In die Vrouekeur-uitgawe van 17 Januarie het ons jou geleer hoe om steke op te stel, regs te brei en af te eindig. Vandeesweek wys ons jou hoe om aweregs te brei en twee steke tesame te brei om steke te verminder
Moeilikheidsgraad: *
As jy steke kan opstel, regs en aweregs kan brei en kan afeindig, kan jy brei. Ek stel voor jy stel 20 steke op en brei ’n paar sentimeter tot jy gemaklik voel en jy die spanning kan beheer.As jy bogenoemde steke geoefen het, kan jy die poppies of beertjie in die voorbeeld brei. Jy kan met 4-draad, dubbeldraad (DK) of Chunky-breidraad brei. Die poppies sal dan net verskillende groottes wees. Kies 5 kleure vir die skoene, broek, top, gesig en hare onderskeidelik.
Brei aweregs (aw)
1 Hou die naald met die steke wat jy opgestel het in jou linkerhand en steek die naald in jou regterhand deur die eerste steek op die linkerkantste naald, maar van agter na voor sodat die linkerkantste naald se punt na voor uitsteek (foto 1).
2 Haak die breidraad met jou wysvinger antikloksgewys om die punt van die regterkantste naald (foto 2), bring die naald af en trek die breidraad deur die steek op die linkerkantste naald na agter deur (foto 3) en stoot die vorige steek van jou naald af. Jy het nou een steek aweregs gebrei.
3 Herhaal met al die ander steke op die linkerkantste naald.
Brei twee steke tesame (r2tes)
Steek die regterkantste naald van voor na agter deur twee steke gelyktydig op linkerkantste naald (foto 4) en brei regs soos tevore (foto 5), stoot albei ste van die naald af (foto 6) – jy het nou net een steek op jou regterkantste naald.
Verskillende steeksoorte
1 As jy elke ry regs brei, word dit reksteek (rs) genoem.
2 As jy die eerste ry regs brei en die tweede ry aweregs en dit herhaal, word dit koussteek (ks) genoem (foto 7).
Heg af
1 Brei eerste steek regs, brei tweede steek regs en trek eerste steek oor tweede steek en van die naald af. Herhaal tot laaste steek. Breek draad af en trek die draad deur die laaste lus.
Brei ’n poppie of beertjie
Brei van onder na bo.
1 Vir skoene stel 32 ste op en brei vier rye ks.
2 Vir broek brei 16 rye ks.
3 Vir top brei 14 rye ks.
4 Vir gesig brei 8 rye ks.
Vir beertjie se kop
5 Brei nog agt rye ks en heg af.
Vir poppie se mus of hare
5 Brei nog 4 rye ks.
Vlg ry: r1, (r4, r2tes) tot laaste st, r1. 27 ste.
Vlg en elke alternatiewe ry: aw.
Vlg ry: r1, (r3, r2tes) tot laaste st, r1. 22 ste.
Vlg ry: r1, (r2, r2tes) tot laaste st, r1. 17 ste.
Vlg ry: r1, (r1 r2tes) tot laaste st, r1. 12 ste.
Vlg ry: r1, (r2tes) tot laaste st, r1. 7 ste. Breek draad lank af, ryg met naald deur steke op naald, trek dit styf en werk vas.
Voltooi
Werk beertjie se kop bo toe en met naat agter werk beertjie of poppie tot onder toe en stop op. Werk onderkant toe. Werk van voor tot agter van onder af deur om skoene en bene te vorm en ook van middel af aan die kante na bo om arms te vorm. Ryg draad om nekgedeelte en trek stywer. Werk ogies en mond op. Versier nou mussie of hare soos verkies. Werk ‘n stekie onder hoeke om beertjie se ore te vorm.
Christa is sedert Oktober 1999 deel van die Vrouekeur-span en geniet steeds elke dag haar werk as taalversorger. Sy is mal oor haar kinders, kleinkinders, brei en lees en sommer die lewe in die algemeen. Sy moet net keer …