Die meeste ouers wens seker vir dieselfde ding: om hul kinders gelukkig te sien. Dalk kan hierdie stappe help …
Wat is die ding wat jy die graagste vir jou kind wil gee? Dis moontlik nie die jongste PlayStation nie, maar eerder iets soos geluk, liefde en aandag?
Skrywer Christine Carter skryf in haar boek, vir ouers is die welstand van hul kinders belangriker as omtrent enigiets anders in hul lewe.
Ons lees konstant hoe jy jou kind kan help om slimmer te word en jou kind meer sosiaal-aangepas te maak, maar lees ons genoeg oor hoe om ons kinders gelukkig te maak?
En hier praat ‘n mens nie van die jongste iPhone vir jou tiener of Paw Patrol-speelding vir jou kleuter nie, dit gaan oor dit wat kinders nodig het om volhoubaar gelukkig te wees.
Gelukkige kinders sal bes moontlik eendag gelukkige, goed aangepaste volwassenes wees.
Hier’s ‘n paar stappe uit Christine se boek wat jou kan help.
STAP 1: Word self gelukkig
Verskeie studies het al bevind dat daar ‘n verband bestaan tussen ma’s wat depressief en negatief is en hul kinders se vlak van geluk. Volgens statistiek behoort gelukkige ouers gelukkige kinders te hê hoewel daar nie ‘n genetiese komponent betrokke is nie.
Wat kan jy doen?
1. Lag meer. Dis aansteeklik!
2. Kry hulp as jy voel dat jy dinge nie kan hanteer nie.
3. Moenie jou negatiewe emosies op jou kinders uithaal nie.
STAP 2: Leer hulle hoe om verhoudings te bou
‘n Mens sê maklik vir kinders om op te hou stry, maar leer ons hulle hoe om regtig verhoudings te bou?
Moedig jou kinders aan om goed vir ander te wees en om empatie met ander te toon. Vertel vir hulle van ander mense se swaarkry en leer hulle om ander te help.
Dit is goed vir jou psige as jy ander mense help. Lyers van veelvuldige sklerose is byvoorbeeld opgelei om ander lyers by te staan en hulle het self merkbare voordele ervaar – en is so teen angstigheid en depressie beskerm.
STAP 3: Moenie ‘n perfekte kind verwag nie
Ons wil almal hê ons kinders moet goed op skool vaar, maar verwag jy te veel van jou kind? Is hul pogings dalk nooit goed genoeg nie omdat jy die sportster op skool of onder die toptien was?
Kinders wil raakgesien word en wil erken word. Prys jou kind omdat hy of sy hard probeer en sy of haar beste doen. Dit behoort goed genoeg vir jou te wees. ‘n Studie het bewys dat as ‘n mens jou kinders vir hulp probeerslag prys, sal hulle aanhou probeer en hard werk.
STAP 4: Leer jou kind om optimisties te wees
Tienjariges wat geleer word hoe om optimisties na die wêreld te kyk, is minder geneig tot depressie as hulle deur puberteit worstel. Skrywer Christine Carter sê optimisme en geluk is familie van mekaar. Leer deur jou voorbeeld. Dinge in ons land gaan nie aldag goed nie, maar probeer om nie net negatief te praat nie, maar ook met hoop.
STAP 5: Leer jou kind wat emosionele intelligensie beteken
Die eerste stap hier is om empatie met jou kind se probleme te toon, dit te erken en dit geldig te verklaar. Wat beteken dit? As jou kind kwaad is, erken die emosie: “Jaco, ek sien jy is kwaad. Hoekom? Vertel my wat presies gebeur het.” Jou kind moet weet dit is oukei om emosies te toon en dit gevolglik te hanteer.
STAP 6: Leer jou kind wat selfdissipline is
Help jou kind om te leer hoe om vir iets te wag en geduldig te bly.
STAP 7: Speel saam!
Speel saam met jou kinders en laat genoeg tyd vir jou kinders om ongestruktureerd en spontaan te speel. Navorsers glo kinders se kognitiewe en emosionele ontwikkeling bly agterweë as hulle nie genoeg speel nie.
STAP 8: Skep ‘n gelukkige omgewing
Jou omgewing beïnvloed jou, dis so eenvoudig soos dit. Beheer jou kind se omgewing met ‘n paar maklike stappe. Verminder TV-tyd en doen dinge as gesin saam. Eet saam. Dit klink seker geyk, maar dis baie belangrik vir gesinne om saam te eet en te gesels. ‘n Studie het al gewys dat kinders wat gereeld saam met hul gesinne eet emosioneel stabieler is en minder geneig is om in die toekoms alkohol en dwelms te misbruik.
BRONNE: www.bakadesuyo.com, Raising Happiness: 10 Simple Steps for More Joyful Kids and Happier Parents (Amazon.com)