Willie Burger kyk na die poësie van Ingrid Jonker
Om presies te verduidelik wat poësie is, is nie maklik nie. Daarvan getuig die talle uiteenlopende definisies van die digkuns wat al oor eeue heen geformuleer is. Opvattings oor wat poësie eintlik is, verskuif met verloop van tyd en hang af van wie dit formuleer.
Die meeste mense se idee van wat poësie is, is waarskynlik gegrond op die voorbeelde van die digkuns wat op skool aan hulle voorgehou is. Daardie verse waaraan ’n mens op ’n jong ouderdom blootgestel is; wanneer jy vir die eerste keer van die krag van woorde wat op ’n bepaalde manier ingespan is, bewus word, vorm waarskynlik onwillekeurig die standaard waaraan poësie vir jou moet voldoen.
Natuuurlik verander hierdie idees later soos wat ’n mens aan ’n wyer verskeidenheid gedigte blootgestel word. Soms ontdek jy dat ’n digter jou verwagtings heeltemal verander en al die vorige verse wat jy geken het sommer heeltemal laat vervaag. Die gedigte van Ingrid Jonker is vir baie Afrikaanse lesers by uitstek die beeld van wat poëisie eintlik is. Haar gedigte tref ’n mens reeds die eerste keer wat jy aan hulle blootsgestel word met hul eenvoud, kinderlike eerlikheid en varsheid. Maar hulle bly ’n mens steeds boei met hul oorrompelende liriese kwaliteit en onthutsende beelde en ’n kompleksiteit wat agter die oënskynlike eenvoud versteek is.
Geen ander Afrikaanse digter het met so min gedigte so ’n groot impak gemaak nie – soos Louise Viljoen in haar biografie oor Jonker geskryf het: Jonker se gedigte maak ’n sterk aanspraak op poësieliefhebbers en op poësievermyders. Telkens word haar gedigte gesing, aangehaal, voorgedra, voorgeskryf en deur nuwe lesers herontdek. Jonker se versamelde gedigte is nou Willie Burger kyk na die poësie van Ingrid Jonker weer in ’n nuwe formaat deur Human & Rousseau uitgegee. Dit is ’n besonder mooi boek: hardeblad met ’n stofomslag waarop ’n foto van ’n gelukkige glimlaggende Ingrid Jonker verskyn en met ’n rooi lint om jou plek te hou.
Eintlik het Jonker, wat op 31-jarige ouderdom dood is, min gedigte nagelaat. Slegs twee bundels het in haar lewe verskyn, Ontvlugting en Rook en Oker, terwyl Kantelson postuum verskyn het. Benewens die gedigte uit hierdie drie bundels, is daar ook ’n klompie gedigte wat onder die titel “jeugwerk” in hierdie Versamelde gedigte opgeneem is asook ’n klompie nagelate verse onder die afdeling: Fragmente en opdragte. In sy outobiografie, ’n Vurk in die pad, skryf André Brink in die hoofstuk wat aan Ingrid Jonker gewy is, dat daar ’n hele “industrie” rondom Jonker se dood ontstaan het. Hierdie Versamelde gedigte kan sekerlik ook as deel daarvan gesien word.
Verlede jaar is die korrespondensie tussen Jonker en André Brink uitgegee (Vlam in die sneeu) wat opnuut die belangstelling in Jonker se werk laat opvlam het en ’n mens sou kon sê dat die uitgewers op die rug daarvan ’n bemarkingsmoontlikheid gesien het om ’n nuwe uitgawe uit te gee, ten spyte daarvan dat daar al tevore herdrukke van haar versamelde werk verskyn het en dit waarskynlik net weer herdruk kon word. Die tydsberekening is ook perfek – reg vir die Kersmark!
Ten spyte van so ’n siniese opmerking, bly dit ’n baie mooi boek. Iets wat ’n mens graag wil besit – die soort boek wat op jou bedkassie kan bly. Wanneer jy eers die bundel oopmaak en die bekende verse lees, tref dit jou opnuut dat hierdie gedigte waarskynlik ’n groot rol in die vorming van jou opvattings oor poësie gespeel het. Soms raak mense so vasgevang in die tragiese of sensasionele aspekte van Jonker se kort lewe dat hulle vergeet om die gedigte self te lees, of lees hulle die gedigte slegs in die lig van daardie enigsins droewige lewensverhaal.
Daarom is Danie Marais se woorde op die stofomslag besonder betekenisvol as hy oor hierdie bundel opmerk: “Die verse in Versmelde gedigte is die steeds lewende, ademende bewys dat die beduidende kunstenaars skep ten spyte van verlies, trauma en geestesongesteldheid en nie gewoon as die direkte gevolg daarvan nie – anders sou goeie poësie so volop soos trane gewees het”
Ramkietjieliedjie
Net waar ek gaan
Is ’n pad voor my oop
Wat skerp uit my oë
Soos ’n litteken loop
Hoe die dag ook verblou
Of rooikam om my
Ek volg net my hartseer
En die naambord is jy.
Lees gerus ook Louise Viljoen se “sakbiografie” Ingrid Jonker, wat in 2012 deur Jacana uitgegee is, vir ’n bondige en boeiende bespreking van Jonker se onvaspenbare lewe en werk