Kennis is mag, maar houding is kernkrag, sê Janene Visser en Christel du Toit van Divorcesmart101. Hulle gesels dié week oor mediasie en ‘n ouerskapplan
Mediasie tydens egskeiding gaan daaroor om die beste oplossing vir jou, jou toekomstige eks en die belangrikste, jul kinders, te vind.
Tydens mediasie vergader jy en jou eggenoot met ‘n neutrale derde party, die bemiddelaar, en met sy hulp werk julle deur enige kwessies wat opgelos moet word sodat julle die huwelik so vriendskaplik en koste-effektief as moontlik kan beëindig.
Kwessies wat onder meer bespreek word, is …
· … verdeling van bates en laste.
· … beheer en toesig oor kinders.
· … kinderonderhoudstoelae/onderhoud.
· … aftrede.
‘n Ooreenkoms met betrekking tot bogenoemde word dan bereik. Soms is dit ‘n vinnige proses, maar ander kere neem dit baie tyd en werk. Dit is die werk van die bemiddelaar om die kommunikasie-kanale oop te hou, idees te bespreek, empatie te bewerkstelling en met besluitneming te help.
Mediasie is buigsaam en konfidensieel. Dit gee aan egpare die geleentheid om konflik tussen mekaar op te los sodat hulle steeds as ouers kan saamwerk.
OUERSKAPPLAN
Vanaf April 2010 moet elke egskeiding waar minderjarige kinders betrokke is, ingevolge Artikel 33 en 34 van die Kinderwet ’n ouerskapplan saam met hul skikkingsooreenkoms indien.
n Ouerskapplan is ‘n dokument wat opgestel word waarin bepaal word hoe julle as ouers jul gesamentlike verantwoordelikhede en regte gaan uitoefen. Dit kan as ‘n brug gesien word wat jul twee huishoudings verbind.
Wat word alles ingesluit?
· Enige aangeleentheid in verband met ouerlike regte en verantwoordelikhede.
· Waar en by wie die kind moet woon.
· Kontak tussen die kinders en ouers of enige ander persoon soos grootouers.
· Kinderonderhoud.
· Skoolopleiding.
· Godsdienstige opvoeding.
Wie stel ‘n ouerskapplan op?
Wetgewing maak vir twee moontlike prosesse voorsiening. Die ouerskapplan kan opgestel word met die bystand van:
1) ‘n gesinsadvokaat, maatskaplike werker, sielkundige of
2) ander gepaste gekwalifiseerde persoon.
Dit moet aan ‘n paar vereistes voldoen:
· Dit moet die beste belange van die kind voorhou soos in die Kinderwet uiteengesit.
· Dit moet op skrif wees en deur die partye onderteken wees.
· Dit moet by ‘n gesinsadvokaat geregistreer wees of ‘n hofbevel moet gemaak word.
Onthou: ‘n Ouerskapplan wat by die hof geregistreer is, is ‘n hofbevel en onderhewig aan dieselfde reëls as enige ander hofbevel. Dit beteken verder dat die hof genader kan word as die bepalings van die plan oortree word.
‘n Ouerskapplan wat ‘n hofbevel is, kan alleenlik deur ‘n ander hofbevel gewysig of beëindig word op aansoek deur die medebesitters van ouerlike regte tot die plan.