Benodigdhede
Elle Premier Natural Cotton-vierdraad
(50 g-bolle): 3 balle lemmetjiegroen,
1 bal ligpienk en 1 bal donkerpienk
3 mm-hekelpen
30 cm stewige groen voeringmateriaal
Bietjie stopsel
Grootte
20 cm x 20 cm
Afkortings
gs – glipsteek
h/af – heg af
herh – herhaal
hlb – halflangbeen
kb – kortbeen
ks – kettingsteek
lb – langbeen
rdte – rondte
sp – spasie
st(e) – steek (steke)
tr – trossie
vlg – volgende
Aanwysings
Blomme (hekel 12)
Met ligpienk, hekel 4 ks, gs in 1e ks om
ring te vorm.
Rdte 1: 1ks, 12 kb in ring, gs in 1e kb.
Rdte 2: (3 ks, 2 lb-tr in vlg kb, 3 ks, gs in vlg kb) 6 keer, gs in vlg kb (= 6 blaartjies). H/af.
Rdte 3: Die rdte word met donkerpienk aan die agterkant van die blom gehekel. Steek die pen deur die 2 ste aan die agterkant en aan die onderkant tussen die blaartjies in en hekel 1 kb, (4 ks, 1 kb tussen die vlg 2 blaartjies) 5 keer, 4 ks, gs in 1e kb.
Rdte 4: (1 kb, 1 hlb, 5 lb, 1 hlb, 1 kb) in elke 4 ks-sp, eindig met gs in 1e kb. H/af.
Groen sak
Met 3 mm-hekelpen en lemmetjiegroen, begin met 53 ks.
Ry 1: 1 kb in 2e ks vanaf pen, 1 kb in elke ks (= 52 kb).
Ry 2: 1 ks, 1 kb in elke kb. Her ry 2 tot 114 rye voltooi is. H/af. Werk die blomme aan die sak vas, slegs tot by ry 52.
Sypanele (hekel 2)
Begin met 11 ks.
Ry 1: 1 kb in 2e ks vanaf pen, 1 kb in elke ks (= 10 kb).
Ry 2: 1 ks, 1 kb in elke kb. Her ry 2 totdat 52 rye voltooi is. Moenie afheg nie. Steek die sypanele aan die kante van die sak vas. Hekel met kb deur albei diktes aan mekaar vas.
Randjie
Begin by die sypaneel. 1 kb in sypaneel, * slaan 2 ste oor, 6 lb in vlg st, slaan 2 ste oor, 1 kb in vlg st *, herh van * tot * tot einde, gs in 1e kb. H/af.
Handvatsels (hekel 2)
Begin met 7 ks, gs in 1e ks om ring te vorm. 1 ks, 1 kb in elke ks, moenie met gs eindig nie, maar gaan net voort met 1 kb in elke kb al in die rondte totdat die pypie 26 cm lank is. H/af. Werk die een punt van die pypie toe en stop dit liggies op. Sorg dat die punte nie styf gestop is nie.
Afwerking
1 Steek die handvatsels aan die bo- en binnekant van die voor- en agterkant van die sak, 6 cm van die kant af, vas en werk vas.
2 Knip 1 pant van 40 cm x 28 cm uit die voeringmateriaal.
3 Vou die voeringstrook met regte kante op mekaar en stik die synate vas.
4 Stik die basishoeke (sien skets) en dop die voeringsakkie om.
5 Plaas die voeringsak in die gehekelde sak en vou ’n klein soompie aan die borand na buite.
6 Steek vas en werk met klein stekies aan die gehekelde sak vas.
Karen, ook bekend as die koninging van hekel, het al 18 handwerkboeke vanaf 2008 uitgegee. Sy het al oraloor SA gereis om entoesiaste die kuns van hekel te leer. Haar werk het haar al vele radio- en televisiewerk asook tydskrifartikels besorg. Haar hooffokus as ʼn ontwerper is haar gereelde bydraes aan verskeie tydskrifte, sosiale media platforms en haar blog, A Hankidoriday – my beautiful chaos.