Die geskiedenis van die romankuns is baie soos ‘n afloswedloop, sê Willie Burger
Die romankuns kan nie beskou word as die uitvinding of besit van een persoon of van een spesifieke taalgroep of nasie nie. In die vorige aflewerings het ons reeds daarop gewys dat die roman se ontstaan meestal met die werk van die Spaanse skrywer Cervantes uit die 17de eeu en van die Franse skrywer Rabelais uit die 16de eeu verbind word. Volgens die Tsjeggiese skrywer Milan Kundera is die roman ’n Europese kunsvorm wat juis aanvanklik ontwikkel het weens die verskeidenheid tale, kulture en lande waaruit Europa bestaan. Hierdie lande het telkens gedurende die afgelope eeue hul onafhanklikheid verower, verloor en herower en dié geskiedenis het ’n vormende invloed op die mense van Europa gehad. Omdat die mense in elke gebied in Europa vanweë hul verskillende belewenisse verskillende beskouings van die wêreld het, is daar telkens op ander maniere in die kunste aan hul ervarings en beskouings oor die bestaan uitdrukking gegee. Die uiteenlopende ervarings in verskillende streke, tale en kulture vorm juis ’n bron van voortdurende inspirasie, vernuwing en veranderings aan ’n kunsvorm soos die roman. Gevolglik is die geskiedenis van die romankuns vir Kundera baie soos ’n aflosresies. Die aflosstok van die romankuns word van Cervantes uit Spanje in die 17de eeu veral deur Engelse skrywers oorgeneem. William Defoe, Samuel Richardson en Henry Fielding word meestal beskou as die skrywers wat die belangrikste bydrae tot die ontwikkeling van die romankuns in die 18de eeu gelewer het. Die taal waarin veral Defoe en Richardson geskryf het, het radikaal weggebreek van die digterlike taal van hul voorgangers. Hul karakters soos Robinson Crusoe, Moll Flanders of Pamela Andrews is gewone mense wat in alledaagse spreektaal praat en beskryf word. Hierdie skrywers het talle van die tegnieke begin gebruik waardeur ’n gevoel van realisme in romans geskep word. Enkele voorbeelde hiervan is om met die beskrywing van fyn besonderhede ’n oortuigende wêreld vir die leser te skep of om die verhaal deur die gebruik van dagboeke of briewe, wat as outentieke dokumente voorgestel word, te vertel. Groot klem val op karakters se innerlike emosies (veral Richardson) en om karakters deur hul handelinge kenbaar te maak (Defoe). Die baanbrekerswerk van Defoe, Richardson en Fielding is nie ná 1770 juis baie in die Engelse literatuur verruim nie. Ian Watt skryf in sy invloedryke boek The Rise of the Novel oor die romankuns in England: “With only a few exceptions the fiction of the last half of the eighteenth century (…) had little intrinsic merit.” Hy meen dat die meeste skrywers toe bloot geskryf het om in die lesende publiek se “uncritical demand for easy vicarious indulgence in sentiment and romance” te voorsien. Dit was tyd vir iemand anders om die aflosstok oor te neem. Teen die einde van die 18de eeu is die Duitse skrywers (by uitstrek Goethe) daarvoor verantwoordelik dat die romankuns verdere moontlikhede ontdek. In die 19de eeu word Franse skrywers soos Honoré de Balzac en Gustave Flaubert toonaangewend in die vernuwing van die roman as genre en aan die einde van die 19de eeu staan die werk van die Russiese skrywers Fyodor Dostojefski en Leo Tolstoi sentraal. Vroeg in die 20ste eeu gee skrywers uit Sentraal-Europa Franz Kafka, Robert Musil, Hermann Broch, Witold Gombrowicz die toon aan, maar geleidelik neem skrywers van buite Europa die aflosstok oor: Vernuwings in die romanvorm kom in die 1920’s en 30’s uit Noord-Amerika en sedert die 1960’s is veral die romans uit Latyns-Amerika op die voorpunt terwyl ook Indiese skrywers soos Salman Rushdie ’n al groter rol speel. Die roman is vandag as kunsvorm nie meer tot die Europese wêreld beperk nie – die Empire het begin terugskryf. En die voortdurende ontwikkelings en veranderings in die romankuns is waarskynlik grootliks te danke aan skrywers wat telkens uit ander streke en in ander tale ander moontlikhede vir die romankuns ontdek.