My tannie Hester (84) is my rolmodel van hoe ’n mens moet oud word. Sy sit nooit stil nie – altyd bedrywig met hekel- of breiwerk, om vrugte of groente in te lê en te verwerk en om vetkoek by die dosyne te bak.
Deur: Christa Swanepoel
Sy vertel toe dié kostelike storie: Sy sien ’n yslike en duursame pot wat die vetkoekbakkery baie makliker sal maak en noem aan ‘n vriendin dat sy dit oorweeg om hierdie baie duur pot aan te skaf. Sal die vrou nie vir haar die volgende sê nie: “Jong, moet jy op jou ouderdom so ‘n duur pot koop? Gaan jy ooit die waarde daaruit kry …?”
Dis al vyf jaar terug en tannie Hester het sedertdien seker al honderde dosyne vetkoek gebak.
LEES OOK: Die gemaskerde breier: Tuinwerk
Omdat my aftreedatum om die draai is, dink ek ook baie aan oudword. Doen ‘n mens van nou af baie goed die laaste keer? Het ek my laaste kar gekoop? Gaan ek hierdie jaar vir die laaste keer (danksy Vrouekeur en Seagull Toere) oorsee? Gaan ek ooit die berge wol wat ek het, opgebrei kry voor die artritis my vingers krom trek? Gaan ek nog War and Peace gelees kry voor my oë ingee? Gaan ek my kleinkinders as tieners beleef? Moet ek daai mooi nuwe eetstel koop of maar deurdruk met wat ek het?
My ma (wat net so aan die gang was), het altyd gesê sy sal nooit lank genoeg leef vir wat sy nog alles wil doen nie. En sy het ook nie, want sy is op 51 jaar oorlede. My pa is nou kort eers op 94 jaar oorlede. Nou dink ek net hoeveel vetkoeke tannie Hester in die volgende tien jaar nog kan bak en hoeveel keer sy al daardie pot kon teruggewerk het.
Hoe dit ook al sy, ‘n mens moet seker elke dag leef asof dit jou laaste is, maar ook nie ophou leef voor jy die dag jou kop neerlê nie. My ouma (wat 91 geword het) het immers in haar laaste jare nog ‘n avokadopit geplant … Net dalk sien jy die boom opkom en groei. So maak daardie kopskuif en sê dankie vir die genade van elke nuwe dag.
So verskoon my, ek moet gaan wol koop en net vanaand pak ek War en Peace …
Ouma se blokkie
Maak 5 ks en gs in eerste st om ring te vorm.
1ste rdte: 2 ks, maak 11 lb in ring, gs in 2de ks aan beg. 12 lb.
2de rdte: 2 ks, (2 lb, 2 ks, 2 lb) in vlg lb, *1 lb in vlg lb, (2 lb, 2 ks, 2 lb) in vlg lb, herh van * rondom, gs in 2de ks aan beg.
3de rdte: 2 ks, 1 lb in vlg lb, slaan 1 lb oor, *(2 lb, 2 ks, 2 lb) in 2 ks-sp, slaan 1 lb oor, 1 lb in elk van vlg 3 lb, slaan 1 lb oor, herh van * rondom, eindig met slaan 1 lb oor, 1 lb in vlg lb, gs in 2de ks aan beg.
Wenk
Jy kan seshoeke so groot maak as wat jy wil deur in elke volgende rondte tussen hoek-groepe 2 lb meer te maak.
Christa is sedert Oktober 1999 deel van die Vrouekeur-span en geniet steeds elke dag haar werk as taalversorger. Sy is mal oor haar kinders, kleinkinders, brei en lees en sommer die lewe in die algemeen. Sy moet net keer …