
• Leer jou kind hoe om diere waar te neem en hoe om hulle versigtig te hanteer.
• Wanneer jou kind ‘n troeteldier wil hê, is dit belangrik dat hy met die versorging van die troeteldier help.
• Katte, honde, witrotte en hamsters maak goeie troeteldiere vir kinders.
• Eksotiese diere en reptiele is nie ‘n goeie keuse nie omdat dit baie spesifieke versorging nodig het en kinders gaan sukkel om sulke diere op die duur te versorg. Nie net is dit ‘n groot uitdaging om die temperatuur vir hierdie diere te reguleer nie, maar die besondere kosse wat sommige van die eksotiese reptielspesies moet eet, kan ook baie duur wees.
Voorskoolse kinders
’n Kind is van kleins af natuurlik geïnteresseerd in ons wonderlike omgewing. Hul oë volg vanself ‘n vlindertjie wat rondfladder, ‘n voëltjie wat op die gras rondwip of die helder kleure van ‘n flamink. Net so verkneuter hulle hulself oor die sagte pels van ‘n klein hasie of katjie of die skoonheid van ‘n blom.
Neem jou jong kind dikwels buitetoe waar hy met sy kaal voete op die gras kan loop, kan kyk hoe ‘n voëltjie vlieg of voel hoe die wind waai.
Begin ‘n klein tuintjie en laat jou kleuter toe om te help natlei, gaan kyk saam hoe die tamaties aan die plant ryp word en soek tussen die blare vir ‘n ryp aarbei.
Maak dit ‘n gesinstradisie om een keer ‘n jaar ‘n boom te plant. Dis wonderlik om na ‘n jaar of tien saam met jou kinders te gaan kyk hoe die boom in daardie tyd grootgeword het, al was julle nie altyd daar om dit raak te sien nie.
Laerskoolkinders
Op hierdie ouderdom hou kinders baie daarvan om tyd in ‘n natuurlike omgewing deur te bring.
Dis ooglopend wanneer jy ‘n jong kind dophou wanneer hy op die strand rondhardloop of kaalvoet op die gras speel. Op hierdie ouderdom is kinders ook gereed om staptogte mee te maak. Dit skep wonderlike herinneringe en op so ‘n staptog kan ‘n kind soveel van die natuur leer, hoor, ruik en ervaar.
Dis ook ‘n ideale geleentheid om die voorbeeld te stel om niks behalwe jou voetspore in die natuur agter te laat nie.
Kinders van hierdie ouderdom sal ook al in staat wees om ‘n kruietuin in die agterplaas aan die gang te hou. Op hierdie wyse kan ‘n kind sien hoe elke plant teen sy eie tempo groei. Begin ook sommer met jou kind se hulp ‘n komposhoop om die noodsaaklikheid van herwinning aan te moedig. Dan kan jou kind sy eie kruie en groentetuin bemes met kompos wat vanuit die komposhoop verkry word.
Groter laerskoolkinders
Jou kind sal teen graad 5 vir uitgebreide besoeke aan die natuur gereed wees.
Dis geweldig lekker vir so kind om te gaan kamp en ‘n natuurklub is ‘n ideale manier om sulke geleenthede aan jou kind te bied, veral as julle in ‘n stad woon en kampeergeleenthede skaars is.
Dis sal ook vir hom baie lekker wees om aantekeninge te maak van wat hy sien, hoor en voel wanneer hy in die natuur is. Voorsien jou kind van ‘n joernaal waarin hy aantekeninge kan maak, sketse kan teken en blommetjies en blare kan droog. Koop ‘n gids van voëlsoorte wat jou kind kan gebruik om rekord te hou van al die voëlsoorte wat hy opmerk.
Wanneer ‘n kind die verskil weet tussen ‘n rooibok en ‘n springbok, kan ’n besoek aan die wildtuin baie meer opwindend word. Gee hom die geleentheid om vir die gesin meer van al die spesies te vertel. ‘n Gids met inligting oor soogdiere kan hier uiters nuttig wees.
Hierdie ouderdom is ook die ideale tyd om ‘n kind aan te moedig om aktief “groen” te begin dink. Moedig hom aan om te help herwin, maak saam gedeeltes van ‘n sypaadjie skoon, help by ‘n hawe vir diere sonder ‘n heenkome. Wanneer gewoontes op hierdie onderom vasgelê word, sal jou kind lewenslank vir die omgewing omgee.
Praktiese doendinge
• Maak jou tuin ‘n plek waar jou kind die natuur kan ontdek.
• Soek saam met jou kind na verskillende soorte blare. Kyk na die vorms, voel die growwe of gladde kante van die blare.
• Kyk onder klippe vir goggas en tel hoeveel verskillende soorte jy kan sien. Kyk hoe die wurmpies kruip en die goggas in bondeltjies oprol, sonder om hulle seer te maak.
• Kyk hoe spring die sprinkane of krieke.
• Moedig jou kind aan om dinge in die natuur te begin raaksien.
• Gaan lê saam met jou kind in die tuin en kyk na die verskillende vorms wat die wolke aanneem.
• Kyk hoe die wolke voor ‘n donderstorm saampak.
• Gaan loop in die water ná ‘n reënbui. Ruik die reën en sien hoe die voëltjies hulle in die natuur se seëning verheug. Kyk of daar ‘n reënboog iewers is.
• Word ‘n ywerige voëlkyker en maak jou tuin voëlvriendelik met ‘n voëlbad op ‘n beskutte plek. Plaas saadjies op ‘n plek waar julle kan kyk hoe die voëltjies eet. Plaas vrugte uit vir die vrugte-eters en lok só hierdie pragtige, dikwels kleurryke, voëlspesies na jou tuin.
• Wys vir jou kind wanneer jy ‘n formasie voëls in die lug opmerk. Wys aan hom hoe die swaeltjies op die draad vergader voor hulle na die warmer dele vertrek. Hou dop wanneer die swaeltjies weer terugkom – gewoonlik een van die eerste tekens dat die somer weer op pad is.
Gebruik boeke
Boeke is ‘n ideale manier om jou peuter aan die diereryk bekend te stel. Begin met eenvoudige boeke wat pragtige foto’s van bekende diere bevat. Later kan jy meer eksotiese en vreemder spesies op hierdie manier aan hom bekend stel. Kleuters hou veral van boeke oor diere en hul babas of boeke oor kinders en diere.